4 maande gelede
Die grootbaas se bors is goed warm vir Onvriendelik
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ná sy onderonsie met twee korrupte cops is L. Otto in die knyp. Hy besef maar alte goed daar gaan ’n backlash wees oor wat hy gedoen het. Al persoon aan wie hy kan dink om hom uit te help, is sy eks, Tammy. Hy gaan wag haar by haar werkplek in. Tammy is nie juis happy om hom te sien nie, want sy moes laas gaan mang oor die dinge wat hulle saam aangevang het. Tog kry sy hom jammer en stem teësinnig in dat L. Otto maar vir eers in haar flat kan wegkruip. Maar gaan dié arrangement werk? En wat het L. Otto en Tammy in die verlede aangevang wat die grootbaas en korrupte gattas so op hulle spoor het? Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON­ se Meneer L. Otto

DIE grootbaas loop heen en weer in sy massiewe studeerkamer terwyl sers. Onvriendelik en konst. Koekemoer taamlik senuagtig pen­orent staan.

Onvriendelik, wat gewoonlik so vol van homself is, lek elke nou en dan senuweeagtig oor sy droë lippe.

Koekemoer se knieë voel soos jellie. Hy het al baie stories oor die grootbaas gehoor, maar dit is die eerste keer dat hy hom ontmoet.

Van wat hy gehoor het, is die grootbaas nie iemand met wie jy mors nie.

Hy is ’n man wat nie ken van genade nie. Iemand wat nie failure duld nie.

Hulle het al baie sake ondersoek van ouens wie se lyke in riviere gedump is. Daar is altyd gegis dat dit die grootbaas se werk is, maar soos gewoonlik kan niemand ooit ’n vinger na hom wys nie.

Koekemoer voel skielik diep spyt dat hy Onvriendelik toegelaat het om hom by hierdie onheilighede te betrek.

Nou, terwyl hy hier staan en staar na die grootbaas se massiewe boomstomp-boarms, kry hy ewe skielik gedagte van sy motjie, Candice, wat met die lyf is met hulle eerste kind.

Sal hy ooit sy kind sien grootword?

Die grootbaas draai meteens om. Vir ’n man van sy logge statuur beweeg hy verbasend vinnig, dink Koekemoer met verwondering.

“So, ek betaal elke maand ’n moerse klomp geld vir ’n pot k*k!” bulder die grootbaas.

Hy blaas sy asem hard uit.

As die grootbaas ’n draak was, het hy nou vuur gespoeg, dink Koekemoer.

Hy sê dit nie hardop nie.

Hy wil immers nie hê die grootbaas moet hom kliphard moer met daai hande wat so groot soos ’n Civic is nie.

Die grootbaas gaan met ’n plofgeluid op die stoel agter sy lessenaar sit.

Hy vleg sy vingers ineen en gluur om die beurt na Onvriendelik en Koekemoer.

“Ek het julle ’n eenvoudige taak gegee. Een wat ’n kind in die aanpassingsklas ook sou kon uitvoer.

“Maar wat doen julle? Julle laat L. Otto deur julle vingers glip. Één man, een f*kk*n man sit julle ’n kop aan en boei julle dan met julle eie boeie.

“Is dit nie die f*kk*n grap van die jaar nie? Ek is mos regtig besig om my geld op k*k te mors.

“Dan kon ek mos bietere my geld op die Lotto gemors het.

“Wat het jy vir jouself te sê, Onvriendelik? By the way, jy het ’n k*k van. En wie is die ding hier langs jou?”

Onvriendelik wip op aandag. “Hy is my kollega, my larney.”

“Ek kan mos daai f*kk*n sien,” bars die grootbaas los.

“Hy het dan ook ’n polisie-uniform aan.

“Eintlik need julle albei in pajamas te wees, want julle deserve nie daai uniform nie.

“Wat ek van julle wil weet, en niks anders nie, is hoe julle L. Otto in die hande gaan kry.”

Sers. Onvriendelik maak senuagtig sy keel skoon.

“Ons werk daaraan, my larney. Ons is tans besig om –”

“Is jy dan ’n blerrie politician?” val die grootbaas hom in die rede.

“ ‘Ons werk tans daaraan.’ Wat de f*k beteken dit?

“Dis nie wat ek wil hoor nie. Ek soek results.

“Ek wil weet wat julle al sover uitgerig het. Moenie my bors kom staan en warm maak nie.”

Sers. Onvriendelik verkleur bloedrooi.

“Ons hoor hy het ’n girlfriend wat in ’n pub werk. Ons ken haar goed.

“Miskien het hy daar gaan wegkruip.”

“Ken jy vir ‘Miskien’?” vra die grootbaas.

Sy oë vernou.

“Miskien het eendag sy luck met my getry en vandag is hy witbiene.

“Wil jy witbiene wees?”

“N-n-nee, natuurlik nie, my larney,” stamel Onvriendelik.

“Nou, roer jou gat en gaan vind uit of hy daar is,” snou die grootbaas hom toe.

“En jy kom sit jou voete nie hier sonder results nie. F*kk*f!”

Die twee cops skarrel by die vertrek uit.

Die grootbaas staar hulle kopskuddend agterna.

Hy kan nie glo hy mors sy geld op sulke twak nie.

As hulle nie vir L. Otto kan opspoor nie, sal hy ’n ander plan moet maak, dink hy.

Maar een ding is seker: L. Otto moet opgespoor word of hy en sy business is moer toe.

L. OTTO sluit Tammy se woonsteldeur versigtig oop.

Hy hoop nie hier wag enige verrassings op hom nie.

Al wat hy soek, is ’n plek waar hy sy wonde kan versorg en sy kop ’n bietjie kan neerlê.

Hy sal ook nie te lank kan bly nie. Netnou vind Onvriendelik-hulle uit van Tammy en kom soek hom hier.

Hy maak die deur saggies agter hom toe en skakel die lig aan.

Nie te sleg nie, dink hy.

Tammy is omtrent besig om ’n lewe vir haar hier te skep.

Hy voel nogal sleg dat hy amper haar lewe destroy het.

Maar hy was jonk en vol planne en het gedink crime gaan sy ticket uit armoede wees.

Nooit was dit sy plan dat Tammy vir sy dade moet gaan boet nie.

Hy stap na die badkamer. Daar gekom, maak hy die kassies oop. Dan gewaar hy met groot dankbaarheid die first-aid-kissie.

Met moeite trek hy sy sopnat jacket uit. Dan die bebloede T-shirt.

Hy staar in die spieël na die pers kolle en wonde aan sy lyf.

Onvriendelik het hom omtrent gekarnuffel, die etter. Hy sweer, as hulle paaie weer mekaar weer kruis, gaan hy nie twee keer dink om hom vrek te maak nie.

Die grootbaas sit agter Onvriendelik en Koekemoer se gesoek. Dít weet hy.

En soos hy die grootbaas ken, gaan dié nie rus voordat die ou hom opgespoor het nie.

So, as die berg nie na Mohammed toe wil kom nie, sal hy die berg by die grootbaas moet bestyg.

Hierdie is ’n appeltjie wat hy eenvoudig net sal moet skil.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters