22 dae gelede
Die plek gee hom die creeps, maar hy moet vasbyt
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Sommer op sy eerste dag terug van verlof is dit moord op die brood van speurkapt. Nigels Fluks. ’n Reeksmoordenaar blyk onder sekswerkers te maai, aldus sy kollega, die mooie sers. Layla Fortuin. Layla kom tel Nigels op om saam met haar na die moordtoneel van die jongste slagoffer te gaan. Die slagoffers word nie net wreed vermoor nie, hul ore word in hul keelgat gestop. Sal Nigels en Layla agter die kap van die byl kan kom en die killer kan vastrek? Geniet nou hoofstuk 3 van Son se eie ELDRIDGE JASON se verhaal “Die Gemaskerde Killer”.

DIE rit na die moordtoneel verloop in stilte.

Nigels het sy lus vir gesels verloor. Layla blyk ook vasgevang te wees in haar eie gedagtes. Nigels merk op dat hulle die dorp verlaat.

Ná sowat ’n kilometer swaai hulle af op ’n gruispad en ry in die rigting van die plaaslike begraafplaas.

Nigels draai na Layla. Sy knik.

“Die vorige twee meisies se lyke is ook in die begraafplaas gevind.

“Maar voordat jy dink dat hierdie moorde deel van ’n sataniese ritual was, ek kan jou nóú al sê dat dit nie die geval is nie.”

“Hoe so?” vra Nigels.

Hy skuif sy masker reg. Die verdomde ding irriteer die lewende hel uit hom. Met elke woord wat hy praat, voel hy die klammigheid van vroeëre woorde.

“Daar was geen tekens van enige rituals of sataniese tekens nie,” verduidelik Layla.

“Niks. Nie bloed van die een of ander dier wat dalk geoffer is nie ... niks.”

“Wat as die oorledene die offer­ing was?” vra Nigels. “Ek weet nie of jy onthou nie, maar ’n paar jaar gelede het ons in daai einste begraafplaas voorvalle van grafskending gehad.

“Onthou jy? Dit was mos toe ’n paar pastore se kinders uitgedraai het as duiwelaanbidders.”

Layla knik en byt dan weer haar onderlip.

“Ek onthou,” sê sy ná ’n ruk. “Daai het ook deur my gedagtes gegaan, maar soos ek gesê het, daar was geen aanduidings van satanisme nie. Ook geen skendings van grafte nie.

“Die oorledenes is mooi op die toneel geplaas. Ek wag nog op die uitslae van forensies, maar ek dink nie hulle is in die begraafplaas vermoor nie.”

“O?” vra Nigels en pluk-pluk weer aan sy masker.

“Beslis,” antwoord Layla en draai by die begraafplaas in.

“Daar was baie min bloed op die toneel. Die vorige twee meisies is mooi langs die grafstene neer­gesit en daar was nie veel van die begraafplaas se soil op hul klere te bespeur nie.

“Alle aanduidings is ook dat hulle al ’n geruime tyd lank dood was en dalk selfs eers in ’n vrieskas was voordat hulle hier in die begraafplaas geplaas is.”

“So, hy het eers pop gespeel met hulle,” sê Nigels.

Hy merk die paar polisievoertuie op wat in die een hoek van die begraafplaas geparkeer staan.

Hy vloek toe hy een van die cops herken.

“Wat soek daai f*kk*n Harry Muggels hier?” vra hy aan Layla.

Sy trek haar skouers op. “Die brigadier se werk. Ek het skoon vergeet om jou te sê.

“Muggels is glo in opdrag van die PK hierheen gestuur. Brig. Beneke glo ook dat die slim cops van die Kaap ons met die saak sal kan help.”

Nigels skud heftig sy kop. Hy het al op ’n paar geleenthede met Muggels kop gestamp.

Hy kan nie vattigheid kry aan hierdie brêkkerige cop nie.

Muggels glo die son skyn uit sy stert omdat hy ’n bietjie verkeerde Engels kan praat. Spreek glad sy van uit as “Mue-girls”.

Jirre, Muggels bly Muggels. Dit maak nie saak of jy in Japan of enige dorp se Lapland-woongebied bly nie.

En verderaan hou Muggels daarvan om sy pittekop met die een of ander haar-gel spiky te maak en breë-arms te loop asof die roll-on onder sy arms nie droog kan raak nie.

Sulke brêkgatte kan hy mos nie vat nie. Hoe girls ooit vir sulke brêkkerige nikswerds kan val, weet hy nie. Hy wonder of Layla ook-

“Ons is hier,” onderbreek Layla sy gedagtegang. “Ek is seker jy kan nie wag om Mister Mue-girls weer te sien nie.”

Die ondeundheid flikker in haar oë.

“Gaan k*k, jy,” antwoord Nigels vies en maak die Focus se deur oop toe Layla stilhou.

Nigels volg Layla. Ná ’n paar meter gaan staan hy vir ’n oomblik stil om die gebied te bespied.

Begraafplase gee hom die creeps. Hy hou nie eens daarvan om in helder daglig hierheen te kom nie. Hoekom sal iemand in die middel van die nag ’n lyk hier kom dump? Met hul ore in hul mond gestop? Hy gril en volg Layla weer haastig.

Toe Muggels hulle gewaar, kom hy vinnig in hul rigting aangestap.

“My genade, Paternoster se eie Sherlock Holmes en Doctor Watson!

“Julle het ook maar jul tyd gevat om hier te kom.

“Maar soos ek dit verstaan, voel elke dag mos maar soos ’n Sondagagtermiddag hier innie Patrenoster.”

“F*k jou!” is Nigels sommer op die aanval. “En vir jou informa­tion, dis Paternoster. Kry dit vir een maal in jou lewe reg. ’n Mens kan sommer sien wie in die aanpassingsklas was.”

Muggels maak sy mond oop om iets te sê, maar Layla spring hom voor.

“Play nice, julle twee. Ons is hier om te werk.”

Muggels gee Nigels ’n vuil kyk.

“Jou panga-kyke werk nie op my nie,” kap Nigels terug.

“Kom, ek vat julle na my toneel,” antwoord Muggels stug.

“Jou toneel?” vra Nigels kwaad.

“Van wanneer af own jy ’n moordtoneel? Het jy dan geld bygegooi by die moord?”

Muggels vererg hom.

“Ek is hier onder die instruksies van die provinsiale polisiekommissaris.

“As jy enige issues het met my wat hierdie ondersoek lei, dan stel ek voor jy gaan sien hom.

“Maar ’n kleindorpie-cop soos jy sal seker in die Kaap verdwaal. So, ek stel voor jy gedra jou en ken jou plek.”

“Jou ma se p-”

“Guys! Guys!” gil Layla en gooi haar hande in die lug.

“Rêrig, nou. Daar is ’n serial killer in ons midde.

“As julle tweetjies wil vry, stel ek voor julle tweetjies kry later ’n private plekkie.”

Dit voel of Nigels kan verstik in sy misnoeë. Muggels draai na Layla. Daar is ’n kil, koue uitdrukking in sy oë.

“Moenie kom assume dat dit die werk van ’n serial killer is hierdie nie. Julle plaasjapies ken nog min jokes,” sê hy koud.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters