13 dae gelede
Die vyf manne se hulp word sommer gou weer ingeroep
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brig. Bernard Sarels het nie gedink daai versoek om bystand by die vredesonderhandelings met die gangsters gaan so lelik uitdraai nie. Genl. Tokwe­ Takana trek behoorlik die brigadier se gesigvel af daaroor. Die Groot Vyf kry ’n versoek om ’n desperate gemeenskap te help. Geniet hoofstuk 8 van “Die Groot Vyf Is Terug” van SALMON SMITH.

BRIGADIER Bernard Sarels staar grootoog na generaal Tokwe Takana terwyl die provinsiale hoof gal af gaan.

Hy het die generaal nog nooit so kwaad gesien nie.

“Die idee om met gangsters en dwelmhandelaars rondom ’n onderhandelingstafel te sit, was onverantwoordelik!” tier Takana voort.

“Jy onderhandel nie met misdadigers nie! Dit is nie die polisie se styl nie!

“Hoe kon jy Operasie Stoppit by dié lawwe idee van Hermanus betrek, brigadier? En dít boonop sonder om my in die saak te ken?

“Jy kon mos voorsien het die ding gaan handuit ruk! Net nou die dag het Die Groot Vyf in ’n videogreep gewaarsku daar word nie met misdadigers onderhandel nie!

“Nou is ag mense dood, my magtag! En julle was dan daar om kwansuis te help met die veiligheidsopset!”

Dit voel vir Sarels asof sy hol sulke happe wil vreet uit die stoel waarop hy sit.

Hy weet nie hoe hy dit het nie. Nog nooit in sy hele polisieloopbaan is sy gesig só afgewas deur ’n senior offisier nie.

Hy besef dat hy nou behoorlik in strontstraat is en daar is niks wat hy daaraan kan doen om dit reg te maak nie.

Toe hy vier dae terug die email vanuit die provinsiale minister van polisie se kantoor ontvang waarin hulle Operasie Stoppit se bystand verlang in die vredesonderhandelingsproses met die gangsters, het hy nie nog gedink dat dit dalk verkeerd kon wees nie.

Hy het eerder gemeen dis ’n skitterende plan van minister Hermanus om vrede in die gemeenskappe te bewerkstellig.

Hy het sommer onmiddellik sy toestemming gegee en fluks gehelp met die opstel van die operasionele plan vir die event.

Nóóit het hy kon dink dat die hele storie so lelik sal backfire nie.

“Hou jou maar reg, Brigadier, die koppe gaan waai hierna!” ruk genl. Takana se stem hom uit sy mymering.

DIE Sondag ná die gebeure by die Bonteheuwel-gemeenskapsaal basuin elke koerant in Suid-Afrika dit uit.

“Slagting by ‘vredesonderhandeling’!”, “Cop-koppe kan waai!” en “Hermanus se posisie in gedrang!” verkondig plakkate dit geniepsig op die lamppale.

Die berigte is deurspek van beskuldigings dat minister Dale Hermanus van beter behoort te weet as om bendeleiers en dwelmhandelaars aan gevaar bloot te stel.

Hy moes tog kon voorsien het dat Die Goot Vyf dalk sou toeslaan ...

In die berigte word ook geen geheim daarvan gemaak dat Hermanus moet pa staan vir die slagting nie. Daar word ook gesê dat grootkoppe in Operasie Stoppit kan waai.

IN HULLE hoofkwartier beraadslaag Die Groot Vyf soos gewoonlik ná ’n slagting oor hulle volgende strategie.

“Dankie, manne, julle het julle goed van julle taak gekwyt. Julle almal was briljant,” prys Brian sy manne.

“Maar laat my toe om ’n spesiale pluimpie te gee aan boeta S, wat sy koeëls met dodelike akkuraatheid deur daardie gemorste se verrotte breins gestuur het.

“Geen koeël is vermors nie. Elkeen het sy teiken presies getref waar ons dit wou hê.

“Daar is tans ’n moerse geveg tussen die staatsdepartemente aan die gang oor dié slagting. Laat hulle maar mekaar uitsort en laat die koppe waai wat moet waai.

“Maar intussen moet ons ons eie missie op koers hou.”

Hy bly ’n oomblik stil en kyk vlugtig na Clint Daniëls.

Dan vervolg hy: “Manne, vir ons volgende missie gaan ons na ’n plek buite die Kaapse Skiereiland. Ons gaan Worcester toe.

“Boeta C vertel hy het vroeër vandag op die sosiale pages gesien hoe die gemeenskap daar in ’n woonbuurt genaamd Avian Park ’n beroep op Die Groot Vyf doen om te kom help met die toenemende geweld daar.

“Daar is glo ’n baie notorious jeuggroep met die naam JCB – die Junior Cisko­ Boys.

“Hulle terroriseer die eens rustige gemeenskap daar. Daar is elke dag ’n skietery tussen hulle en die Dog Trash, wat in die minderheid is.

“Dit is glo nou so erg, die kinders kan nie eens meer skool toe loop sonder om geskiet te word nie.”

“Ja, ek het nou so twee dae tevore ook ’n soortgelyke SMS in die Maan-koerant gesien,” laat hoor Samuel ook van die kant af.

“Iemand met die skuilnaam Gatvol het genoem dat Die Groot Vyf Worcester toe moet kom om die JCB’s en Dog Trash daar te kom uitsort.”

“Ja, dis reg, die mense is gatvol vir die misdaad en nou word ons hulp gevra om die gemors uit te sort,” gaan Brian­ voort.

“Dit is goed dat ons daardie gemeenskappe buite die Kaap ook so ’n bietjie gaan help.

“Ek gaan vanaand in ’n stil internetkafee in Maitland ’n bietjie oor Avian Park navorsing doen.

“Dalk kry ek tips oor die JCB’s en die Dog Trash, soos waar in die gemeenskap hulle strongholds is.

“Ek wil ook ’n straatplan van die plek kry. Môreoggend vroeg beplan ons dan ons aanvalstrategie, dan skiet ons in die middag deur Worcester toe.”

Die volgende middag 16:00 is Die Groot Vyf gereed om in hulle gesteelde SUV die pad te vat.

Hulle het die voertuig weer groen gespray en die nommerplate verander. Net voor ses ry Die Groot Vyf Worcester van Rawsonville se kant af binne.

Almal is gewapen met pistole, behalwe Samuel, wat weer met sy skerpskutter-geweer in die sak langs hom sit. Aan hulle regterkant lê Avian Park.

By die Villiersdorp-pad draai hulle regs en ry stadig aan tot by die verkeersligte.

Daar draai hulle regs tot in Albatrosstraat en trek af.

Brian haal die kaart van Worces­ter uit die paneelkissie om vir oulaas hulle strategie in te dril.

Skielik verskyn ’n klomp weermag- en polisievoertuie wat die gebied van die hoërskool se kant af binnedreun. Die Groot Vyf sit versteen toe ’n weermagvoertuig, gelaai met swaargewapende soldate agter hulle optrek. ’n Polisievoertuig blok hulle voor.

Hulle besef vandag is hulle in groot akkies.

’n Groot polisieman spring uit die voertuig en kom met afgemete treë op hulle afgepyl ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters