Verlede maand
Die neefs begin hulle mission saam met Loukie
 ~ 

Bewaker van Donkerhoek is GWENDOLINE KORDOM se jongste pennevrug. Loukie se nuuskierigheid kry die oorhand en hy begeef hom en twee neefs in ’n ding. Geniet vandag hoofstuk 2.

‘LOUKIE, kry ons by Jan se draai,” sê Danie hier voor hom.

Floors steek sy hand uit en gryp Danie aan die skouer.

“Luister nou mooi, Danie. Ons gaan uit die dorp uit ry. En dan van ’n ander rigting af inbeweeg.

“Daar iewers lê ’n tweeryspoor van ’n pad wat die mense destyds gebruik het om by die myn uit te kom. By Dassie Se Kop skakel jy die ligte af.

“Dan hou jy reguit aan met die spoor tot waar dit eindig. Die bakkie los ons daar en stap verder. Dit neem ongeveer vyf minute tot by Donkerhoek.”

Danie glimlag breed.

“Ek het geweet ek kan op jou staatmaak, neef.”

Floors tuur die donkerte in. Danie is nie een vir die natuur nie. Hy sal in ’n molsgat staan en dit nie eens weet nie.

Wat as een van hulle in die donker in ’n gat val? Of in ’n tonnel vassit? Skielik is hy nie meer seker oor die nagtelike uitstappie nie.

Hy luister na Danie se valse nabootsing van “Namibsroos”. Theuns Jordaan skiet homself in die kop as hy Danie nou hoor.

Die veld vertoon kaal en eensaam in die donker, die berg spookagtig in die verte. Loukie staan en wag reeds op die afgesproke plek.

Hy draf nader toe hy die bakkie gewaar. Danie rol die ruit af. Loukie druk sy groot, vet gesig deur die opening.

“Naand, oom Danie, oom Floors. Lekker om julle te sien.”

“Ja, ja, toe ... klim!” jaag Danie hom ongeduldig aan. Hy trek sy gesig verleë terug.

Sy oë flits vir ’n oomblik oor Floors voor hy wegdraai. Hulle hoor hoe hy sukkel om sy swaar lyf op die bakkie te kry. Dit duur ’n paar sekondes voordat hy plathand teen die kant van die bakkie klap vir Danie om te ry.

“Ek dink nou net aan iets, Floors,” sê Danie skielik.

“Ek luister,” sê Floors onwillig. Wat broei weer in Danie se kop?

“Die klong weet niks van diamante nie. Ek en jy kan 40/40 tussen ons verdeel, dan kry hy net 20 persent.”

“Jislaik, Danie! Dis dié tipe gedrag wat veroorsaak dat ander wye draaie om jou loop. Kan jy wragtig nie een dag in jou lewe ten minste probeer eerlik wees nie?”

Danie is dadelik die ene spyt.

“Jammer, Floors, ek –”

“Bly liewer stil,” sê Floors kortaf.

Dis in dié tipe situasies dat ’n mens iemand leer ken, dink Floors ergerlik terwyl hy sydelings na Danie gluur. In die halfdonker kajuit lyk sy gesig gespanne.

Sy vingers is om die stuurwiel vasgeklem. Sy singery het saam met Theuns se liedjie in die donker verdoof. Al wat oorbly, is ’n lang, uitgerekte stilte tussen hulle.

Sy jare as veldwagter het van hom ’n versigtige mens gemaak. In die veld vind ’n mens ’n ander tipe kalmte. ’n Welkome samesyn met die natuur. Iets wat ontbreek in die samelewing. In die mens.

Alles is net ’n dolle gejaag na wind.

En nes dinge in die samelewing verander het, het dit in die natuur ook verander.

Plant en dier het onvoorspelbaar geword. Wanneer jy die natuur versteur, is daar dikwels ’n prys om te betaal.

Dit word gesien in die rampe wat die aarde tref. Aardverwarming en al daardie goed wat hy in die park se opleidingsessies leer.

Al dié dinge gebeur oor die mensdom nie die Here se goed met rus laat nie. En hy wonder: Is dit nie presies wat hulle nou gaan doen nie? Krap op ’n plek waar dit nie jeuk nie?

Want op Donkerhoek lê ’n verhaal. ’n Storie wat van generasie na generasie oorgedra word.

Dis dalk ook die rede hoekom Danie se gesig so lyk. Want hoe nader hulle aan die berg beweeg, hoe strammer word Danie se gesig.

En die dowwe slae wat hy hoor? Is dit die geluid van sy hart wat so wild in sy bors skop? Hulle ry presies soos hy aan Danie verduidelik het.

Die bakkie se ligte word verdoof en die skielike donkerte laat ’n vae onrus in sy binnekant broei.

Binne ’n paar minute stop die bakkie by Donkerhoek. Bo hulle hang ’n flou sekelmaan.

Floors kry die flitse aan die gang. Dan help hy Loukie om die toerusting af te laai terwyl Danie die gebied bespied.

In die flits se lig lyk Danie se gesig die ene bekommernis.

Hy lyk glad nie meer na die dapper man wat vroeër aan sy deur kom klop het nie. Maar dis nou te laat vir omdraai.

“Floors, kom kyk hier!” roep Danie opgewonde. Floors gooi die sak met een beweging oor sy skouer en haas hom na waar Danie staan.

Loukie volg kort op sy hakke. Sy flits beweeg heen en weer oor die plek wat Danie uitwys.

Donkerhoek se hek staan wawyd oop.

“Is dié hek dan nie altyd gesluit nie?” vra Floors verbaas.

Hy draai na Loukie.

“Was die hek oop toe jy hier was?”

Loukie se oë rek soos pierings.

“Nee, oom Floors, dit was toe. Dis hy. Dis die spook.

“Hy het geweet ons kom. Ek wil huis toe. Vat my huis toe, oom Danie, asseblief.”

Hy klou vreesbevange aan Floors se arm.

“Hou jou groot snater!” snou Danie hom toe.

“Hoe de hel kan ’n spook ’n hek met ’n ketting en slot oopmaak?

“Iemand moes dit stukkend gekap het. Iemand wat jou dalk dopgehou het, Loukie.”

“Ek weet nie. Ek wil huis toe, asseblief!” pleit Loukie.

“Dis ’n vrou,” sê Floors in die swaar stilte wat volg. Albei se koppe draai na hom.

“Die spook is ’n vrou. Volgens die verhaal dwaal haar gees hier.”

“Hou jou bek, Floors. Glo jy nou wragtig oumensstories? As ek geweet het julle twee sal soos vroumense tekere gaan, het ek ander ouens gevra,” sê Danie vies.

Floors trek sy skouers op.

“Ek help maar net die mannetjie reg, Danie.

“Gaan ons nou heelnag hier staan of gaan ons aan die werk spring?”

Hy neem die voortou. Agter hom hoor hy die ander twee aankom. Dit neem ’n rukkie voordat hulle genoeg lig oor die afgebakende deel kry. Daarna begin hulle kap en grawe.

Hulle werk in stilte. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. Tot Danie hardop gil. Floors slaan agteroor van die skrik.

Loukie spring op en mik vir die hek. Danie se woorde stuit hom egter in sy spore.

“Ek het hom! Ek het ’n diamant gekry!”

Danie dans opgewonde. Floors staar verdwaas na die klippie in Danie se hand.

Hoekom moes dit dan nou juis Danie wees? Hoekom kon hy nie voor die ander twee ’n diamant vind nie? Hoekom moet die lewe so onregverdig wees?

Hy staar jaloers na die klippie in Danie se hand.

“Kyk, Floors, sy kleur is amper geel. Weet jy wat beteken dit?

“Ek het die jackpot geslaan!” Floors kyk vies na Danie wat soos ’n kind op en af spring.

Die volgende oomblik breek ’n onaardse kreet deur die veld.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters