4 dae gelede
Die man gee Billy die creeps, maar dis ’n goeie deal
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders. “Die Draak-orde” is SALMON SMITH se jongste verhaal. Geniet nou hoofstuk 2!

DAAR is ’n blik in die man se oë wat Billy Lewack nie kan peil nie. Iets sê vir hom hy moet hardloop – ver weg van dié man af.

“Jy gaan binnekort die wêreld aan jou voete hê. Oral waar jy gaan, sal mense jou naam uitgil,” gaan die man voort.

“H-hoe nou?! W-wat sê jy daar?!” stotter Billy heel verbaas.

Dan sagter: “Jy ken my dan skaars. Jy weet nie hoe ’n vrot sanger ek is nie. Jy moes nou my performance daar binne gesien het! Ek het die k*kste vertoning gelewer. Die skare het my geboe!”

“Ek weet. Ek was daar binne.” Die man se woorde slaan byna Billy se wind uit.

“H-hoe nou?!” hyg Billy.

“Kom klim hier langs my in, dan kan ons lekker gesels,” nooi die man. Daar is ’n ligte glimlag om sy mondhoeke, maar sy oë lag nie saam nie. Inteendeel, sy oë is donker, yskoue poele.

Billy wik en weeg sy opsies. Die man gee hom die creeps, maar aan die ander kant kan hy nie só ’n geleentheid laat verbygaan nie. Die man belowe hom die wêreldse fame waaroor hy al jare droom.

Hy trek sy skouers op. “Oukei, ek het seker niks om te verloor nie,” sê hy.

Hy loer vinnig rond, loop om die kar en skuif agter langs die man in. Hy sien die luukse binnekant van die kar. Dit lyk kompleet soos ’n limousine.

Die passasiers se kompartement is met ’n glaspaneel geskei van die bestuurder s’n. En al die sitplekke is van egte leer.

Hier voor hulle, in die middel van die vloer, is ’n tafeltjie waarop ’n yshouer staan met ’n bottel wyn daarin. Twee sjampanjeglase staan langs dit gereed.

Billy besef hy is nie hier om die luuksheid van die motor te bewonder nie. Hy draai vinnig na die man langs hom.

“Kom, laat ons gesels, Meneer … ’m …!” val hy sommer met die deur in die huis.

“Jy kan my sommer net Cerberus noem,” stel die man homself voor.

“Ons gebruik glad nie ons regte name nie.

“Dis nes van julle artists. Julle gebruik mos stage-name,” verduidelik Cerberus toe hy Billy se vraende blik sien.

Hy leun vorentoe. “Pontus, jy kan maar ry!” beveel hy die bestuurder. Die motor kom in beweging.

Cerberus haal die bottel wyn uit die yshouer. “Kom, laat ons eers ietsie drink,” sê hy.

Hy maak die twee sjampanje­glasies vinnig vol en oorhandig een aan Billy.

“Op jou blink toekoms!” sê Cerberus en maak in die lug ’n toast.

Billy sluk die heerlike, yskoue sjampanje gulsig af. Sy keel is droog van die inspanning van vroeër daar op die verhoog. Hy voel hoe die vloeistof sy keel lawe. Hy het lank laas sulke lekker wyn gedrink. As sukkelende rapper moet hy sy sente twee keer omdraai. So, daar is nie nog geld om sulke duur wyne te bekostig nie.

Skielik draai Cerberus na Billy.

“Mister Billy Lewack, laat ek sommer kortpad vat,” sê hy.

“Ek behoort aan ’n organisasie genaamd Die Draak-orde. Dit is –”

“Die Draak-orde? Wat vir ’n naam is dit vir ’n organisasie?” val Billy Cerberus bruusk in die rede.

“Asseblief, mister Lewack, later meer oor die naam. Laat ek net gou eers verduidelik waarvoor ons organisasie staan,” sê Cerberus.

Billy vee ’n lastige druppel van sy lippe af. “Oukei, laat ek hoor!”

“Ons organisasie help musikante, akteurs, skrywers, you name it, om hulle loopbaan ’n hupstoot te gee,” gaan Cerberus voort. “Ons bestaan al ’n hele klompie jare hier in Suid-Afrika. Ons is besig om uit te reik na die hele kontinent, en daarna na die res van die wêreld.

“Ons nader enige kunstenaar of wie ook al wat ons sien werklik talent het, dan help ons daardie persoon om hoë hoogtes te bereik en sodoende ryk en beroemd te raak.”

Billy wonder hoekom hy dan nog nooit van dié organisasie gehoor het nie.

“So, stel jy belang?” onderbreek Cerberus sy gedagtegang.

Billy kyk Cerberus skepties aan. Hy kan nie glo wat hy hoor nie. Dit klink dan alles te goed om waar te wees.

Maar, besef hy, as dit waar is, is dít sy geleentheid dié om vir die wêreld te wys wat in hom steek. Dit is nou die geleentheid om iets van sy lewe te maak en sy droom te verwesenlik.

“Waar’s die catch?” vra hy versigtig.

Cerberus lag diep uit sy maag. “Ek het geweet jy gaan só iets vra, mister Lewack.

“Ek weet dis maar ’n human factor om skepties te wees.

“Nee, daar is geen catch nie. Jy moet net aan ons organisasie behoort en jy sal sien: Alles sal mooi in plek val vir jou. Maar jy gaan binnekort alles van ons organisasie hoor.”

Cerberus wys na die groot mure wat skielik hier voor hulle opdoem.

Billy kyk gefassineerd na die hoë, fancy mure en die massiewe motorhek waarteen die pad doodloop.

Hy draai om en kyk na die pad agter hulle. Hy besef nou eers hulle het deur ’n dig beboste gebied gery. Dit lyk of hulle hulle in ’n oerwoud bevind.

Hy het nie eens ’n idee van waar hulle is nie. Hy was so geïnteresseerd in wat Cerberus hom vertel het dat hy nie besef het watter roete hulle inslaan nie.

Hy wys onseker na die mure. “W-wat is agter daardie mure?” vra hy.

“Dít is waar ons organisasie gesentreer is,” antwoord Cerberus. “So, stel jy daarin belang om ons te join?”

Billy se gedagtes is ’n warboel. Iets sê vir hom hy moet versigtig wees.

Dat hy nóú moet omdraai en die hasepad kies.

Maar dan is daar sy hunkering om sy musiekdroom te bewaarheid.

“J-ja …” ’n Onsekere fluistering. Hy maak vinnig keel skoon.

“Ja!” nou harder.

Cerberus glimlag van oor tot oor. “ ’n Baie goeie besluit, mister Billy Lewack!”

Billy sien nie die yskoue, donker blik in Cerberus se oë nie.

“Pontus, ons kan maar ingaan!” beveel Cerberus die bestuurder.

Die groot motorhek skuif geruisloos oop. Dit lyk soos ’n nuwe wêreld wat voor Billy oopgaan.

Agter die mure is ’n massiewe, pragtige tuin. Daar is kleurryke blomme en lowergroen bome en struike. Die pragtige, geplaveide motorlaan loop tussen twee rye koningin-palmbome met hulle elegante stamme deur. Daar ver voor loop die laan dood teen ’n imposante, spierwit herehuis.

Nêrens is ’n siel in sig nie. Hulle ry stadig. Hoe nader hulle aan die huis kom, hoe kouer raak dit in die motor.

Toe hulle voor die huis stilhou, gaan die soliede geelhoutdeur outomaties oop. Nog ’n rilling gaan teen Billy se rug af. Tóé weet hy het hom in ’n ding begewe waaruit hy nie maklik gaan kom nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters