Verlede maand
Die res van Four T beny Tyrone sy sorgvrye lewe
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n heerlike verhaal genaamd “Layla en die Drug Dealer” deur Nicolette Fouldien. Geniet nou hoofstuk 1.

‘WAT?! ’n Plaas?! Djy’s sieke’ nie serious nie, my broe?”

Daar is ongeloof op die gesig te lees van die lang, lenige man wat gemaklik agteroor op die La-Z-Boy sit-lê. Rook krul lui uit die dik daggazol in sy hand die lug in en gaan rus in die ruimte bokant hul koppe.

Die vensters en deure is toe en daar is byna geen ventilasie in die sitvertrek nie.

Dis asof ’n digte miswolk oor hulle hang. Die vier mans is nie hierdeur gepla nie.

Op die stoel naaste aan die deur sit Teddy. Hy is groot en harig. Sy ronde bleskop is glad geskeer en blink, maar sy hele gesig is byna toegegroei van die baard.

Uit sy ore en neusgate peul die hare in stekelrige bossies.

Afgesien van sy groot liggaamsbou, laat sy boep hom plomp voorkom en hy lyk meer na ’n teddiebeer – vandaar sy bynaam – as die gorilla waarvoor hy so graag aangesien wil word.

Al lyk hy lomp, skuil daar krag in sy lyf.

Hy is gewoonlik vriendelik, maar wanneer hy kwaad word, is dit beter om uit sy pad te bly.

Dis moeilik om sy ouderdom te skat weens die dik baard, maar hy kan nie ouer as 40 wees nie.

Langs hom op die tweesitplekbank lê Troubles uitgestrek. Een van die bank se kussings is onder sy kop gedruk. Sy voete is gemaklik oor die leuning uitgestrek.

Hy moet in sy vroeë 20’s wees, of selfs jonger. Sy klere en juwele trek dadelik die aandag. Hy is volgens die nuutste mode geklee.

Aan elke vinger is ’n knewel van ’n ring en aan sy pols blink ’n ontwerpershorlosie.

Die skulp van sy een oor is vanaf die lel tot waar dit aan sy kop heg vol goue oorringe. Deur die middel van sy onderlip is daar ook ’n ring geboor.

Sy oë is toe en sy mooi gesig heeltemal ontspanne. Dit wil voorkom asof hy slaap. Maar almal hier teenwoordig weet hoe misleidend die voorkoms van die jong man op die bank kan wees.

Agter daai seunsgesiggie en geslote oë skuil ’n wakker en geslepe persoonlikheid. Geen slot is teen hom bestand nie. Hy het ook die besonderse vermoë om soos ’n skim te beweeg. Nag of dag.

Jy is amper nooit van hom bewus voor hy aan jou raak nie.

Inbraak en diefstal is sy ding. Nes Teddy het hy drie moorde agter sy naam waarvan hy vir twee onskuldig bevind is.

Met sy laaste hofsaak het die aanklaer hom as ’n psigopaat beskryf. Dit het hom nogal trots laat voel. Hy hou daarvan om anders te wees; uit te staan in ’n crowd. Mense moet van hom notice vat ... Natuurlik net wanneer hý dit so wil hê.

Oorkant hom in ’n enkelbank sit Timmy. Lank en seningrig. Sy oë is versluier teen die rook en sy gelaat gelerig.

Hy lyk soos iemand wat van ’n lang siekbed herstel en sy voorkoms is ook te wyte aan blootstelling aan die hepatitis B-kiem wat so in tronke heers.

Ondanks die benerige struktuur van sy gesig en ingesonke wange is hy op ’n vreemde manier aantreklik.

Hy moet in sy laat 20’s of vroeë 30’s wees. Al is daar erns in sy blik te bespeur, wys die kraaispore rondom sy oë dat hy maklik lag.

Tussen sy vingers blink die lem van ’n vlymskerp Okapi – iets waarsonder hy nooit is nie. Dis byna soos ’n ekstra ledemaat en niemand van wie hy weet, kan dit so vinnig en dodelik sekuur soos hy hanteer nie. Daarvan getuig die twee moorde, vyf poging tot moorde en drie ernstige aanrandings wat op sy klagstate pryk.

Drie van sy vorige girlfriends sal nie maklik weer ’n man kry wat na hulle sal kyk nie.

Van almal is Timmy seker die koelbloedigste. Tog is hy die vriendelikste. Mense hou daarvan om met hom te gesels en hy maak maklik vriende, veral met vroue.

In die La-Z-Boy sit-lê Tyrone. Dis ’n stoel gemaak vir ’n koning en dis ook hoe hy hom soms sien.

In die tronk het hy bekend gestaan as Mr. T of die Tycoon. Dis duidelik dat die ander op ’n manier aan die man met die aantreklike gelaatstrekke onderdanig is. Sy kleredrag is ordentlik en nie uitspattig nie. Hy dra ook net genoeg juwele om welaf maar nie oordadig voor te kom nie.

Tussen sy spierwit, mooi gevormde tande blink ’n goue insetsel. Dis ál wat hom uiterlik, op ’n manier, as lid van ’n bende sal laat kwalifiseer.

Hy is lig van kleur met steil, ligbruin hare en besonderse blou oë. Hy is duidelik die produk van ’n gemengde paartjie.

Sy voorkoms boesem soveel ontsag in dat dit werklik moeilik is om sy ware ouderdom te skat. Hy kan enige iets tussen 25 en 40 wees.

Sy voorkoms is tydloos. Hy sal oor 10 jaar waarskynlik dieselfde lyk. Ook hý moes al ’n paar keer vir moord en ander minder ernstige oortredings in die beskuldigdebank staan.

Die afgelope vyf of meer jaar was die groep saam in die gevangenis en dis waar die hegte bande tussen hulle gesmee is. Die Four T, soos hulle trots na hulself verwys.

Almal is lede van die 26’s-bende en in die tronk was Tyrone hul generaal.

Hulle is nou byna ’n jaar buite en vasbeslote om nie terug te gaan nie. Hulle is jonk tronk toe en dis nou die eerste keer dat hulle werklik voel hoe goed en aangenaam die lewe buite is.

Dis nie asof hulle alles opgegee het nie. Nee.

Op ’n manier moet hulle tog ’n bestaan voer en niemand is bereid om tronkvoëls met sulke ernstige oortredings ’n ordent­like werk aan te bied nie.

Tyrone is al een wat op ’n manier goed daaraan toe is. Hy is die seun van ’n wit sakeman en dié se voormalige bruin huisbediende.

Hoewel sy ouers nie veel met hom te doen wil hê nie weens sy geneigdheid tot misdaad, sorg sy outoppie tog dat hy genoeg het om gemaklik te lewe.

Sy pa besit drie hotelle en genoeg eiendomme wat beslis van hom ’n miljoenêr maak. En al is hy en Tyrone se ma nie saam nie, het hy vir haar ’n ordentlike huis laat bou en genoeg kontant gegee sodat sy haar eie koffiewinkel en tuisnywerheid kon begin.

Ant Maria Plaatjies se besigheid is suksesvol. Al is Tyrone haar enigste kind, glo sy in tough love.

Sy het hom ná die eerste moordsaak uit die huis geskop en weier steeds om hom finansieel te ondersteun.

Dis Tyrone se ryk toppie, Mr. Ed Brown, wat vir hom die woonstelletjie en blinkswart BMW gekoop het, en sorg dat daar elke maand ’n bedrag in sy bankrekening is om sy persoonlike uitgawes te dek.

Tyrone is ook sý enigste biologiese kind. Die ou man se vrou kon nie swanger raak nie. Hulle het, toe die storie van Tyrone se ma en haar swangerskap op die lappe kom, die dorp verlaat en intussen ’n dogtertjie aangeneem.

Nie dat Tyrone veel omgee nie. Dis lekker om so sorgvry te lewe, sonder ouers wat gedurig om jou kop neul.

Hy sou dit nie anders wou hê nie. Sy vriende beny hom dié lewe.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters