Verlede maand
Die girl is vol lof vir Die Een, maar Jules ruik ’n rot
Oom Sonnie
 ~ ~

HAAI, Sonlanders! Jules word deur die omstrede sekteleier Alexander de Grootte ontvoer. Dis die einste De Grootte wat gemaak het dat sy dogter, Kia, in ’n kritieke toestand in die hospitaal beland het. Jules wil die cops help om De Grootte se doppie te klink. Maar wat hy nie weet nie, is dat De Grootte van dié plan weet. Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

JUSTICE Moloi is ’n bekommerde man.

Hy sit in sy kar in die parkeerarea van hulle gebou, maar hy kan hom net nie so ver kry om uit sy kar te klim nie.

Hy weet wat vir hom op kantoor wag: ’n vuurvreter-baas wat antwoorde soek.

Antwoorde wat hy nie het nie, want die Vader weet, hy het nie ’n clue waar Jules is nie.

Sy pastoor-vriend van die afgelope 10 jaar het soos ’n groot speld verdwyn.

Hulle het Jules se selfoon probeer trace, maar die laaste sein wat opgevang was, was by sy huis.

CCTV footage van die sekuriteitskameras in die nabyheid van Jules se huis het ook niks opge­lewer nie. Niks!

Dis asof Jules eenvoudig ingesluk is.

Die bloedspatsels wat hulle in Jules se slaapkamer gekry en weggestuur het vir ontleding, het ook nie die resultate opgelewer wat hy verwag het nie.

Inteendeel, een van die ouens van die lab het vir hom gesê daar is so met daardie monster gepeuter, hulle kon nie kop of stert daarvan uitmaak nie.

Maar hoe is dit moontlik? Hy was dan self op die toneel.

Hy het dan seker gemaak dat alles volgens die boek gedoen word sodat geen bewyse gecompromise word nie.

Beteken dit dan nou dat iemand by hulle lab dinge doelbewus op­geneuk het?

Iemand wat dalk op Alexander de Grootte se payroll is? Justice skud sy kop en sug swaar.

Hierdie saak gaan hom klaarmaak, hy voel dit so aan sy bas.

En dit help nie dat hy twee weke gelede besluit het om die rookgewoonte te los nie.

Nog nooit hierdie twee weke het hy so gesmag na ’n entjie soos nou nie.

Iets maak nie sin nie. Hy het sy vermoedens, maar natuurlik geen bewyse nie.

Iets sê vir hom sy baas, brig. Mthembu, het ’n hand in alles.

Mthembu weet dit dalk nie, maar hy wat Justice is, weet dat Mthembu al by De Grootte se kerk was en dat hulle crime intel-ouens Mthembu en De Grootte al saam by ’n sekere larney mansion in Saxonwold opgemerk het.

Hulle het nou wel nie saam daar opgedaag nie, maar wat het hulle op dieselfde tyd daar gesoek?

Moloi sug weer en maak aanstaltes om uit te klim.

Dit baat nie hy kruip hier in sy kar weg nie; hy sal die music moet gaan face.

En sommer ’n slag ’n draai gaan maak by die hospitaal en kyk of Jules se dogter, Kia, nog nie haar bewussyn herwin het nie.

Kia is nou sy enigste hoop. Hy kan net hoop dat die hoop nie vir hom te skaam gaan wees nie …

JULES is heel verbaas toe ’n jong meisie die vertrek binnekom.

Haar hare is kort geskeer. Haar gesig lyk bleek en vaal.

Dis omdat sy geen make-up dra nie, snap hy dadelik.

Sy hou ’n swierige aandpak na om uit.

“En dit?” vra hy die meisie en kom orent.

Sy lyk nie veel jonger as sy eie Kia nie, dink hy.

“Die Een vra dat u dit moet aantrek,” antwoord sy formeel.

Sy sit die pak op die bed neer en draai deur se kant toe,

“Wait a minute,” sê Jules haastig. “Waarheen is die haas? Jy praat van Die Een? Wie is Die Een? Alexander de Grootte?”

Die meisie kyk hom met uitdrukkinglose oë aan.

“Ons noem hom Die Een en niks anders nie.”

“En hoekom is hy Die Een?” vra Jules.

Hy onderdruk met moeite die urge in hom op haar met nog vrae te bestook.

“Want hy is Die Een wat my en die ander van ons sondes bevry het,” antwoord die meisie.

Daar is geen lewe in haar stem nie. Sy klink dan amper soos daai boks wat Stephen Hawking se woordvoerder was, dink Jules.

“Ek was met verkeerde dinge besig,” gaan die meisie voort. “My ouers het my lewe hel gemaak.

“My stiefpa het my seksueel misbruik.

“Toe hardloop ek weg en gaan doen my ding in Voortrekkerweg. Om alles te numb, het ek alles gerook wat die ander girls my aangebied het: tik, Unga, buttonsy ... You name it.

“Dis waar Die Een my een aand gekry het. Hy het by my gestop en gesê hy kan al my pyn van my wegvat.

“En hy het. Hy is Die Een wat my weer hoop gegee het. Sonder hom is ek niks en niemand.”

“Jy gee jouself veels te min krediet,” sê Jules. “Ek is jammer oor die dinge wat jy in jou kort lewe moes deurmaak, maar dis deur die genade van Bo en jou eie inner strength dat jy jou lewe kon omdraai.”

“Ek is niks sonder Die Een nie,” sê die meisie. “Niks wat jy sê, gaan my denke verander nie. Maak asseblief klaar. Die fees gaan amper begin.”

“Die fees?” vra Jules en lig sy wenkbroue. “Wat vir ’n ding is dit?”

“O, jy gaan sien,” antwoord die meisie kripties. “Iemand gaan jou binnekort kom haal.”

Dan stap sy uit die vertrek en maak die deur agter haar toe.

Jules sit oorbluf op die rand van die bed. Dat hierdie meisie gebreinspoel is, betwyfel hy geen oomblik nie.

De Grootte het met haar mind gemors.

As iemand glo dat hy of sy niks is sonder ’n ander persoon in hulle lewe nie, dan is daar fout. Groot fout.

Jules blaas sy asem saggies uit. Hier wag ’n hengse taak op hom.

Hoe oortuig jy iemand wat duidelik nie van ander insigte oortuig wil word nie?

Hy kyk na die fancy pak klere langs hom. Vanaand gaan hy ’n beter idee het van wat op hom wag. Hy beter klaarmaak.

SOWAT ’n halfuur later is daar weer ’n klop aan die deur. ’n Jong ou kom in.

Sy hare is nes die meisie s’n kort geskeer. Hy is netjies geklee in ’n pikswart aandpak, soortgelyk aan Jules s’n.

“Volg my, asseblief,” sê hy styf.

Jules volg hom sonder ’n woord. Hulle loop in ’n lang gang af.

Jules loer nuuskierig na die klompie deure. Die ander se woonkwartiere, vermoed hy.

Die gang maak ’n draai. Ná wat soos ’n ewigheid voel, kom hulle by ’n deur tot stilstand.

“Jou nuwe lewe begin vanaand,” sê die seun. “Vanaand gaan Uncle die waarheid leer.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters