20 dae gelede
Die taakspan hoop dit is net ’n nare droom
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Groot Vyf is teen dié tyd bekend daarvoor dat hulle skobbejakke op die Kaapse Vlakte sommer gou-gou uitsort. Die cops is geskok toe hulle ’n video van hulle sien. Geniet hoofstuk 3 van SALMON SMITH se “Die Groot Vyf Is Terug”.

DIE byna 40 lede van Operasie Stoppit wat die aanvalle op gangsters ondersoek, kyk almal aandagtig na die video clip van Die Groot Vyf op die elektroniese bord.

Aan die woord is Brian September, die leier van Die Groot Vyf.

Almal is vermom in swart oorpakke, swart handskoene en het swart klapmusse oor hulle kop.

Agter hulle is ’n skerm met die skyline van New York City wat lyk asof dit ná die opneem van die video digitaal ingelas is.

Dít alles om hulle identiteit en whereabouts geheim te hou.

“Ons gemeenskappe se hulproep val op julle dowe ore,” gaan Brian voort.

“Ons mense sterf daagliks, onskuldige kinders sterf daagliks aan die hand van misdadigers. En dit terwyl julle dink julle het die geveg teen misdaad gewen.

“Wel, ek het nuus vir julle! Julle het f*kk*l geveg teen misdaad gewen nie!”

“Julle stig nuttelose eenhede met onbevoegde bevelvoerders. Julle skep poste vir julle kaders.

“Julle maak daardeur van die smart van ons arm gemeenskappe ’n politieke speelbal.

“Julle het ’n waghond wat die polisie dophou om te sorg dat die polisie nie die donnerse misdadigers mishandel nie. Maar daar is geen waghond wat die misdadigers dophou nie! Dít is hoekom die misdadigers so arrogant is.

“Hulle kry free lawyers en ’n vyfster-lewe in die tronk. Dít alles ten koste van belastingbetalers.

“Julle regstelsel is verkramp. Want môre loop ’n moordenaar, verkragter, gangster of dwelmhandelaar weer buite op borgtog en vang weer dieselfde k*k aan!

“Maar ons, Die Groot Vyf, is nou gatvol van julle laksheid en onbevoegdheid om ons inwoners teen dié gemors te beskerm.

“Ons gaan misdadigers wat op tegniese punte in die hof loskom, vrekmaak.

“Ons gaan alle bendeleiers en dwelm kingpins uit hulle gate snuffel en voor die voet vrekskiet.

“Die k*k gaan spat van enige jong wat openlik brêk hy is ’n bendelid.

“Die straathoeke gaan ons skoonmaak van hoekstaners. Ons gaan ons strate terugwen.

“Ons kinders sal weer in die strate kan speel sonder om te vrees vir ’n dwaalkoeël uit die vuurwapen van ’n roekelose skollie.

“Vroue sal weer laatnag in die strate kan loop sonder om verkrag te word.”

Brian bly ’n wyle stil sodat sy woorde kan insink by wie ook al die video clip sien.

Hy gaan toe voort: “Elkeen wat dié video clip kyk, stuur dit aan soveel van julle kennisse as moontlik. Laat die ding viral gaan hier in Suid-Afrika, asook oral in die wêreld.

“Ons gaan nie meer met ’n nuttelose regering onderhandel nie. Ons gaan nie met misdadigers onderhandel nie.

“Die ding gaan nou éérs ruk! Ons, Die Groot Vyf, gaan anargie in die misdaadwêreld saai!”

’n Doodse stilte daal in die vertrek neer nadat die video klaar gespeel het.

Grootoog staar die taakspan na die skerm in die hoop dat wat hulle nou gesien en gehoor het, net ’n nare droom is.

Brig. Bernard Sarels reageer eerste. Hy haal sy foon vinnig uit sy sak en haal sy toegewasemde bril met bewende hande van sy oë af.

“M-manne … e-ek dink ek moet die generaal b-bel …” stotter Sarels verbouereerd.

SOMMER dieselfde dag gaan die video clip viral.

Die Groot Vyf se naam is op almal se lippe. In sjebeens, in kantore, op straat en sommer oral.

Almal weet nou wat die naam is van die vigilantegroepie wat nou al ’n maand lank maai onder die bendes op die Kaapse Vlakte.

Dieselfde aand word ’n gedeelte van die video clip op die televisienuus gebeeldsend, met die vloekwoorde gesensor.

In die nuusateljee sit die Wes-Kaapse polisiekommissaris, genl. Tokwe Takana, langs die nuusleser, Angela Brinkhuys. En hy lyk sommer baie gespanne.

“Dít was ’n video clip van ’n vigilantegroep, naamlik Die Groot Vyf, wat aanspreeklikheid aanvaar vir die aanvalle op bendelede en misdadigers op die Kaapse Vlakte,” gaan die nuus­leser voort, terwyl sy na die kamera kyk.

“Die video clip is ook op sosiale netwerke versprei en het uiteenlopende reaksie ontlok.

“Daar is mense wat hulle steun aan Die Groot Vyf gee en dan is daar diegene wat dié vigilantegroep se dade veroordeel.

“Maar saam met my vanaand in die ateljee is die Wes-Kaapse polisiekommissaris, generaal Tokwe Takana, wat gaan gesels oor die verwikkelinge op die Kaapse Vlakte.”

Die nuusleser draai na die groot, vet generaal, wat omtrent die hele stoel vol sit.

“Goeienaand, Generaal. Kan u ons vertel wat deesdae op die Kaapse Vlakte aan die gang is?” vra die nuus­leser ewe formeel.

Takana maak hom gemaklik in sy stoel en gee so ’n senuagtige hoesie dat sy vet wange dril.

“Goeienaand Angela, goeie naand al die kykers wat ingeskakel is.”

’n Vlugtige kyk na die kameras.

“ ’n Maand gelede het ’n vigilante-groepie begin met aanvalle op gangsters en dwelmhandelaars.

“Volgens ons inligting is dit vyf mans met klapmusse wat die aanvalle uit ’n kombi uitvoer.

“Die motief agter die aanvalle is tot vandag toe onbekend aan ons.

“Maar te danke aan die videogreep het ons nou ’n groter prentjie van wie daaragter sit en die rede daarvoor.

“Drie weke gelede het ons ’n spesiale ondersoekeenheid, met lede van verskillende gespesialiseerde eenhede in die polisie, gestig om die insidente te ondersoek.”

“Generaal, beteken dit dat daar dalk binnekort ’n deurbraak gemaak gaan word?

“Wel, julle weet nou watter groep daaragter sit, maar kan nie werklik die individue identifiseer nie,” sê Angela.

Weer ’n hoesie.

“Angela, ons kan nie wegredeneer dat ons hier sit met ’n hoogs intelligente groep wat met militêre presisie te werk gaan nie.

“Maar ons het volle vertroue in Operasie Stoppit, wat dag en nag aan die saak werk.

“Hulle is besig om die video te fynkam vir enige leidrade. En, ja, ons gaan beslis binnekort ’n deurbraak maak.

“Ons gaan Die Groot Vyf uit hulle wegkruipplek snuffel. En ons gaan nie met hulle speel nie!

“Ons gaan hulle diep wegbêre en die sleutel diep in die see gooi!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters