2 maande gelede
Dis stikdonker, sy’s alleen en sy hoor voetstappe
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se verhaal Die Surprise.

CLORETTA rek haar treë. Haar hart klop so wild dit voel of dit uit haar bors kan spring.

Nog nooit in haar lewe was sy só bang nie.

Haar keel voel so droog soos iemand s’n wat basies weke laas ’n druppel water oor die lippe gehad het.

Gebeur sulke goed dan nie net met ander mense nie?

Wat het sy verkeerd gedoen om dan nou so ’n slegte ding oor te kom?

Sy besef sy sal moet vlug as sy wil bly leef. Sy is nie van plan om ’n maklike teiken vir haar agtervolger te wees nie.

Wie is hy in elk geval en waar kom hy so skielik vandaan?

Het hy die hele tyd hier buite gestaan en wag of was hy ook in die gemeenskapsaal? Het hy in dieselfde ry as sy gesit?

Dié gedagte laat haar sidder.

Hoe lank hou hy haar al dop?

Sy het só baie vrae. En hier bly niemand naby wat nou tot haar redding kan kom nie.

Al gil sy ook, niemand sal haar hoor nie. Veral nie met die sterk wind wat so woes te kere gaan nie.

Die donkerte maak dit moeilik vir haar om te vinnig te loop.

Die grondpad is ongelyk en sy kan dalk net haar voet teen ’n klip of iets stamp.

Sodoende sal die persoon agter haar haar inhaal en wie weet wat met haar doen.

Sy hou nie van geweld nie, veral nie as sy die slagoffer daarvan is nie.

Hoe gaan sy haarself teen die gesiglose vark verdedig?

Volgens die koerante is die moordenaar gewetenloos.

Hy toon geen genade aan sy slagoffers nie. Die wreedheid van sy dade hou selfs sielkundiges aan die raai.

Sy modus operandi bly dieselfde: Hy vermoor jou op een plek en gaan dump jou lyk op ’n ander plek.

Hy ruk sy slagoffers se klere met geweld van hulle lyf en steek hulle propvol gate.

Ál sy slagoffers is sover naak gevind en liederlik lelik geskend.

Eienaardig genoeg maak hy hom nie skuldig aan verkragting nie, want dis die geval met baie reeksmoordenaars oor wie sy al gelees het.

Een verslaggewer het hierdie moordenaar onlangs as uittartend beskryf, as ’n monster wat indirek vir die polisie probeer sê: Vang my as julle kan.

En nou is hy sowaar op haar spoor.

Sy moet konsentreer en probeer om kalm te bly.

Om paniekbevange te raak gaan haar nou beslis niks baat nie. As sy kophou, kan sy dalk net haar agtervolger afskud.

Dalk vat hy net ’n kans en ken hy nie hierdie verlate deel van die wêreld nie.

Net voetgangers gebruik hierdie pad. Dis nie geskik vir voertuie nie.

Waar is Jackson? Hoekom is hy nie hier noudat sy hom nodig het nie?

Sy wonder hoe hy gaan reageer as hy verneem sy het iets oorgekom.

Nee, sy moet positief bly. Op ’n manier moet sy die gevaar probeer ontduik en die beste van ’n slegte situasie probeer maak.

Sy wil nie daaraan dink nie, maar die gesigte van die vermoorde vroue verskyn skielik voor haar geestesoog. Dit maak haar nóg banger.

Dit was elke keer voorbladnuus. Almal was in hulle vroeë twintigs, min of meer haar ouderdom. Hulle almal aantreklik. Almal wás aan­treklik ...

Die jongste lyk is ’n maand gelede erg ontbind in ’n vlak graf gevind.

Kry die moordenaar ’n siek kick daaruit om sy slagoffers so te martel? wonder sy.

Hy kan definitief nie reg wees in sy kop nie, want geen normale mens tree so op nie.

’n Oomblik wens sy dit was moontlik om in sy kop te klim. Sy sal weet wat om te doen as sy weet wat sy volgende beweging gaan wees. Sy wil só nie onverhoeds betrap word nie.

’n Rilling kruip langs haar ruggraat af. Bangmaakgedagtes maal deur haar brein.

Sy wonder of sy weer die son gaan sien opkom. Hoekom het sy besluit om te loop? Kon sy nie iemand gevra het om haar by die huis te gaan aflaai toe Jackson nie sy opwagting gemaak het nie? Dit kom nou van hardegat wees.

Sy het maar van kleins af ’n wil van haar eie gehad.

Sy laat haar deur absoluut niemand vermaak nie.

Cloretta nader ’n lang ry bome. Die enigste geluide wat sy hoor, is dié van die wind en haar eie voetstappe.

Niemand anders s’n nie. ’n Tikkie hoop vlam in haar op. Het sy dalk haar agtervolger afgeskud? Het hy besluit om terug te draai op soek na ’n ander prooi?

Dis stikdonker en miskien sien hy nie kans om langer sy tyd met haar te mors nie. Dis goeie nuus, want nou kan sy met ’n geruste hart verder stap.

Haar ma wonder seker al waar sy is.

Cloretta is op die punt om ’n groot sug van verligting te slaak toe sy ’n koue hand teen haar wang voel.

Sy snak na haar asem ...

CLORETTA se ma is rasend van kommer. Dis byna middernag en haar jongste kind is nog nie by die huis nie.

Sy vind dit vreemd. Die vergadering in die gemeenskapsaal kan tog nie nóú nog aan die gang wees nie. Cloretta sou tog agterna direk huis toe gekom het.

Met ’n vyfde koppie koffie gaan Marie Pynappel op die rusbank sit.

Hoekom sukkel sy so om hierdie vreemde, onrustige gevoel af te skud?

Sy weet nie wat om te dink nie. Sy hoop nie Cloretta het iets oorgekom nie.

Cloretta is gewoonlik die een wat haar help met die kerrievis vir Easter. As iets met haar moet gebeur ...

Wat haar moederhart die meeste bekommer, is dat Cloretta se selfoon net af is.

Dit gaan direk oor na voicemail sonder om te lui.

Dis iets wat absoluut nooit gebeur­ nie.

Marie wil nie onnodig spoke opjaag nie, maar sy dink dit gaan beter wees as sy die polisie in kennis stel.

Sy weier volstrek om so erg treurig te wees soos daai ma van Mitchells Plain wat haar kind eers vyf dae nadat hy verdwyn het, as vermis aangemeld­ het.

Hoe gouer die polisie na haar dogter kan begin soek, hoe beter.

Sy weet nie hoekom nie, maar sy kan aanvoel Cloretta gaan nie vannag in haar eie bed slaap nie.

En daar bestaan by Marie Pyn­appel absoluut geen twyfel dat hierdie vir haar óók ’n slapelose nag gaan wees nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters