15 dae gelede
Dinge werk nie so lekker uit vir Rudy by Nemesis
 ~ 

HAAI, Sonlanders! As Rudy gedink het hy gaan free blyplek by Nemesis score, het hy hom lelik laat gemaak. Skaars word Rudy opgelaai nadat Rachel hom uitgesmyt het, of die houe reën neer op hom. Nemesis is ongenaakbaar. Hy soek die dogtertjie se killer en glo Rudy kan hom info gee om die killer se doppie te laat klap. Geniet nou hoofstuk 5 van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

SPYT kom altyd te laat.Hierdie gedagte spoel deur Rudy se mind toe hy sommerso met die agterkant van sy hempsmou ’n strepie bloed langs sy mond afvee.

Wat het hom besiel om Nemesis te bel? Niemand weet nou waar hy hom bevind nie!

Op Rachel kan hy ook nie staatmaak om die boere te bel nie. Sy het hom dan uitgesmyt en dit duidelik gemaak dat sy niks meer met hom te doen wil hê nie.

Uit die bloute het Nemesis hom begin aanrand. Sommerso in die ry.

Hy wat Rudy is, was so onder pyn dat hy nie eens dopgehou het waarheen hulle ry nie.

Toe hulle uiteindelik stop, het die houe wat so nou en dan op hom neergereën het, ook tot ’n einde gekom.

Van die omgewing rondom hom kon hy egter nie veel uitmaak nie. Nemesis het hom sonder seremonie in die huis ingesleep. Ál waarvan hy bewus was, was die klomp hoë bome rondom hom.

Sy lyf is seer soos wat Nemesis hom trappe af gesleep het. Sommerso never mind aan sy hempskraag.

En nou sit hulle in ’n vertrek wat soos ’n kelder of ’n ding lyk.

Die vertrek is helder verlig en oral rondom hom is daar koerantuitknipsels van vermiste kinders. Sy oog val op die clippings van sy dogter en die vergrote foto van Rowan, sy button buddy.

Nie ver van hom af nie sit Nemesis by ’n lessenaar en staar na sy laptop-skerm. Wat hy lees, weet Rudy nie, maar Nemesis is seker nou al vyf minute besig.

Rudy haal diep asem en sy gesig vertrek van die pyn. Dit voel asof ’n paar ribbes van hom seergekry het.

“Weet jy wat pyn is?” vra Nemesis uit die bloute.

Rudy staar hom met ’n skaap­agtige gesigsuitdrukking aan.

“Pyn is om te weet daar is etters soos jy in die lewe wat nie verdien om ’n ouer te wees nie.

“Ál wat jy moes doen, was om ’n goeie pa vir jou kind te wees. Maar nee, buttons is mos nommer een in jou lewe.”

“Ek het probeer,” prewel Rudy. “Maar dis moeilik as ’n man nie ’n werk kan kr–”

“Ag k*k, man!” val Nemesis hom driftig in die rede. “Jou hele lewe bestaan uit verskonings.

“Op hoërskool het jy meer gebunk as wat jy in die klas was.

“Jou ouers het gepraat, maar jou hoor was die minste.

“In 2015 vang hulle jou met twee chocolates in Usave. ’n Maand in die tronk, want niemand wou jou uitbail nie.

“In 2016 vang hulle jou weer kimbies steel. Nog ’n maand. Jy is skaars buite, toe vang hulle jou met ’n pakkie tik naby Louw se Bos.

“ ’n Klein criminal met ’n klein mindset, dis wat jy is.”

Rudy trek sy asem skerp in.

“Hoe ... hoe ..?”

“Hoe-hoe, vra die uil!” kap Nemesis sarkasties terug.

“Jy is nie hier om vrae te vra nie. Ek het jou mos gesê dat jy ’n taak het wat jou moontlik minder useless sal laat lyk.

“Maar ek kan jou nóú al sê: Jy gaan nie eendag hemel toe nie.

“Die hemel is nie ’n plek vir button-koppe wat nie agter hulle kinders kan kyk nie.

“Vertel my alles wat jy van hierdie Rowan weet, of die bloed vloei weer ...”RACHEL vee ’n traan af toe sy die kar hoor wegtrek.

Rudy het nie veel van ’n fight opgesit nie, maar so ken sy hom.

Sy vermoed al ’n hele rukkie daar sit meer agter Kenzie se verdwyning; dat Rudy nie eerlik met haar was oor die gebeure wat tot haar verdwyning gelei het nie.

Hy kon haar dan nie in die oë kyk nie. En daai Rowan-jong ... Sy kon net nooit vattigheid aan hom kry nie.

Sy sug swaar. Mense gaan natuurlik weer baie eiers lê oor Rudy wat weg is, maar hulle moet maar skinder ...

Sy is seer. Dit voel asof haar hart uit haar borskas geruk is. Sy mis haar lieflingkind, haar noenoes.

Hoe kon Rudy toelaat dat Rowan sommer net so in hulle huis kom en hier rondhang as sy in die werk is?

Nou is hy padop. Nogal in ’n smart kar. Seker weer een of ander drug mert ...

RUDY vee die sweet van sy gesig af.

Dit is glad nie warm nie, maar hy lek water soos ’n stukkende shower.

“Jy praat k*k met my,” ruk Nemesis hom na die werklikheid terug. “Rowan Jooste en jy is koptjommies.

“Toe jy in 2016 in Pollsmoor was, was julle selmaats. Eintlik soul­mates, want Rowan was ’n ou tronkvoël en het hom oor jou ontferm.

“Jy was sy holborsel, het sy klere gewas, sy selfoon en drugs ge-up... alles vir baiteza.

“Die mapusa met wie ek gepraat het, sê dat jy eintlik Rowan se wyfie was.

“Dis hoekom julle so lekker kon kliek toe Rowan heel toevallig daar naby jou kom bly het.

“Toe maak hy maar net weer van jou sy borsel, en betaal jou nie met geld nie, maar met buttons.”

Rudy lek oor sy kurkdroë lippe. “Hoe weet jy al hierdie dinge?” prewel-vra hy.

“Het jy dan gedink wat in Polls­moor happen, bly in Pollsmoor?” kap Nemesis terug.

“Nie dat dit jou besigheid is nie, maar jy was so besig om jou gat te cover dat jy my nie eens daar gesien het nie.

“Anyway, van wat jy my sover vertel het, kan Rowan enige plek wees van die Paarl tot in Koekenaap.

“Maar dit is daai antie van hom wat in Kleinvlei bly wat my die meeste interesseer.

“Vertel gou weer vir my, in watse Bok-straat is daai huis?”

HY SKUIL in ’n donker hoekie en bespied die straat.

Die music klop nog kliphard op Ivor se jaart, waar hy vroeër was. Lank kon hy nie bly nie, want die mense het hom snaaks aangekyk, so asof hulle iets weet.

Maybe is dit sy imagination, maybe not. Hy kan nie die kans waag nie. Wat hy wel weet, is dat daai papbroek van ’n Rudy nie getrust kan word nie.

Hier en daar lees hy ’n koerant, maar ná die nuus van die funeral is daar nog niks anders gesê nie.

Maybe kon die gattas nie die link tussen hom en Rudy maak nie, but you never know.

Maybe moes hy maar daai kind uitgelos het, but die dier in hom is wakker gemaak. Hy sal safe kap, cos why hy’t ’n klompie koeneksins.

Daai f*kk*n Rudy moet net zip kap, want hy wat Rowan Jooste is, likes nie ’n piemper nie ...

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters