10 dae gelede
Die katoolse Karel spoil hom bietjie met sexy foto’s
 ~ 

HY IS ’n nare ou kalant wat selfs hier in sy silwer jare steeds so jags soos ’n jong man is. Ja-nee, die reeks-egbreker Karel kan maklik bekroon word as die koning van serial dating. Hy weet sy vrou, Nella, is ’n goeie huishoudster en koskoker, maar dis waar dit eindig. Sy jeukerige en neuke­rige streke het ook veroorsaak dat hy nooit ’n verhouding met sy kinders kon bou nie. Lees vandag verder aan CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy “Dagboek van ’n Serial Dater” noem.

OU KAREL het behoorlik ’n industriële fan nodig as hy hom sou wou laat koud waai.

Asian Beauty se antwoord op Karel se jagse boodskap het dit aan hom gedoen.

Op die koop toe wil Asian Beauty nog foto’s aan die ou jong stuur.

Maar daar is ’n voorwaarde.

’n Voorwaarde wat Karel duur gaan kos.

Asian Beauty het ’n bankrekeningnommer aan hom gestuur.

Karel se kop werk oortyd. Uitbuiting is nie eens ’n gedagte wat by hom opkom nie. Wel ander goeters ...

Al waaraan hy kan dink, is dat Asian Beauty dus beslis in Suid-Afrika is omdat dié tipe bankrekening net hier in die land gekry kan word.

Om vir haar gou R5 000 oor te betaal vir vyf allemintige sexy foto’s en ’n bonus van drie video’s klink vir hom soos ’n baie goeie bargain.

Asian Beauty sê selfs sy sal die prys met R1 000 drop as hy weekliks sulke foto’s en video’s wil hê.

In sy conversation met haar hou hy hom eers so ’n bietjie hardegat.

So asof hy nie worry om die foto’s en video’s van haar te kry nie.

Maar dan gee hy in en voordat die son opkom, gaan die transaksie toe deur.

Karel is weer bly dat ou Nella net mooi niks weet van die Lotto-geld wat hy gewen het nie.

Dan moes hy straks saam met die ou vrou Venesië toe gegaan het om in ’n gondel te gaan rondvaar nadat hy op pensioen gegaan het.

Of nog erger – hy kon saam met die antie Egipte toe getoer het om na die mummies en piramides te gaan kyk.

Ou Karel voel dan hoeka asof hy daagliks in ’n mummie se gesig vaskyk, hoewel hy nie kla oor elke aand se heerlike bord kos nie.

Oor die 30 jaar is hy nou al in ’n gewoonte om dié dubbele bestaan te voer. Aan die een kant die vaal, eentonige een saam met Nella en dan die ruk-en-pluk- tweede lewe.

Toe hy nog ’n jong man was en die kinders op skool was, was hy sweerlik nooit weeksaande by die huis nie.

Hy het altyd loop en vertel van die oortyd wat hy werk.

Hallo?

As klerk vir die munisipaliteit?

Hy was wel ’n regular by etlike titty bars in die stad.

Hier het hy altyd die een of ander los vrou opgetel en sy skandelike geheime lewe van verhouding op verhouding het saam met tyd net nooit gestop nie.

Ou Karel was nog sy lewe lank halfpad dankbaar vir die ordentlike en naïewe Nella wat hy vas glo al die jare niks vermoed nie.

Dit het Nella gekos om hulle twee kinders – ’n seun, die oudste, en meisiekind, net bietjie meer as ’n jaar jonger as haar boetie – self groot te maak.

Terwyl Karel die twee kinders se universiteitsgeld letterlik uitgehoer het, het Nella met haar fluksheid haar twee kinders deur universiteit gesien.

Die een so begaaf soos die ander – en elkeen het nogal in die rigting van die toekoms, IT, gegaan.

Nella het gebak en klere gemaak en met haar deugsame, eerlike en harde werk altyd ’n manier gevind om die kinders deur te sien. Hulle eie slimheid het darem ook altyd beurse ingebring.

Maar wat Nella aanvanklik nie opgelet het nie, is dat haar twee kinders oor die jare ’n wrok teen hulle pa opgebou het.

Nella het maar altyd net gedink die kinders is nader aan haar omdat sy hulle meer sien.

Karel werk dan so hard en is skaars by die huis om ’n goeie verhouding met die kinders te kan hê.

Met Sarel en Anel klaar gestudeer en elkeen in ’n goeie werk, het hulle besluit dis tyd om die skille van hulle ma se oë te laat afval.

Slim soos wat hulle was, het Sarel en Anel mos al op hoërskool agtergekom watse stuk sleg hulle pa is.

Een middag ná ’n rugbywedstryd het Sarel toevallig sy pa in sy kar gesien saam met so ’n ouerige antie wat lyk asof sy kwaad vir haar klere geraak het.

Die feit dat sy pa ’n girlfriend het, het Sarel egter nie onkant gevang nie.

Hy het maar altyd vermoed iets is nie rêrig pluis nie.

Hy het tóé al sy sussie ingelig en tóé al het hulle besluit die dag gaan nog kom dat hulle hulle pa ’n lewensles gaan leer.

Vir hulle twee het dit maar gegaan oor hulle ma.

Hoe jammer het hulle nie vir haar gevoel nie dat sy so verneder word en nie eens daarvan bewus is nie!

Nee wat, dit was ’n uitgemaakte saak: Hulle moes hulle ma maar vertel en op ’n manier aanmoedig om van ou Karel ontslae te raak.

Sy het hom immers glad nie nodig nie.

Die regte tyd was egter vir die twee belangrik en daarmee was hulle nie ongeduldig nie.

Met die kennis wat die briljante Sarel en Anel in hulle studie opgedoen het, was dit regtig nie vir hulle rocket science om in al hulle pa se doen en late online in te hack nie.

Die twee kinders het ’n ongemaklike surprise ontdek van hulle pa se privaat lewe weg van sy gesin af.

Wat hulle die kwaadste gemaak het, is toe hulle agterkom dat die ou jakkals Lotto-geld gewen het waarvan hy niks vir een van hulle vertel het nie.

Dis nogal juis in die tyd gewees toe hulle albei so skuldig gevoel het.

As studente het hulle gesien hoe hulle ma die hele tyd planne beraam om hulle toekoms bright te hou.

Dis ook die rede waarom hulle ’n pakt aangegaan het om te presteer en beurse te verdien.

Dit het hulle laat besluit hulle gaan daai geld uit hom kry op so ’n manier waarvan ou Karel likes.

Hoe siek dit ook al mag klink...

Maar Sarel en Anel het die opchat-anties aangestel, vir Asian Beauty ook, om hulle pa leeg te melk. En elke keer wanneer hulle geld uit ou Karel kry, score hulle so ’n paar presente daaruit, terwyl die grootste gedeelte daarvan na Sarel en Anel gaan.

En wat maak die kinders met die geld? Hulle het ’n bankrekening genaamd “Nella se Neseier” oopgemaak.

Dié neseier gaan hulle almal nog eendag nuttig te pas kom ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters