Verlede maand
Die pragtige plaas oortref ál Layla se verwagtinge
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 3.

NADAT hulle weg is, maak Tyrone die vensters oop om die digte bank rook te laat ontsnap en spuit lugverfrisser op die banke se materiaal voordat hy die kussings regtrek­ en die oorvol asbakke leegmaak. Hy pak die bierglase in die wasbak en tap dit vol skuimende warm water.

Hy haat onnetheid. As hy sy sin vir besigheid by sy pa geërf het, het hy seker sy sin vir netheid van sy bediende-ma ontvang.

Hy hou daarvan sy woonstel moet netjies en aan die kant wees, dis hoekom hy nie maklik die ander hier wil onthaal nie.

Ongelukkig is hy nou ál een met sy eie privaat plek – en die ander gebruik dit gedurig tot hul voordeel. Veral nou gedurende die lockdown.

Hy laat hulle egter nooit toe om hier te oornag nie.

Die woonstel met sy twee slaapkamers, badkamer en oopplankombuis en sitkamer is nou wel ruim genoeg, maar hy sal liewer uit sy pad gaan om hulle huis toe te neem met sy kar.

Sy woonstel is in ’n stil en betreklik nuwe woonbuurt geleë, maar steeds loopafstand van die ouer, minder gegoede woonbuurt waar sy vriende bly.

Selfs die meisies wat hy uitneem, word nie hier toegelaat nie. Hy neem hulle liewer na hotelle toe as sy geld dit toelaat. Andersins moet sy kar se agtersitplek maar doen.

Hy gee nie om nie. Dis tog net tydelike plesier.

Hy was nog ses jaar gelede, toe hy ’n ruk lank uit die gevangenis was, ernstig met ’n meisie. Hy weet vroue is mal oor hom.

Hy ervaar dit elke keer wanneer hy dit waag om na ’n openbare plek te gaan. Soms staar hulle hom so openlik bewonderend aan dat hy hulle iets wil toesnou, maar hy weet hy kan dit tot sy voordeel gebruik.

Vroue is bereid om te betaal om by hom te wees. Hulle koop vir hom drankies en sodra hy hulle meer as twee keer uitneem, kry hy spesiale presente.

Dis egter ook hoe ver dit vorder.

Hy weier om in dié stadium van sy lewe ernstig by ’n vrou betrokke te raak.

Hy kan enige vrou kry wat hy wil hê.

Dis vir hom te maklik. Hy het ander planne.

Daar is ’n glimlag op sy gesig toe hy die telefoon neersit. Alles is klaar gereël.

Sy outoppie het soos gewoonlik sonder enige teëstribbeling ingestem om sy toelae te verdubbel.

Dis tough times. Niemand kan nou gaan werk nie.

Nou nog net reël dat sy verskaffer die bestelling Mandrax, tik en dagga verdriedubbel en die entjies en drank uitsort, dan kan hy gaan rus tot môreoggend 03:00 wanneer hy en Timmy die parcels by die kontak op hul afgesproke plek gaan afhaal.

Hy stel sy wekker vir 02:30, al weet hy dis onnodig. Nog nooit in sy lewe het hy vir enige geleentheid verslaap nie. Nog een van sy uitmuntende eienskappe. Hy hou daarvan om betyds en gereed te wees.

LAYLA moet telkens haarself knyp om seker te maak dis nie ’n droom nie. Sy is regtig saam met haar vriendin op pad plaas toe. Sy kan nou nog nie glo haar streng ouers het ingestem dat sy die 21 dae lockdown by haar vriendin kan deurbring nie.

Die Covid-19-pandemie is besig om hul matriekjaar te ruïneer.

Hulle het reeds Grabouw agtergelaat en oom Dennis, Menta se pa, bestuur die klein motortjie versigtig deur die nou kronkelpas tussen die berge.

Layla sit op die agtersitplek en staar bewonderend na die pragtige natuurtonele rondom haar.

Onder in die vallei lê rye groen vrugteboorde en wingerde in gelid aangeplant en skep skilderagtige tonele.

Waterdamme en kronkelende stroompies blink in die laatmiddagson.

Hier en daar sien sy plaasopstalle en wonder of een van hulle dalk haar bestemming is.

Alles is asemrowend mooi en sy kan sweer dat sy nog nooit voorheen sulke tonele gesien het nie. Waar sy vandaan kom, is dit droog en sanderig.

Haar ma sukkel al jare om ’n tuintjie aan die groei te kry al sê haar pa elke keer rose en dahlias sal nie in daai soort grond aard nie. Hiér sal niemand ’n probleem met plante hê nie.

Alles lyk groener en weelderiger. Haar hart klop opgewonde van afwagting in haar binneste en sy is bly dat die geleentheid om iets só spesiaals te sien haar te beurt kon val.

Sy stuur vinnig ’n dankgebed na bo en glimlag dan terug na haar vriendin wat oor haar skouer loer en goedkeurend knik.

“Tra-la-la ... en ons is hier! Welkom op Welkome Rus!” Layla loer verbaas by die motorvenster uit.

“Is ons hier ..? Is dít die ... plaas?” Sy kyk verbaas na haar vriendin.

“Ja, ou tjomma, dis die plaas!”

“Maar hier is dan so baie huise en geboue.

Dit lyk dan meer soos ’n ...”

“Soos ’n dorpie? Ja, vriendin.

“Ek wou dit hou as verrassing. Plase hier rond is lankal nie meer net plase nie, jong.

“Ek was bang as ek jou reghelp, sou jy dalk nie meer wou kom nie.”

Layla kyk haar vriendin vies aan voordat sy weer na buite loer.

Hulle ry deur ’n laning bome en oor ’n laagwaterbruggie.

Oral langs die geteerde straat staan netjiese spierwit huisies.

Op die sypaadjie groei grasperke en veelkleurige roosbome staan in volle blom.

By ’n omheinde gebou wat duidelik die skool moet wees, is ’n groot, grasgroen sportveld wat spog met ’n paviljoen en ’n speelparkie vir die kleingoed.

Hulle ry verby ’n aantal vrugtestore en nog ’n paar huise voordat die oom in ’n geplaveide afrit opdraai en voor ’n groot huis met ’n netjiese stoep stilhou.

Menta is dadelik uit en storm na die vrou wat hulle op die trappies inwag.

Agter die vrou staan Menta se skaam sewejarige sussie en ook sy word uitbundig gegroet voordat Menta terugdraai en Layla nader wink.

Die oom word binnegenooi vir koffie en nadat ant Minnie Layla hartlik welkom geheet het, verdwyn die meisies dieper die huis in.

Layla verkyk haar aan die weelde wat sy glad nie op ’n plaas te wagte was nie en staan verstom toe sy in Menta se kamer kom. Alles is in verskillende skakerings van feetjie-pienk en twee tamaai teddiebere sit op die identiese enkelbeddens.

Die mure is beplak met plakkate van sepie-sterre, bekende sangers, liefdesgedigte en sommer net mooi prentjies.

Anders as Menta se kamer in haar pa se huis op Witpad, is dit duidelik dat sy eintlik hiér tuishoort.

Die mooi kamer is ’n spieëlbeeld van haar vriendin se innemende en hartlike persoonlikheid.

Hulle pak hul tasse uit en val moeg op die beddens neer nadat Menta vir hulle musiek in die DVD-speler gesit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters