17 dae gelede
Dit blyk gou prof. De Boa het vir als voorsorg getref
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van SALMON SMITH genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 7.

‘MORGAN Setera, jy is nou ’n mens met superkragte,” sê prof. Johannes de Boa.

“Jou kragte is ver bo dié van normale mense. Met daardie kragte kan jy enige iets vermag, selfs wraak neem vir die moord op jou gesin.”

Toe Morgan Setera dié woorde hoor, spring hy regop en sy oë spoeg vuur. “Hoe de donner kan ek wraak neem as ek nie weet wie my gesin vermoor het nie!” gil hy dit uit.

Hy klem sy hande in vuiste saam. “Ek kon nie die gesigte van die moordenaars in my visioen sien nie! Ek kon net sien hoe my vrou en dogter en … ek … vermoor word deur sulke skaduagtige figure!”

De Boa hou sy hand in ’n stopgebaar in die lug.

“Asseblief, bedaar, Morgan Setera. Ek het ’n vermoede wie vir daardie gruweldaad in jou huis verantwoordelik is.”

Setera kyk De Boa vraend aan. Hy ontspan merkbaar en sy hande vou weer oop. “H-hoe bedoel jy nou?!” hyg hy dit uit.

De Boa verdwyn vinnig by ’n kamer in en kom met ’n koerant uit. “Die polisie kon tot in hierdie stadium niemand link met jou gesin se moord nie.”

De Boa sit die koerant voor Setera op ’n tafeltjie neer. Hy tik op die voorblad en vestig Setera se aandag daarop.

“Dié koerant het uitgekom op die dag dat die moorde gepleeg is. En kyk ’n bietjie na die voorblad-artikel.”

Setera vestig nou sy aandag op die voorblad van die koerant hier voor hom.

Meteens voel dit of iemand hom met ’n skoot yswater in sy gesig skiet. Sy oë rek pieringgroot en hy trek sy asem skerp in toe hy die persoon op die voorblad herken en dít sy onderbewussyn ontsluit.

“Terror Gambino!” hyg hy dit uit. Sy gesig raak onmiddellik graniethard. Hy draai sy gesig na prof. De Boa en sy oë skiet vuur.

“Dit is hý!” spuug hy dit uit. Vir ’n wyle sluit Setera sy oë. Hy sien Terror Gambino se gesig nou duidelik voor hom voordat die skurk hom met die baseball bat toetakel.

Dit lyk ook nou asof ’n lig vir De Boa opgaan.

“Ek het dit lankal vermoed!” sê hy opgewonde. Hy tik op die artikel.

“Toe ek die berig lees van dié boef se vrylating, en veral waar hulle melding maak van jóú, wat hom tronk toe gepos het, toe weet ek dit is hý wat wraak kom neem het.

“Ek kan net nie verstaan hoekom die polisie dit nie as ’n leidraad opgevolg het nie.”

Weer vou Setera sy vuiste saam. “Dit is goed dat die polisie hom nie gearresteer het vir die moord nie. Nou kan ék met hom afreken. Terror Gambino en sy gespuis gaan boet vir hul dade.”

De Boa vryf sy hande ingenome teenmekaar.

“Ja, dit is tyd om daardie krag ten toon te stel wat ek in jou ingeplant het. Ons gaan nou daardie skurke laat les opsê.”

Hy beduie na ’n groterige vertrek.

“Maar eers gaan ons die nodige toetse op jou doen om te sien of al jou bioniese gadgets ten volle werk.”

Setera volg De Boa met breë arms na die vertrek vol gym equipment.

Daar is ’n treadmill, swaar los gewigte, verskillende punching bags en nog vele mediese apparate en monitors.

Setera word aangesê om op die treadmill te klim. Weer word elektrodes met kabels oral aan sy liggaam geplak.

“Ek gaan eers jou spoed meet. Raait, hier gaan ons!” sê De Boa en peuter met ’n skermpie langs die treadmill.

Die loopvlak van die treadmill begin stadig beweeg. Toe raak dit ál vinniger.

De Boa se oë bly gefokus op die hart- en bloeddruklesings en spoedmeter op die monitor teen die muur.

Die spoedlesing gaan later na 70 km/h, maar Setera behou die pas, sonder enige inspanning.

Teen 80 km/h druk De Boa die stopknoppie en laat die masjien stadigaan tot stilstand kom.

Ná nog vele toetse knik prof. De Boa tevrede. Setera se fisieke kragte is tops. Hy kan oor 1 000 kg deadlift en bench press.

Hy kan omtrent 20 m hoog spring en sy reflekse werk teen die spoed van weerlig.

Setera se gehoor is fyn ingestel en die teleskopiese implants in die oë kan selfs die kraters op die maan so duidelik sien asof hulle net ’n paar meter weg is.

Johannes De Boa kom staan voor Setera en kyk hom trots aan.

“Morgan Setera, jy is die sukses van my jare lange harde werk. Ons betree nou ’n nuwe tegnologiese era en Projek Bionies is aan die voorpunt daarvan.

“Jy is nou reg om jou eerste sending aan te pak – om daardie misbaksels te verdelg wat jou gesin van jou weggeneem het.

“Ons twee gaan aan die wêreld wys dat ons dinge kan verander. Jy kan vanuit dié geheime wegkruipplek van ons operate.”

De Boa steek skielik sy hand uit en raak aan Setera se gesig.

“Maar jou gesig sal jou identiteit verraai.

“Volgens die wêreld is jy dood en jou liggaam dalk as moetie gebruik. En ons gaan dit só hou.

“Niemand behalwe ons twee behoort te weet dat jy nog lewe nie.

“Jy sal slegs in die nag uitgaan, toeslaan en dan terugkeer hierheen.”

“Maar mense sal my mos in die nag ook herken!” sê Setera.

Daar speel ’n ligte glimlag om De Boa se mondhoeke.

“Toemaar, ek het aan alles gedink terwyl ek jou hervorm het.”

Die professor draai om en wys na die glaskas wat eenkant in die hoek staan.

“Daar is die kostuum wat ek vir jou gemaak het.

“Dit is van fyn vibraniumskakels gemaak en dis buigbaar.

“Tog kan dit deur geen koeël deurdring word nie.

“Dit bedek jou hele lyf, maar daar is ’n gleufie vir jou oë.”

Setera en De Boa loop na die glaskas toe.

Setera beskou die snaakse swart kostuum wat daar hang van alle kante af.

Van ver af lyk vir dit hom kompleet soos ’n vollengte tight-agtige uitrusting.

Maar toe hy sy teleskopiese oë inspan, sien hy die ragfyn vibraniumskakeltjies waaruit die hele kostuum saamgevleg is.

Dit is ’n meesterstuk uit die hand van ’n kundige.

Hy kyk vol bewondering na prof. De Boa.

“Dit is pragtig,” sê hy. “Jy is seker geen koeël kan dit penetreer nie?”

“Net so! Jy kan dit aantrek en kyk hoe dit aan jou sit.”

Binne minute is Setera in sy kostuum geklee. Hy lyk kompleet soos iemand uit die buitenste ruim.

De Boa haal ’n donkerbril uit ’n houertjie en plaas dit oor Setera se oë.

“Dié high-tech-bril is vir nagvisie. Jy kan dit stel sodat jy in die donkerte kan sien. Om jou sal dit lyk of dit daglig is.”

Dan bring die professor ook ’n meer tradisionele gewaad te voorskyn – ’n lang, swart jas en Stetson.

“Trek dié aan. Dít sal jou kostuum verberg sodat jy darem by die samelewing kan insmelt. Wanneer jy toeslaan, kan jy dit afgooi. Wanneer jy klaar is, kan jy dit weer aantrek.

“Jy sal van nou af bekend staan as Morgan Setera, die bioniese man.

  • “Gaan nou en gaan reken af met daardie gespuis wat jou gesin van jou af weggevat het!” Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters