25 dae gelede
Die tyd vir aksie het uiteindelik nou aangebreek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katja en die ander meisies is vasgekeer, maar sy besluit sy gaan tot die bitter einde veg. Saul lig Katie en Jaco in hy weet waarheen die skurke die meisies neem en die polisie is op die verkeerde spoor. Saul oortuig hulle toe hy kan die meisies red. Geniet die slothoofstuk van GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal “Die Sterre Bring Hoop”.

‘OUENS, kom kyk hier.” Danie beduie na die grond.

“Hier loop die spoor van ’n voertuig. Dit loop in daardie rigting. Ek wed julle die plaas sit agter daai koppies.”

Soos een man is hulle terug in die bakkie voordat Lukas die stuur in die koppies se rigting swaai.

Hy bring die bakkie reg agter die koppies tot stilstand.

“Ons beweeg te voet hiervandaan. Ek is seker hulle het nou al die bakkie gehoor aankom. Fanie, kry die sak met die wapens,” sê Lukas.

“Is jy reg vir dié ding, Saul?”

“So reg soos ’n roer,” sê Saul.

Hy herleef weer die oomblik toe daardie bliksem hom geskiet het. ? Harde skynsel blink in sy oë toe hy die vuurwapen by Lukas neem.

RADEMEYER kners op sy tande. Hy kan nie glo Katie, van alle mense, het hom belieg nie.

Sy liefde vir die donkerkopvrou het sy denke oorheers.

Hy moes besef het iets is fout toe sy kwansuis alleen met daardie Aberdeen-vent gesels.

“Ek kry hom steeds nie in die hande nie,” breek Katie se stem deur sy gedagtes.

Hy loer na haar in die tru-spieël. In die dowwe lig vertoon die ouderdomslyne op haar gesig dieper.

Daar is ’n onrustigheid in haar oë. Bejammering wel in hom op.

Hy verstaan seker in ’n mate hoekom sy hom bedrieg het. Haar kommer oor Katja het ál haar logiese denke oorskry.

“Probeer aanhoudend totdat jy hom in die hande kry,” sê hy voordat hy terugkyk na die pad.

Hy weet hy moet sy gedagtes wegkry van die donkerkopvrou, maar hy kan homself nie help nie.

Hy wonder oor baie dinge. Soms verbeel hy hom hy sien ’n verlange in haar oë. Of die verlange iets met hom te doen het, is iets wat hom snags wakker hou.

Hy kan sien Katie is gelukkig by Jaco. Jare lank staan hy al op die kantlyn en wag. Vir wat presies weet hy nie. Maar hy glo eendag sal daardie antwoord voor hom staan. Hy sug en trap die petrol­pedaal dieper in.

KATJA beur met haar volle lyf teen die deur. Toe niks gebeur nie, slaan sy gefrustreerd daarteen. Moedeloos sak sy op haar knieë neer.

“Katja?” vra Tessa in die donker. Katja se kop ruk.

Sy kruip in Tessa se rigting.

“Tessa, dankie tog. Ek dog jy word nooit weer wakker nie.”

Sy vind Tessa se hand in die donker.

“Ek probeer die deur van dié kant oopmaak, maar ek sukkel my dood.”

“Kom, ek help jou. Dalk kry ons saam iets reg,” sê Tessa.

’n Oorverdowende knal ego aan die buitekant.

Die skoot klap links verby Saul. Hy duik vir die grond toe ’n volgende een volg. Die vlak bossies bied min skuiling. Hy het die bliksem wragtig te laat gesien.

Lukas was reg. Die skurke sit wakker en oorgehaal vir aksie.

Daar was skaars ’n roering toe hulle minute gelede die huis nader. ’n Paar meter verder het die deur skielik oopgevlieg en is daar op hulle losgebrand.

Hy loer na links en sien hoe Danie stadig oor die grond seil. Hy beduie Saul moet na sy kant beweeg. Saul besef hy is vas.

Hy sal moet wag voordat hy ’n kans kry om te skuif. Die volgende oomblik hoor hy ’n gil en toe ’n skoot wat klap. Lukas!

Hy sou die huis van die agterkant genader het.

Saul dink nie meer aan sy eie veiligheid nie. As Lukas iets oor- kom ... Hy vlieg op en storm pistool in die hand op die huis af.

Dan sien hy die ou wat met pieringoë op hom afpyl. Saul herken hom. Dis die bliksem wat hom geskiet het. Hy trek die sneller.

Die ou val neer toe die koeël deur sy middelrif ruk. Binne-in die huis klap verdere skote.

Saul hardloop die huis binne. Verlig sien hy vir Lukas en Manus uitasem langs mekaar staan. Op die grond lê twee gewond. Fanie en Danie hardloop kort agter Saul die huis in.

“Waar’s die mei­sies?” vra Fanie.

“Ons moet die huis deursoek. Wees asseblief versigtig. Daar kan nog skurke in die kamers skuil,” sê Lukas.

“Ek gaan aan die buitekant ondersoek instel,” sê Saul voordat hy by die deur uitdraf. Hy stap tree vir tree na agter.

Sy instink lei hom na ’n groterige gebou agter die huis. Hy beweeg koes-koes na die deur. Nadat hy seker gemaak het dis veilig, draai hy die knop. Die deur swaai oop.

Verbaas staar hy na die wit trok in die middel van die vertrek. Die vertrek lyk na ’n tipe werkswinkel waar voertuie herstel word.

Terwyl hy voetjie vir voetjie om die trok beweeg, verbeel hy hom hy hoor stemme.

Hy staan stil om te probeer luister. Dan besef hy waar die klank vandaan kom. Saul haas hom na die agterkant en pluk die deure oop. Geskok staar hy na meisies wat verwese in ’n hopie mekaar styf vasklou.

Toe hy vorentoe beweeg, sien hy haar donkerkop tussen die res.

Geskok staar hulle na mekaar.

“Jy lewe!” skree Katja.

Sy sukkel tot op haar voete. Haar bewende bene dra haar tot by die deur. Toe Saul sy hand uitsteek, neem sy dit sonder huiwering.

Agter hulle beweeg die res versigtig vorentoe. Hulle staan verskrik stil toe Saul se broers die gebou binnestorm. Dis Tessa wat huiwerig vra: “Wie is julle?”

“Ons het gekom om julle te red,” antwoord Lukas trots.

Hulle help die meisies uit die agterkant van die trok.

Katja draai na Saul en sê: “Baie dankie vir wat julle gedoen het.”

’n Selfoon vibreer in sy broeksak en sonder om te kyk wie dit is, weet hy sommer onmiddellik dis Katja se ouers.

Hy gee die selfoon aan haar.

Toe sy antwoord, hoor Saul onmiddellik Katie se opgewonde gille aan die ander kant. Hy luister glimlaggend na hulle gesprek.

Toe sy klaar is, is daar ’n blink skynsel in haar oë.

“Die polisie is naby. My ouers vra dat jy en jou broers wag. Rademeyer stuur ’n boodskap. Hy sê vandag is jou lucky day.”

Saul glimlag stilweg toe hy die insinuasie snap.

Terwyl die sirenes nader kom, beweeg die groepie stadig na buite.

Die son se eerste strale breek oor die blink koppies. Hulle staar in verwondering na die skouspelagtige kleure.

Saul voel skielik hoe ’n sagte handjie in syne kruip.

Hy draai na Katja wat hier digby hom staan. ’n Glimlag breek oor sy gesig toe sy met ’n sagte blik diep in sy oë staar.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters