28 dae gelede
Die Groot Vyf sort skobbejakke in ’n japtrap uit
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die Groot Vyf is Terug” is SALMON SMITH se nuwe instalment in sy Groot Vyf-reeks. Geniet die eerste hoofstuk!

‘DIE Groot Vyf gaan van nou af anargie saai onder die gangsters hier op die Kaapse Vlakte!

“Ons gaan hulle vertrap onder ons voete!

“Ons gaan vrees by hulle inboesem! Hulle gaan ons toorn aan hulle gatte voel!”

Die spoeg spat terwyl Brian September, die leier van Die Groot Vyf, dié woorde hier in hulle hoofkwartier, in ’n bouvallige en afgeleefde fabriek in Epping Industria uiter.

Voor hom sit die res van Die Groot Vyf en hulle hang aan sy lippe.

Hulle is Johnny Vercuil, Clint Daniëls, Samuel Geduldt en Henry Maarman.

Hulle is almal eks-polisiemanne wat omtrent alles in die lewe verloor het oor – soos hulle voel – die slap regstelsel van die land hulle in die steek gelaat het.

Hulle het hulle werk, huis, motor en gesin verloor. En dít omdat hulle persoonlik opgestaan het teen die bendes wat hulle mense vermoor of gedreig het.

Brian September het selfs nege jaar gaan mang oor hy twee gangsters doodgeskiet en een gewond het toe hulle een oggend by sy huis ingebreek, sy vrou vermoor en sy dogter verkrag het.

In die tronk is hy self wreed verkrag en aangerand.

Toe hy uitkom, het hy wraak gesweer en Die Groot Vyf ’n maand gelede op die been gebring om weer orde in die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte te bring.

Hulle het almal wraak gesweer teen die misdaadwêreld en om die gemeenskappe oral op die Kaapse Vlakte skoon te maak van die gespuis.

Hulle het elkeen ’n kodenaam om nie hulle ware identiteit te verklap nie.

Brian is Boeta B, Johnny is Boeta J, Clint is Boeta C, Samuel is Boeta S en Henry is Boeta H.

Dit is nou net so voor middernag. Hulle het ’n halfuur gelede daar in Leonsdale, Elsiesrivier, toegeslaan en daar onder die gangsters gemaai.

Meer as tien bendelede van die Mokka Boys lê nou daar in 12de Laan in hulle bloed en roggel.

Die Groot Vyf het sommer behoorlik hulle stempel daar gaan afdruk.

“Môreaand, next op ons lys is Manenberg!” tier Brian voort.

“Ek het vanoggend terloops in ’n tavern daar in Renoster Walk gehoor dat lede van die Dallah Boys beplan om vroeg môreaand daar in Yorkstraat te gaan toeslaan by die huis van die dikding van die Ogilvi Kids. Dit gaan glo oor dwelmturf in Manenberg.

“Maar ons gaan naby daai dikding se huis daar in Yorkstraat vir hulle wag en ’n oorlog verhoed wat onskuldige mense se lewens in gevaar gaan stel.”

DIS die volgende dag net ná skemer en ’n skraal puisiegevreet-skollie maak ’n gangster-teken met sy een hand en swaai met die ander ’n vuurwapen in die lug rond.

“Hoppaa! Dallah Boys forever!” skreeu hy.

“Hoyaa!” beaam sy vier makkers gelyktydig – elkeen ook met ’n vuurwapen in die hand.

Dit is al sterk skemer en die vyf stuks gangstertjies rol in Pecos Walk in Manenberg af.

Hulle is op pad na die huis van Marankas, leier van die Ogilvi Kids daar in Yorkstraat.

Hulle wil nou sy tjank gaan aftrap oor hy op hulle dwelmturf wil kom oorvat.

Hulle is niks bekommerd oor die kinders wat hulle met groot ogies vanuit die speelparkie aanstaar nie.

Ook nie oor die onskuldiges wat nou weer in hulle kruisvuur kan beland nie.

Hulle wil net hulle stempel gaan afdruk.

Oral in die straat staan mense en staar vreesbevange na die groepie gangsters.

Hulle weet al die bloed gaan nou weer in ’n bendeoorlog spat – net soos gewoonlik.

Niemand merk die rooi kombi met getinte ruite op wat skuins oorkant Marankas se huis onder ’n groot boom geparkeer staan nie.

Binne-in sit Die Groot Vyf, slaggereed met hulle vuurwapens oorgehaal.

Brian September, of te wel Boeta B, haal nie sy oë van die groepie skollies af nie. Instink skop in.

“Manne, iets sê vir my daardie vyf jongens is lede van die Dallah Boys wat nou gaan kom k*k maak hier by Marankas se huis,” sê hy aan sy vier manne hier in die kombi.

“Sodra hulle nou hier regoor ons kombi kom, dan handel ons vinnig.

“Ons doen presies soos ons dit beplan het. Baie deeglik, sonder om enige onskuldige lewens in gevaar te stel!”

Die vyf Dallah Boys weet nie wat hulle tref toe hulle langs die oënskynlik verlate, rooi kombi verbystap nie.

Die Groot Vyf tree vinnig en sekuur op. Brian, Johnny en Clint spring vinnig uit en jaag elkeen van die vyf gangsters ’n koeël deur die kop, met hulle pistole wat getrou blaf.

Terwyl die moegoes se lewelose liggame grond toe val, bestook Samuel en Henry Marankas se huis met ’n string petrolbomme.

Voor enige iemand kan besef wat aangaan, is die Groot Vyf terug in hulle kombi en hulle jaag uit Manenberg in die rigting van die Duinefonteinpad.

Deur die agterruit sien hulle hoe die groot dwelmsmokkelaar se massiewe huis in vlamme opgaan.

Hulle hoor die geskokte gille van die inwoners opklink terwyl hulle uit Manenberg uitjaag.

“Mooi gedoen, manne. Daar was geen onskuldige casualties nie,” prys Brian sy manskappe.

Die volgende dag is hulle slagting daar in Manenberg weer hoofnuus op die radio en televisie.

Almal praat nou van die rooi kombi met die vyf gemaskerde manne.

En weer praat die misdaadvoos gemeenskappe hulle meedoënlose dade goed.

Maar dan is daar ook weer die verkramptes wat die geheimsin­nige laksmanne veroordeel.

Die nasionale minister van polisie bulder dat die gemaskerde manne nou te ver gegaan het en belowe – soos gewoonlik – dat hulle die volle krag van die gereg aan hulle bas gaan voel.

Weer noem hy van die spesiale provinsiale taakspan, Operasie Stoppit, wat die aanvalle op bendelede ondersoek, die vyf verdagtes gaan ontmasker en voor die hof gaan bring.

Brian en Johnny sit die aand in hulle plakkershut daar in die Maitland-begraafplaas voor die televisie.

Brian se oë is sulke yskoue, donker poele terwyl hy na die nuus kyk.

“Boeta J, ek dink dis nou tyd vir ’n perskonferensie, sodat ons ons saak aan die wêreld daar buite kan stel!” sê hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters