Verlede maand
Die Ruiters kry laataand ’n klop aan die deur
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Vandag kan julle die eerste deel van ’n kortverhaal in twee aflewerings lees. Die skrywer is NEVILLE PEDRO en hy noem dit “Die Weggooikind”.

DIS donker buite. Net die sagte gesuis van die wind is hoorbaar. Die vrolikheid van vroeër is iets van die verlede.

June staan op en verdwyn in die kerslig die donker kamer binne.

Sy en haar broertjie, Johnny, kom nie juis oor die weg nie.

Sy dink aan hulle gesprek van vroeër en wens sy’t maar stilgebly.

“Ag nee, June, hoekom steur jy jou nog aan hom?” oorweldig sy haarself met haar eie woorde.

Ma Mien ruim op in die kombuis terwyl Pa sy laaste lafenissie afsluk.

Sy voel sommer simpel as sy net dink aan Johnny se woorde ...

“June-groot-rok.”

Ná ’n uur of wat is die huis stil, almal in die bed.

“June!” ruk haar pa se stem haar tot in die werklikheid. “Gaan kyk wie klop aan die deur.”

Teësinnig staan sy op. Altyd sy. As daar iets gedoen moet word, is dit altyd sy. Nooit Johnny nie. Hy word gedurig opgepiep.

“Goeienaand, Meneer,” groet June­ en kyk die vreemdeling in soldaatklere ondersoekend aan.

Hy beskou haar van onder na bo en weer af.

June staan koud geskrik en bewegingloos voor die man.

Wie kan dít wees? kom dit so stadig soos gevriesde water deur haar brein.

Sy maak keel skoon. “Kan ek help? Het u verdwaal?”

Hy praat nie, staar net na haar met sy wilde bruin oë.

“Dankie.”

Dis ál wat hy sê.

Hy draai om en verdwyn die donker nag in.

Wie kan dit wees? vlieg dit ’n paar keer deur haar kop.

Die volgende oggend daag June nie op vir ontbyt nie en Johnny geniet dit, want dit beteken net een ding: Meer kos vir hom.

Later vra Ma Mien: “Waar is June vanoggend? Dis vreemd. Sy’s nie iemand wat verslaap nie. Gewoonlik is sy eerste op.”

Pa hoor skaars wat Ma Mien te sê het, so besig hou hy hom met sy bord kos.

“Mien!” kom Pa later verwilderd uit June se kamer. “Daar’s niks. Sy’s weg! June is weg.”

Ma Mien kyk na Johnny, maar kry nie woorde uit om die kind te troos nie.

“My kind,” dink sy hardop.

Kleine Johnny verstaan nie die uitdrukking op sy ma se gesig nie.

“Ek gaan haar as vermis aanmeld en dan gaan ek my kind soek, Mien. Dis my vlees en bloed en ek sweer vandag die skuldige gaan boet,” skreeu Pa na hulle.

Ma Mien voel magteloos, maar doen wat enige ma sal doen. Sy bly glo haar Junetjie is veilig.

“My raakvatter, my staatmaker,” prewel sy.

Die knop in haar keel keer die res van haar woorde.

Buite is die mis stadig op pad na die voet van die berg.

“Het ’n spook haar gevat, Ma?” vra Johnny.

Mien antwoord nie. Sy gaan staan in June se kamerdeur in rou en pyn.

LATER is daar ’n geklop aan die deur. Sy haas haar na die deur en maak oop.

Dis die polisie.

“Môre, Mevrou, is u June Ruiters se moeder?”

“Het iets gebeur?”

“Ek vra: Is u ...”

“Ja,” val Ma Mien hom in die rede. Die blink trane lê soos skewe voetpaadjies oor haar wange.

“Mevrou ...”

“Noem my maar Mien, dit voel gemakliker.”

Die man voel egter ongemaklik. Dit voel skielik of hy voor sy eie ma staan.

’n Moeder. Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Wat is ’n huis sonder dié moeder? dink hy by homself.

“Mevrou ... Mien, meen ek, die ou oompie oorkant julle sê hy’t julle dogter laas nag met ’n vreemde soldaat sien praat en ek kan nie help om te wonder of hy iets met die verdwyning te make het nie.

“Die vreemde man, meen ek. Jammer as ek u ontstel het.”

“Iemand het laat aan onse deur kom klop en my man het June beveel om te gaan kyk wie dit is, maar sy is weer terug kamer toe ná dit.”

Die man gooi sy oë vlugtig in die kombuis rond totdat die kiekie van June op die klein kassie sy oë tot stilstand bring.

Hy kan nie help nie, maar sy’s iéts anders. Om dit aan ’n kiekie raak te sien, wil gedoen wees, dink hy en fokus weer op sy taak. “En daarna, M ... Mien?”

“Ek het opgeruim, my man het sy lafenis afgesluk en ons is almal bed toe om te slaap.”

Die deur bars oop agter hulle. Die man wat in die deur staan, lyk verskrik. Dis Pa.

“Hulle het twee rye spore gekry wat mekaar volg,” basuin Pa se woorde die kombuis binne.

Dit beteken sy leef nog, dink Ma Mien voordat sy reageer op Pa se verligting.

“En nou is dit jy en die res van julle soort se werk om my kind op te spoor. Skoert! Moenie kom sit en tande tel nie.”

Hy kyk Ma Mien aan asof sy dieselfde woorde moet uiter, maar voordat sy enigsins iets kon sê, staan die man op, groet en gaan stadig by die deur uit.

Terug in die huis kom kry Ma Mien vir Johnny. Hy verstaan nie die hele affêre nie. Dis vreemd ... Hy voel skoon kleiner as sy lengte.

“Jô, dis die eerste keer dat ’n oom polisieman in onse huis was.”

“Stil!” verskrik Pa die opgewonde laitie. “Jy word veels te groot vir jou skoene.”

Johnny laat sak sy kop.

Ma Mien bring die belangrikste onderwerp wat nou noodsaaklik is, weer op.

“Pa, dink jy nie ons moet self gaan soek nie? Niemand ken haar beter as ons nie.”

“Miena!”

Ma skrik. Pa het haar nog in hulle jeugdae laas so genoem.

NÁ DRIE ure se gesoek gaan sit sy moedeloos. Dis van nonsens dink dat jy die spoor verloor het, dink sy. June Ruiters, wat het jou besiel?

As ek dit geweet het, demmit, dink sy by haarself. Sy verander van rigting, desperaat om weer op sy spoor te kom. “Ek gaan nie rus totdat ek weet wie jy is nie,” sê sy saggies vir haarself.

Iewers moet hy rus.

Terwyl hy dit doen, gaan sy die pas waarteen sy beweeg, versnel.

Ná ’n halfdag se geloop voel sy uitgeput. In die weste sak die son stadig. Nog ’n halfuur se stap dan is sy in die volgende dorp. Sy kan nie help om te wonder of alles nog oukei is by die huis nie.

Haar pa is seker al teen dié tyd so rasend soos ’n brullende leeu.

Haar ma, aan die ander kant, sal bekommerd wees.

Arme Johnny, haar stoute boetie, weet nie wat aangaan nie. Haar kop werk oortyd van al die gedink.

Skielik gryp iemand haar aan die arm. “Hoekom agtervolg jy my, vroumens? Wat is jou probleem?”

  • Lees deel 2 volgende week

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters