3 maande gelede
Die Laksman bel ’n journo om oor Justin te praat
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die flambojante politikus Justin Louw vier nog so lekker sy vryheid, toe slaan ’n geheimsinnige man toe. Dié ou het homself voorgeneem om Louw te laat boet vir die verkragting van drie van sy vroulike werk­nemers. Die geheimsinnige man laat sy vuurwapen wat met ’n knaldemper aangepas is, die praatwerk doen. En so hard as wat Justin probeer het om die politiek van hom te laat kennis neem, so saggies gaan hy die wêreld uit ... Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON­ se Die Laksman.

SAMANTHA Julies sug swaar.

Dit is op aande soos dié dat sy wonder hoekom sy ooit joernalistiek geswot het.

Om in ’n nagkantoor te werk, is erger as die hel. Terwyl almal al lekker by die huis is, sit sy nog hier soos kiepie.

En dít net om oproepe te beantwoord van anties wat kla oor verstopte dreine in Uitsig of ’n sangoma wat met iemand se pen­sioen weggehol het.

Sy kan dit nie verstaan nie. As ’n mens nie jou agterwêreld met ’n stuk koerantpapier afvee nie, sal die dreine mos nie verstop wees nie.

En daar is mos nie so iets soos ’n olie wat jy aan jou bankkaart kan smeer om jou geld te vermeerder nie.

Sy vryf haar oë. Die afgelope maar aande slaap sy nie lekker nie.

En dis nie net die werk nie. Sy en haar berk, Jon-Jon, het groot probleme.

Jon-Jon wil trou, maar sy wat Samantha is, sien nog nie kans daarvoor nie.

Sy het dan nog nie eens naam in joernalistiek gemaak nie. Maar Jon-Jon is erger as ’n broeis hoender.

Hy dreig nou al glad om aan te gaan met sy lewe as sy nie bereid is om te settle nie.

Samantha sug weer. Sy en Jon-Jon kom al van hul eerste jaar op varsity saam aan.

Hy is nie die brightste spark in die vuurwerkvertoning nie, maar daai stewige rugby-arms van hom laat haar altyd veilig voel, veral as sy emosioneel uitgetap is van ’n hartseerstorie wat sy moes dek.

Sy wip van die skrik toe die telefoon langs haar lui.

Half teësinnig tel sy die gehoorstuk traag-traag op.

“Nuuskantoor, hoe kan ek help?” vra sy.

“Stel jy belang in ’n lekker scoop?” vra ’n skor stem.

Samantha rol haar oë. Hoekom dink mense altyd elke liewe storie is ’n scoop?

“Dit hang af van watse storie dit is, Meneer,” antwoord sy en hoop haar irritasie kom nie te erg in haar stem deur nie.

“O, maar dit is ’n lekker storie. ’n Sappige storie,” sê die man. “Ken jy vir Justin Louw?”

“Die politikus?” vra Samantha en sit meteens regop. “Wat van hom?”

“Hy is ’n paar minute gelede doodgeskiet. Dít terwyl hy nog so lekker met ’n drankie in die hand gesit en celebrate het dat hy sy hofsaak gewen het.”

Samantha loer vlugtig na die almanak op haar rekenaar net om seker te maak dis nie 1 April nie.

“En hoe weet u dit?” vra sy dan skepties. “Ek het vroeër op die TV-nuus gesien hoe meneer Louw vol smiles uit die hof uitstap. En nou sê u hy is dood?

“Ek wil nie snaaks wees nie, maar ek vind dit moeilik om te glo.”

Die man lag. “Ek sien jy is ’n ongelowige Thomasina, maar ek beloof jou ek sal nie my airtime op prank calls mors nie.”

“Maar hoe weet ek dit is die waarheid?” hou Samantha vol.

“Want ék het hom doodgeskiet,” antwoord die man.

Dié keer trek Samantha haar asem skerp in.

“Daai luis het dit verdien,” gaan die man voort.

“Ek kon hom nie met sy vieslike dade laat wegkom nie.”

“En wie is u?” gooi Samantha ’n klip in die bos.

Die man lag. “Nice try,” sê hy. “Noem my maar die Laksman.

“En hierdie is nie die eerste keer dat ek geregtigheid laat geskied nie.

“Dit sal ook nie die laaste keer wees nie.”

Samantha sit nog met die gehoorstuk teen haar oor en dit vat haar ’n hele tydjie om te besef dat die man die oproep beëindig het. Sy los ’n kragwoord, spring op en drafstap na haar nagredakteur se kantoor.

Half uitasem vertel sy hom van die vreemde telefoonoproep wat sy ontvang het.

“Nou hoekom staan jy nog hier?” bulder hy.

“Kry bevestiging by die polisie. Bel een van ons stand-by-fotograwe en dan kry jy daai mooi lyfie van jou by Louw se huis.”

Samantha skarrel terug na haar lessenaar. Met bewende vingers blaai sy deur haar kontakboekie totdat sy by die kontakbesonder­hede van die provinsiale polisiewoordvoerders kom.

Sy kan amper nie eens die nommer skakel, so nervous is sy.

Die gedagte dat sy haar eerste voorblad kan haal, is byna te veel vir haar.

“Talk to me, lady,” beantwoord kapt. FC van Dyk sy selfoon.

“Kaptein,” sê Samantha in ’n gejaagde stemtoon. “Maak tog gou my aand vir my, asseblief.”

“Dingetjie, waarvan praat jy?” vra Van Dyk. “Hoe klink dit dan vir my jy drink by die werk?”

Samantha lag. “Nee kaptein, dis mos nog nie naweek nie.

“Maar ek wil hoor of kaptein kan bevestig of Justin Louw vanaand geskiet is.”

Daar is ’n lang stilte aan die ander kant van die lyn.

“Hallo? Is kaptein nog daar?” vra Samantha benoud.

“Jong, waar kry jy jou info vandaan?” vra die polisiekaptein. “Is jy dan met die helm gebore of ’n ding?”

Samantha giggel senuweeagtig. “Ek het my bronne, kaptein.”

“Die enigste source waarin ek glo, is tomato sauce,” grap kaptein FC van Dyk.

“Hier het ek so pas ’n oproep gekry dat ek na Louw se huis moet gaan om inligting te versamel vir ’n persverklaring en ’n minuut later bel jy my?

“Daai moet ’n báie goeie bron wees wat jy het.”

“Ek vermoed so,” probeer Samantha vaag klink. “Ek is ook nou op pad uit na die toneel toe. Moet ek vir ons KFC saambring?”

Kaptein FC van Dyk bars uit van die lag. “Jy kan gearresteer word as jy daai ‘K’ voor my naam sit, hoor.”

Die twee wissel nog ’n paar grappe en dan word die oproep beëindig. Samantha bel haastig haar stand-by-fotograaf, Jonathan Lambada, en vra hom om haar by die betrokke adres te ontmoet.

Dan gryp sy haar karsleutels, handsak en notaboekie en nael by die kantoor uit.

Sy voel dit so aan haar kleintoontjie dat ’n groot storie op haar wag. Iets groots is hier aan die gebeur. Iets groots!

  • Lees more verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters