Verlede maand
Die Laksman deel met Samantha iets oor haar herkoms
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nee kyk, hierdie onbekende laksman laat dié uncle worry. Die joernalis Samantha Julies word ná die moord op die politikus Justin Louw wéér deur die onbekende man gebel en meegedeel dat Louw deel van ’n seksnetwerk was. Die onbekende man beloof dat meer bloed gaan vloei. Maar bluf hy net? Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON­ se Die Laksman.

DIE son het skaars sy kop uitgesteek, toe is Samantha­ al by die winkel om ’n koerant te gaan koop.

Sy kan nie eens onthou watter tyd van die nag sy uiteindelik in die bed gekom het nie.

Maar wat sy wel weet, is dat die min slaap beslis die moeite werd was. Sy het al wat koerant in die Kaap is, se gat geskop met haar storie.

In die kar gekom, bars sy byna van trots toe sy haar byline op die voorblad gewaar.

Soos iemand wat die eerste keer van die nuus te hore kom, lees sy deur haar berig.

Sy sal die berig moet uitknip en vir haar ouers moet pos, maak sy ’n mental note. Haar ouers is tegnologies gestremd en e-pos en WhatsApp is terme wat hul ore laat suis. Sy laat die koerant sak, en frons. Die Laksman het gesê Louw was deel van ’n seksnetwerk en dat nóg moorde sal plaasvind.

Wie is next? Hoekom is die man so suinig met sy inligting? En hoekom het hy dit sy mission gemaak om hierdie moorde te pleeg?

Maar dan laat ’n ander gedagte haar penorent sit.

Die eerste keer het die Laksman haar by die werk gebel, maar gisteraand ...

Gisteraand het hy haar op haar selfoon gebel! Waar kom hy aan haar nommer? Is hierdie geheimsinnige man dalk iemand wat sy ken?

Samantha sit nog so en wonder, toe lui haar selfoon. Unknown number.

“Jy is seker baie chuffed met jou voorblad,” sê die nou bekende skor stem sonder om te groet.

“Die Laksman,” sê Samantha.

“In lewende lywe, al is dit nou oor die telefoon, ja,” antwoord die man.

“Waar kom jy aan my nommer?” vra Samantha.

Die man lag. “Jy sal verbaas wees oor waartoe ek alles toegang het,” antwoord hy vaag.

“Maar ek het jou nie gebel om vrae te beantwoord nie. Ken jy vir Johnnyboy Riley?”

“Die leier van die Not-so-Sexy- bende?” vra Samantha. “Ek het al van hom gehoor, ja. Wat van hom?”

“Hy is die man wat daai gemors van ’n Louw en Die Binnekring van girls voorsien het.”

“Die Binnekring? Wat vir ’n ding is dít?” vra Samantha dom.

“Ag nee,” sê die man teleur- gesteld. “Ek dog jy is slimmer as dit. Of het ek jou te veel krediet gegee?”

Samantha wil haar vererg, maar besef onmiddellik dat sy klein sal moet speel.

Haar volgende scoop hang immers hiervan af.

“Enlighten my,” sê sy dan. “Ek mag dalk vandag se kind wees, maar ek leer gou.”

“Kort nadat apartheid sy gat gesien het, was dit die era van die ‘it’s our time to eat’-kliek.

“Hulle was ses, sewe jong opkomende politici met f*kk*l struggle credentials.

“Maar wat hulle almal gemeen gehad het, was hul aptyt vir jong meisies. Hoe jonger, hoe beter.

“Johnnyboy Riley was nog ’n snotgat wannabe-gangster toe hulle­ hom recruit het.

“Die Binnekring wou nie hul eie hande vuilmaak nie en het Johnnyboy as hul h*lborsel ingespan.

“In ruil vir die vuilwerk wat hulle moes doen, het hulle gesorg dat hy vet tenders vir government jobs losslaan.

“En ewe skielik toe ry Johnnyboy nie meer ’n Uno nie, maar Ferrari’s en ander plêstiek k*k.”

“Nou wat het hy met die prys van eiers te doen?” vra Samantha.

“Omdat die einste Johnnyboy tans sonder eiers sit,” antwoord die man.

Samantha dink die man maak eers ’n grap, maar dan gaan hy voort: “Kort nadat ek daai vuilgat Louw weggeblaas het, het Die Binnekring­ daarvan te hore gekom.

“Hulle almal lê nou laag, maar hulle maak hulle laat as hulle dink ek kan nie by hulle uitkom nie.

“Die Binnekring is nou besig om alle loose ends wat hulle kan inkrimineer, uit die weg te ruim.

“Johnnyboy het al soveel aanslae op sy lewe gehad, selfs by die lughawe toe hy ’n vlug Japan toe wou haal.

“Maar in vanoggend se vroeë oggendure het Die Binnekring­ daarin geslaag om hom na ’n donker stegie te lok in die Bellville, waar hitmen op hom toegesak het.

“Hulle het hom ontman en vir dood agtergelaat, maar Johnnyboy is soos ’n steeks donkie wat nie ken van gaan lê nie.

“Hy het na Voortrekkerweg gekruip waar ’n EMS-ambulans wat toevallig daar verby gery het, hom gesien en met hom na die Melomed gejaag het.”

“So, hy lewe nog?” vra Samantha in ongeloof. As sy na die Laksman luister, dan voel dit kompleet vir haar asof sy na ’n movie kyk wat voor haar afspeel.

“Sy lewe hang aan ’n draadjie, maar hy is nog in die land van die lewendes,” antwoord die Laksman.

“Soos ek verstaan, het hy sy bewussyn herwin en as ek jy was, sou ek maak dat ek so gou as moontlik by hom uitkom.”

“Hoekom?” vra Samantha nuuskierig. “Wat het hy met alles te doen as jý die een is wat Justin Louw vermoor het?

“Jý is die een wat eintlik rekenskap vir jou dade behoort te gee.”

Die man vererg hom. “Moenie vir my kom preek nie.

“Wat ek gedoen het, is niks in vergelyking met al die onskuldige vroue wie se lewe Louw en die res van sy gespuis vernietig het nie.

“Ek sal eendag pa staan vir my dade. Maar nou is dit hulle tyd om vir hulle sondes te boet.”

Samantha skud haar kop. “Die lewe werk nie so nie,” sê sy. “Niemand het jou die judge en executioner gemaak nie.”

“Oh well,” sê die Laksman. “Dis duidelik dat ek besig is om my tyd te mors.

“Clearly stel jy nie verder belang in hierdie storie of in jou background nie.”

“Wat het my agtergrond hiermee te doen?” vra sy skepties.

Die man sug. “Een van die grootste sondes op aarde is om dom te wees,” sê hy.

“Lank, lank gelede was Johnnyboy bymekaar met ’n girl wat met die lyf geraak het. En omdat Johnnyboy getroud was en nie wou hê sy vrou moet uitvind nie, het hy geld vir hierdie vrou gegee vir ’n backstreet abortion.

“Maar die meisie het nie gegaan nie, die kind gehou en dit later opgegee vir adoption. En jy, liewe meisie, jy is daai baba...”

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters