Verlede maand
Die mal professor hou die president in sy kantoor aan
 ~ 

HALLO daar, Sonlanders! Bonga die Tokko-Man: Die Staatsgreep is die vervolg op Interdimensionele Oorlog uit die pen van SALMON SMITH. ’n Barmhartige Samaritaan kry die bewustelose Tokko-Man in die veld en red sy lewe. Maar is hy betyds om die bose prof. Von Brauwn se plan te fnuik? Lees vandag die slothoofstuk!

VASGENAEL sit almal en kyk na die groot dubbeldeur wat in die gang uitloop.

Toe bars Von Brauwn en tien swaar gewapende soldate by die president se kantoor in. Hadebe en sy span deins verskrik terug. Hulle holle knyp van vrees.

Die soldate neem gou strategiese plekke in die kantoor in.

Von Brauwn gaan staan voor die hooggeplaastes. ’n Breë grynslag verskyn op sy bakkies.

“Is dít nou my verwelkomingspaartie! Nou, waar’s die wyn en platters dan?” sak hy sarkasties af.

“Wat wil jy hê, prof. Tony von Brauwn?” vra president Hadebe effe vreesbevange dog saaklik.

Skielik pluk Von Brauwn ’n vuurwapen uit en skiet een van die hoë weermagoffisiere point blank in die voorkop. Geskokte uitroepe weerklink deur die vertrek.

“Oukei, noudat julle sien hoe ernstig ek is, kan ons besigheid gesels,” sê Von Brauwn kil, sy grynslag skielik witweg.

“Jou OGO-administrasie vat die mense van Suid-Afrika al jare vir ’n gat.

“OGO staan kwansuis vir ‘Ons Gee Om’, maar dis die korrupste party suid van die Sahara.

“Julle gee net om vir julle eie donnerse sak. Die land krepeer van julle skelms se onvermoë om die land se departemente te bestuur!

“Die mense wat julle in daardie posisies ingevote het, krepeer van ellende in plakkerskampe terwyl julle met julle vet soustrein-gatte in julle groot mansions bly en die room eet!”

President Hadebe kap terug: “Ja, maar was dit nou nodig dat onskuldiges met hulle lewe moes boet vir jou sogenaamde welwillendheidsaak?!”

Von Brauwn trek sy skouers op. “Daar moet casualties of war wees, Mister die President!

“Dit was ál manier hoe ons aan die wêreld kon bewys dat ons ernstig is oor ons sending om die land oor te neem!”

“Jy gaan nie in jou doel slaag nie, Von Brauwn! Die Tokko-Man gaan jou in die hande kry!” bulder Hadebe dit uit.

Von Brauwn bars uit van die lag. “Julle sogenaamde superhero is vrek. Hy lê daar in die veld naby De Doorns! Yskoud, vrek! Die aasvoëls en kraaie hou seker al fees op sy liggaam!”

Teleurgestelde uitroepe klink tussen die hooggeplaastes op.

OP DAARDIE oomblik val die helikopter waarin die Tokko-Man is, op die dak van die hoë parlementsgebou by Pleinstraat 120 neer. Een van die Suid-Afrikaanse vegvliegtuie het in die geharwar die helikopter aangesien as vyandige vliegtuig en die stertskroef raak geskiet.

Voordat dit op die dak van die gebou in vlamme neerstort, is die Tokko-Man uit. Hy voel jammer vir Wicus, die man wat sy lewe gered het en nou met sy eie lewe boet.

Met sy sweep in sy hand gee hy massiewe spronge tot op die parlementsgebou se dak.

Hy som vinnig die situasie op. Die oorlog het nou al deur die middestad tot by die parlement versprei.

Oral hardloop soldate van die Suid-Afrikaanse weermag en Von Brauwn se private army rond en vuur op mekaar.

Van die Ozarki’s en hulle grootpoot-gediertes is daar geen teken meer nie. Net groot, slymerige groen blertse die hele wêreld vol.

Die Tokko-Man se sweep begin klap en Von Brauwn se manskappe val in hulle nommers.

“P-Professor … kyk daar!” gil een van die soldate wat in die kantoor stelling ingeneem het waar Von Brauwn die president en sy gevolg as gyselaar aanhou. Hy wys na die televisieskerm.

Almal se koppe draai gelyk om te kyk. Beeldmateriaal wys hoe die Tokko-Man – springlewendig – met sy Akrili maai onder die vyand daar buite.

’n Gejuig klink onder president Hadebe en sy span op.

Von Brauwn snak na sy asem. “Hoe is dit moontlik?!” hyg hy dit uit. “Ek het daai man dan self vrek gesteek! Hy is mos die duiwel self!”

Skielik verdwyn die Tokko-Man uit sig.

“W-waar’s h-hy nou?!” stotter Von Brauwn verbouereerd.

Terwyl almal nog so verbaas na die TV skerm staar, klink ’n harde ontploffing op. ’n Groot gat word in die verste muur van die vertrek geruk.

Terwyl almal skarrel vir dekking, verskyn die Tokko-Man in al sy glorie met sy sweep in sy hand uit die stofwolk – ’n toneel wat die mees geharde mens in sy broek sal laat skyt! Hy klap sy sweep eenkeer in die rigting van Von Brauwn se manskappe en wis ses van hulle gelyktydig uit. Toe gryp hy president Hadebe om die lyf en verdwyn vinnig met hom na veiligheid.

Pandemonium breek uit onder dié wat agterbly in die vertrek. In die geharwar word skote afgevuur.

Toe die Tokko-Man seker gemaak het dat president Hadebe veilig in die parlement se raadsaal tussen sy oorblywende lyfwagte is, hardloop hy terug Tuynhuys toe.

Die weermag het intussen by Tuynhuys ingestorm en laat loop met die sarsies op Von Brauwn se manskappe.

In die proses probeer Von Brauwn wegkom, maar twee koeëls uit ’n R4-geweer in sy bobene laat hom al gillend grond toe val.

Die Tokko-Man begelei vinnig die ander hooggeplaastes na veiligheid.

Later daardie aand bedank president Hadebe die Tokko-Man regstreeks op TV.

“Tokko-Man, ek bedank jou dat jy weer die inwoners van Suid-Afrika gered het van daardie besete wetenskaplike,” sê Hadebe terwyl hy die superhero se hand skud.

“Ons weet dat ons altyd op jou kan staatmaak. Want die wêreld is woes daar buite en ’n mens weet nooit watter mal mens weer eendag vorendag sal kom om uiting te gee aan een of ander sieklike en onderduimse plan nie.

“Von Brauwn sal nou krimineel aangekla word kragtens die Wet op Terrorisme.”

Die Tokko-Man tree na vore en kyk loodreg in die TV kamera in.

“Inwoners van Suid-Afrika!” sê hy in sy kenmerkende diep stem. “Ek sal altyd daar wees om my land te dien en julle te beskerm.

“Ek sal julle nooit in die steek laat nie. Vir solank as wat ek die Tokko-Man is, kan julle op my staatmaak!”

Hy steek sy sweep as ’n saluut in die lug op en klein vonkies sis daarlangs op. En oral waar mense na die uitsending kyk, weerklink hulle toejuigingskrete op.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters