Verlede maand
Die kardoesie vol kroon wys wie’s king of surprises
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! So, nou weet ons dat Waanie agter Denzil se kroon aan is. R3 000, om presies te wees. Hy en Cynthia kry dan ook met hul scheme ook hierdie geld en hulle sit af na die gangster Koppe se huis. Daar gekom, is Koppe egter briesend toe hy die kardoes oopmaak, en hy wil weet of Waanie hom vir ’n joke vat. Wat kine dan nou? Geniet die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se verhaal “21 Dae”.

N

IEMAND mors met Koppe nie.

Die hele straat se mense weet dit, want Koppe laat almal wat ore het, time and again verstaan dat hy nie ’n bang haar op sy kop het nie.

“I only fear God ... and myself,” vertel Koppe aan almal wat by hom aandoen vir ietsie onwettigs.

Selfs die plaaslike cops ry wye draaie om Koppe en slaan nie ag op gemeenskapsleiers se versoeke om sy plek te raid nie.

So, toe ou Koppe in die kardoesie afkyk en besef Waanie het hom vir ’n pop gevat, spoel die woede oor hom soos hongerte oor ’n Kalahari-leeu wat twee weke laas geëet het.

“Vat jy my vir ’n gat, ha?” sis hy woedend.

Waanie verstaan nie wat aangaan nie. Hy het mos nie ’n fout gemaak nie. Dit is mos R3 000 – die volle bedrag wat Denzil hom gegee het.

Hy wat Koppe is, moet hom mos net die orige R1 000 gee.

Koppe druk sy hand in die kardoesie en smyt ’n paar “geldnote” in Waanie se rigting.

Geskok gryp Waanie ’n “geldnoot” en besef op die plek Denzil het hom ’n kop aangesit.

Waanie staar verbyster na die Monopoly-geldnoot, wat net ’n klein bietjie meer waarde as ’n Zim-dollar het.

Voordat hy sy gedagtes mooi agter mekaar in ’n ordelike ry kan laat staan, gryp Koppe hom voor die bors.

“Niemand, maar niemand vat my virre ma se p–”

Waanie luister nie verder nie. Daarvoor is hy veels te besig om sy oë styf toe te knyp en te gril vir elke spoegdruppeltjie wat hy teen sy vel voel.

Niks in die lewe kon hom nog ooit onderkry nie, maar vandag tackle antie Rona hom dat hy k*k, dink Waanie angsbevange.

Hy steier agteruit toe Koppe sonder enige waarskuwing sy greep verslap. As Waanie egter gedink het dit is vandag sy lucky day, maak hy hom laat.

Terwyl hy nog sukkel om sy balans te herwin, gryp Koppe hom weer voor die bors en slaan hom ’n moerse hou teen daai liegbek van hom.

Pyn skiet deur Waanie se kakebeen en toe hy ’n kraakgeluid hoor, besef hy dadelik dat hy weer lank by die Tygerberg Hospitaal se dentistry-afdeling in die lyn gaan staan.

Dis nou as hy hierdie woede-aanslag van Koppe oorleef.

Weer haak Koppe af. Hy slaan hom ’n hou teen die kant van sy kop.

Waanie sien sterretjies. Blou sterretjies. Geel sterretjies. Selfs even sterretjies wat hulle verbeel hulle is sterretjies.

Sy bene swik onder hom, maar Koppe trek hom half orent.

“Dis nie nou slapenstyd nie,” sis Koppe weer veels te na aan sy gesig.

Dan skiet Koppe hom ’n hou met die kop en gee ’n tree agteruit.

Waanie strompel na links, dan na regs, dan weer twee treë agteruit... en dan plons hy soos ’n sak vrot aartappels op die vloer neer.

Hy haal swaar asem. Vaagweg sien hy Koppe nader gestap kom. Hy wil regop beur, opstaan en weghardloop, maar sy bene en arms het moed opgegee.

Hy voel hoe Koppe hom aan die skouer beetkry en na buite sleep.

Hy hoor iemand gil. Dit klink bekend. Maybe Cynthia?

Pyn skiet deur sy hele lyf toe Koppe hom by die trappe afsleep. Dan hoor hy die staalhek oopgaan en Koppe wat iets soos “f*kk*f” sê.

Hy voel hy sweef, asof die lewe hom ’n pakkie hoendervlerkies as geskenk gegee het.

Dan maak sy lyf hard kennis met die sypaadjie.

Hy voel hoe so ’n ou, vrot tik-asem sy gesig bekruip. Cynthia.

Dis duidelik dat sy en tandepasta ’n sloerstaking-ooreenkoms aan die gang het.

Hy wat Waanie is, is naar, maar hy is so kragteloos dat hy nie eens krag het vir kots nie. Hy is in sy tjops.

“Waanie, Waanie,” hoor hy Cynthia se irriterende biologiese wapen van ’n stem bo hom, “waar is my R100?”

Magteloos en nie in staat om ’n spier te verroer nie, voel Waanie hoe Cynthia sy broeksakke uitskud. Daar word selfs in die binnekant van sy jacket gevoel. Niks maak’ie.

Hy hoor haar vloek. Verbeel hy hom, of spoeg sy op hom?

Dan hoor hy voetstappe soos sy wegstap. Haastig. Totdat dit in die verte verdwyn en hy alleen agterbly met ’n poepreuk wat oor hom hang.

Dan kom die skok: Hy besef hy het hom vuilgemaak.

Hy haal diep asem en voel hoe ’n pyn deur sy sy skiet. Denzil het hom ’n kaart geskiet, dink hy lyfseer, maar verwonderd.

Hoe het hy dan nie dit gesien aankom nie? Een-en-twintig dae het hy Denzil se bewegings fyn dopgehou.

Een-en-twintig dae het hy gesien Denzil staan elke oggend agtuur op, gaan rook ’n entjie en gaan dan na die bungalowtjie agter in sy jaart. Daar tel hy sy geld.

En 21 dae beplan hy dan hoe hy Denzil uit sy kroon gaan con.

En hier lê hy dan nou en voel soos ’n treinspoor wat deur ’n trein geabuse is.

Hy beur orent. Dit voel soos die swaarste ding wat hy al ooit in sy lewe gedoen het. Hy spoeg en merk op dat sy speeksel rooi van die bloed is. Hy is ’n gaar verbrande tjop, dink hy.

Daai mense wat hy laas keer so stink-lelik by die daghospitaal uitgeskel het, gaan hom mos nie nou weer help nie.

OP SY stoep sit Denzil en geniet ’n yskoue dop Johnnie Walker, heel spandabel oorlaai met ys.

Jy hoef nie ’n LG-yskas te wees om te weet life is good nie, dink hy. Naomi is ook gelukkig.

Nadat hy haar ’n lekker vet bedrag gegee het, het sy hom gaan wys waar sy al jare lank sy drank wegsteek. Drank wat hy nie kon onthou wanneer hy so uit die tiep uit opgestaan het nie.

Nee wat, sy vrag is vol. Hierdie lockdown hoef hy nie meer te worry oor sy dop-lus nie.

Dié afgelope 21 dae was goed vir hom. Een-en-twintig dae het hy seker gemaak hy staan soggens agtuur op en dat Waanie sien hy gaan rook eers ’n entjie. Hy’t vermoed daai sleggat Waanie wil hom die een of ander way ’n kop aansit.

So, 21 dae lank het hy Waanie as’t ware die verkeerde langvrae vir die eksamen laat krip.

Denzil lag en vat weer ’n lekker, diep sluk van sy dop. Hy is seker Koppe laat Waanie behoorlik k*k.

Sy wens is dat Waanie vir die volgende 21 dae niks anders as pyn moet ervaar nie, want as jy dom is, dan moet jy maar k*k.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters