Verlede maand
Die geluk draai vir 2 gesinne
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal van JASMINE UYS. Sy noem dié een “Altyd Hoop”. Lekker lees, hoor!

DIS die eerste dag van die lente. Die sonnetjie laat die voëltjies vrolik tjirp.

Dis egter winter in Katie White en haar dogter, Sofie, se hart.

Hulle staan by die graf van Michael, geliefde seun en broertjie, wat getref is deur ’n gangster se dwaalkoeël terwyl hy games gespeel het by die winkel op die hoek.

Rou snikke skeur uit al twee se bors. Die begrafnisgangers beweeg later een vir een huis toe.

Katie en Sofie staar na die graf asof hulle wag dat Michael enige tyd gaan uitkom en sê: “Ma, ek’s honger. Wat eet ôs?”

Toe die son stadig sak, draai hulle traag om en gaan huis toe.

Al was die verlange groot, het ma en dogter begin besef Michael is vir ewig weg. Hulle moet aangaan met hulle lewe, al is dit hoe swaar.

Intussen het hulle nuwe bure gekry. Dillon en sy seun, Danny, wat nes Sofie ook in matriek is.

Hulle is gawe mense en daar word gereeld oor en weer gekuier en saam kerk toe gegaan.

Die eindeksamen is om die draai. Sofie en Dillon is op pad huis toe ná skool toe drie laities met messe uit die niet verskyn. Die jongste kan nie ouer as 12 jaar wees nie.

Die grootste kid met kort hare en ’n skerpioen-tatoe op sy hand kyk Dillon uitdagend aan.

“Ek sê, djy! Staan vas! Gie my djou foun en maak sjap! Ek pratie wee’ nie!” beveel hy.

Voordat Dillon kan antwoord, kom ’n kar full speed en toetend op hulle afgepyl. Die drie wannabe skurke skrik hulle koud en gee pad.

Die motor stop by Dillon en Sofie. ’n Onderwyser, mnr. Steve Rhode, spring uit en vra besorg: “Het julle seergekry?”

Hulle skud net hulle kop, nog lam van die skok.

“Klim in, dan vat ek julle huis toe,” bied mnr. Rhode aan.

Hulle is net bly hulle hoef nie verder te loop nie – ingeval hulle weer die drie skurkies teëkom.

By die huis maak Sofie vir hulle suikerwater vir die skok.

Later kyk Sofie ernstig na Dillon. “Dillon, jy praat nooit oor jou ma nie. Hoekom? Is dit omdat jy haar nie kan onthou nie?”

Sy sien die pyn in Dillon se oë en sê vinnig: “Dis oukei as jy nie daaroor wil praat nie. Ek het maa’ net gewonder.”

Hy skud sy kop. “Nee, dis oukei. Ek sal jou vertel.”

Hy sug en gaan sag voort: “Ons was eers ’n gelukkige gesin. My ouers het goeie werk gehad en ons het in ’n goeie buurt gewoon.

“Eendag was my ma op pad huis toe van die werk af. ’n Taxi het die rooi robot gejump en met haar gebots. Die kar het gerol, aan die brand geslaan en sy het verkool.

“My pa was gebroke en kon nie haar dood verwerk nie. Ná haar begrafnis het hy begin drink. Hy’t later sy werk en ons huis verloor.

“Ons moes toe by mense in ’n hok gaan bly. Dit was hel! Dinge het net slegter gegaan met ons.

“ ’n Antie in die buurt het eendag met my pa gepraat en gesê as hy hom nie regruk nie, gaan hy my ook verloor.

“Sy’t hom oorreed om saam kerk toe te gaan en die pastor gevra om vir hom te bid.

“Hy het bitterlik gehuil en belowe hy gaan hom probeer regruk.

“Hy het gereeld begin kerk toe gaan en werk gesoek. Hy’t nog af en toe gedrink totdat hy later net besluit het hy sit nie weer sy mond aan drank nie.

“Hy’t toe by ’n winkel werk gekry as ’n security. Dit het begin beter gaan. My pa het ’n beter werk gekry en van die huis langs julle uitgevind. Dis hoe ons hier beland het.

“Hy werk nou baie hard vir ’n beter lewe vir ons. Ek wil hom graag help, daarom leer ek hard om ’n beurs te kry om medies te gaan studeer ...”

Hy kyk op – net betyds om te sien hoe Sofie ’n traan wegpink.

Sy kyk hom half verleë aan. “Dis baie sad, maar ook mooi. Dit wys daar’s altyd hoop; ’n mens is nooit te sleg om te verander nie. Ek’s bly julle woon langs ons. Ek sien ons ouers kom goed oor die weg.”

Hulle lag ondeund.

“Ja, omtrént! Ek is bly, want ná my ma se dood was my pa stukkend en baie eensaam. Ek wil hom graag weer gelukkig sien.”

“Selle met my ma. Sy’t geswoeg om my te bring waar ek nou is. Ek wil haar nooit teleurstel nie. Ja, sy verdien ook ’n bietjie geluk.”

Hy kyk haar ernstig aan. “En jy? Wat is jou toekomsplanne?”

Sy kyk skamerig op. “Ek droom al jare om ’n fashion designer te word. My ma werk haar disnis in’n klerefabriek. As ek kan design en my eie label het, kan ek en my ma ’n besigheid begin en werk skep vir jong werkloses.

“Dis hoekom ek drie designs ingeskryf het vir ’n kompetisie van ’n local fashion house met internasionale bande wat jong designers ’n kans wil gee. As ek wen, kry ek baie pryse én R250 000. Dan kan ek designing gaan swot.

“Selfs al wen ek nie die eerste prys nie, sal dit baie help ... Maar eers moet ons fokus op die eksamen! Ons kan nie droogmaak nie!”

DIE eksamen is eindelik agter die rug. Sofie en Dillon wag in spanning vir die uitslae. Dis Sondagmiddag ná ete en Sofie wil net die tafel afdek, toe Katie haar keer.

“Wag eers, my kind. Daar is iets wat ek en uncle Danny met julle wil bespreek ...”

Die twee kyk hulle vraend aan. Danny kug ongemaklik.

“En nou? Wat gaat aan? Is iets verkeerd? Wat het julle aangevang?”

Dillon kyk hulle ondeund aan.

Danny sak af: “Moenie simpel wees nie! Ek het antie Katie gevra om te trou en sy het ‘ja’ gesê!”

Katie bloos bloedrooi. Tot hulle verligting storm die kinders op hulle af en omhels hulle liefdevol.

“Dis die beste nuus wat ons nóg gehoor het! En about time! Wanneer is die groot dag?”

“Ag, ons wil net iets intiems vir family en ’n paar close friends hê.”

Sofie spring opgewonde op. “Ek gaan ma se rok design en ma gaan dit maak! Dit sal ’n million-dollar-rok wees. Net die beste is goed genoeg vir my ma! Klein onthaal of nie, Ma gaan nes ’n droom lyk!”

Sofie spring dadelik aan die werk. Twee weke later het Katie die rok kant en klaar gemaak. Nog twee weke later trou hulle.

Die bruid lyk soos ’n prinses in haar pragtige rok van kant en satyn. Ná die troue trek Katie en Sofie by Danny en Dillon in.

’n Week voor Kersfees toe die nuwe gesin terugkom van hulle Krismis shopping en in die posbus kyk, kry hulle ’n groot verrassing.

Dillon kry ’n brief wat sê hy’t ’n beurs gekry om verder te swot. Sofie kry ’n brief wat haar in kennis stel sy’t die eerste prys gewen in die design-kompetisie. En Danny – hy kry ’n saaklike brief wat hom meedeel die Padongelukfonds gaan R25 miljoen aan hom betaal vir sy vrou se ongeluk en dood.

Almal is in ekstase. Daai aand nooi hulle ’n paar vriende en hou ’n biduur om hulle Skepper te dank.

“All good things come to those who wait,” sê een antie.

“Ja,” sak ’n ander een af, “jy moet nooit sonder hoop wees nie, want dis ál wat ’n mens soms aan die gang hou.”

Toe die gesin alleen is, bespreek hulle die planne vir die nuwe jaar. Danny besluit om vir hulle ’n groter huis in ’n veiliger buurt te koop.

Dillon gaan vir dokter studeer. Sofie en Katie gaan hulle eie besigheid begin en werklose meisies ontwerp en naaldwerk leer. So wil hulle terugploeg in die gemeenskap.

Ná soveel jare gaan hulle eindelik die gangland se stof van hulle voete afskud. Net jammer Michael is nie meer daar om in die geluk te deel nie. Maar hulle kan aan ander jonges wys daar is altyd hoop en niks is onmoontlik nie.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters