18 dae gelede
Die kerk-ou issie net creepy nie, hy lyk gevaarlik
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dit is vir ’n ouer die swaarste swaar om ’n kind aan die dood af te staan. Veral vir ’n pa wie se lieflingkind vermoor is en wat by haar begrafnis vol diepe berou staan. Berou oor goed wat hy nie moes gedoen het nie. Geniet nou hoofstuk 2 van “Nemesis”, die jongste verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

RUDY slaak ’n sug van verligting toe hy finally alleen kan wees.

Net hy en sy pakkie entjies. Hy sou graag straight huis toe wou gaan, maar hy moes ná afloop van die seremonie by die begraafplaas by die kerksaal gesig kom wys.

Hierdie gedeelte van ’n begrafnis steek hom dwars in die kop. Hordes mense stroom gewoonlik na afloop van ’n begrafnis na ’n saal vir iets te ete en te drinke.

Oor die jare het Rudy die idee gekry dat hierdie etery eintlik maar vir die begrafnisgangers die highlight is.

Selfs mense wat nie eens die decency gehad het om iemand se begrafnis by te woon nie, steek hier uit vir ’n bordjie kerrie – of tamatie­bredie.

Sy ever end is natuurlik wanneer die begrafnisgangers met bakkies op bakkies koek wegstap – so asof hulle van iemand se 21st af kom.

Hy skud sy kop. Hierdie soort mense sal hy nooit verstaan nie. Die een se dood is voorwaar die ander se brood ...

“Kan ek ’n light kry, asseblief?”

Hy wip van die skrik toe die man hier langs hom praat.

Hy was so in sy eie gedagtes vasgevang dat hy die man nie eens gesien nader kom het nie.

Sonder om op te kyk, grou hy in sy broeksak naarstig op soek na sy aansteker. Hy hou die lighter na die man toe uit en ’n skrikgevoel spoel oor hom.

Dit is dieselfde man wat hy vroeër in die kerkdiens gesien het. Met dieselfde yskoue, uitdrukking­lose oë. Die man haal sy pakkie sigarette uit sy broeksak, neem een en steek dit aan.

Hy blaas die rook behaaglik uit en hou die lighter dan uit. Maar voordat die aansteker gevat kan word, trek hy dit terug.

“Jou naam is mos Rudy, nè?” vra hy kortaf. “Rudy Joshua? McKenzie Joshua se pa?”

Rudy knik bot. Die Vader weet, hy is nie lus vir geselskap nie.

Kort ná Kenzie se dood en nadat haar lykie gevind is, het mense hulle drumpel flenters geloop.

As dit nie die een of ander joernalis was wat op soek was na ’n interview nie, was dit ’n lastige antie wat likes koffie en suiker gebring het, maar eintlik op soek was na nuus om oor te gaan skinder.

“Easter is nog ver, maar ek sien jy het nou al begin om jou vis in te lê,” sê die man.

Rudy gaap hom verdwaas aan. Wat – is hierdie man dan besig om tokkies te vang?

Die man knik en wys met sy oë na Rudy se hande.

“Ek sien jou vingers is lekker geel, amper soos iemand wat besig was met pickled fish.

“Maar ek en jy weet mos albei dat daai eintlik button-vingers is, of hoe?”

Rudy vervies hom. “Sorry, wie’s djy om vir my soe k*k te wil kom vra?” vra hy grof. “Dit was my kind se begrafnis. Het djy dannie respect’ie?”

Die man blyk min gespin te wees met sy uitbarsting.

“Klink my ek het ’n touchy onderwerp aangeraak,” antwoord hy. Sy oë vernou.

“Maar rumours have it dat as jy nie daai dag buttons gerook en ge-earth het nie, dan was jou kind vandag nog hier.”

Rudy raak spierwit in die gesig. “Rumours se gat! En jou gat ook, man. Is djy lekke’ in jou kop, ha?”

“Ek kan jou daai selle vraag vra,” kap die man terug. “Maar daai gaan nie een van ons twee iets in die sak bring nie.

“Feit van die saak is, jy was careless. En as ek dit weet, gaan die polisie binnekort ook daarvan uitvind. En dan gaan jy sien hoe kruisig almal jou meer as wat Liewe Jesus ooit gekruisig is.

“Jou vrou gaan jou wegjaag, die gemeenskap gaan jou bloed soek en die law gaan van jou vir alle slegte ouers ’n voorbeeld wil maak.”

Rudy voel hoe die bloed uit sy gesig dreineer. Hoe ... Hoe weet hierdie vreemdeling van sy dinge?

Ja, hy vat ’n wit pyp, meer as net gereeld. Maar hy rook gewoonlik agter in hulle jaart in die wendy en dis net Rachel en ’n paar close vriende wat daarvan weet.

Gewoonlik stuur hy ’n ander button-kop om vir hom ’n halwe pil te gaan koop en as hy die cream klaar aangesteek het, kan hierdie ou roeker ’n paar hits slaan.

Maar dié is nie iets wat hy op Gumtree adverteer nie.

En hoewel Rachel nie happy met sy button-rokery is nie, discuss sy dit nie met ander mense nie.

Tensy sy dit natuurlik met een van haar kerkmense gediscuss het.

“Is jy in Rachel se kerk?” vra Rudy en loer agterdogtig na die man langs hom.

Iets aan hierdie ou maak nie vir hom sin nie. Sy kop is kaal geskeer, maar hy sien die grys spikkels langs die slape lê. Hy is heel formeel aangetrek: swart broek, swart hemp en ’n bypassende swart das.

Hier en daar is ’n plooi te bespeur, maar oud is hierdie man beslis nie.

En hy wat Rudy is, is seker daai is spiere wat hy onder die hemp sien bult.

“En jou ou tjommie Rowan is nou witweg?” sê-vra die man. “Maar hoe kan iemand net soos ’n speld verdwyn, sonder dat mense hom opgemerk het?”

“Sorry, wie’s djy nou wee’?” vra Rudy diep rou.

“Ek kan nie onthou dat ek jou ooit ge-invite het om hier saam my te ko’ roekie.”

Die man gee ’n laggie. “Ek vra om verskoning,” sê hy dan. Daar is egter geen spyt op sy gesig te bespeur nie. “Diegene wat al met my kennis gemaak het, noem my Nemesis. Net dit. Ek worry nie nog van ’n van nie.”

Rudy gluur Nemesis aan. “Djy maak sieke ’n joke,” spoeg hy die woorde uit. “Nemesis van wie en wat nogal?”

Die glimlag verdwyn van Nemesis se gesig. Daar is ’n koudheid in sy oë wat Rudy kriewelrig maak. Hierdie man ken van doodmaak, gaan dit deur sy mind.

Hy vat ’n laaste trek van sy entjie en skiet dit dan eenkant toe.

“Ek moet gaan, die mense wag vir my,” sê hy haastig en maak aanstaltes om te loop.

Hy skuur verby die man en ril weer onwillekeurig.

“En Papa wag ook op jou as jy nie met my gaan saamwerk nie.”

Nemesis haal ’n stukkie papier uit sy sak en hou dit uit.

“Ek is die nemesis van enige iemand wat dit durf waag om ’n onskuldige leed aan te doen,” sê hy kil. “Vat my nommer en bel my môreoggend wanneer jou button-babbelas oor en verby is.

“Ek kan jou nou al waarsku: As jy my nie gaan help om jou kind se killer op te spoor nie, gaan ek vir jou ook kom. Dis nie ’n promise nie, dis ’n feit.”

Rudy besef hierdie man bedoel elke liewe woord.

Traag steek hy sy hand uit en vat die stukkie papier.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters