9 dae gelede
Die dwelmspoor vat Julian na ’n surprise player
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Julian en Romi spoor sy vriende Lange en Lentils uiteindelik op. Julian het mos die gedagte gekry dat die twee lief is daarvoor om sonder hom by Gesiggie se jaart uit te hang. Die ding ruk behoorlik op die jaart. Julian gewaar Lange en Lentils waar hulle dit op die dansvloer uitkap. Nie een van die twee is impressed om hom te sien nie. Julian neem hom voor om die waarheid oor wat van die gangster-dikding Horrid se drugs geword het uit hulle te moker. Maar gaan Lange en Lentils hulle samewerking gee? Geniet hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON se Romi en Julian.

JULIAN kry Lentils aan die kraag beet en sleep hom na een van die tafels.

Romi en Lange volg kort op sy hakke.

“My broe’, issit norag om so te perform?” vra Lange.

“Hou jou bek,” snou Julian hom toe. “Ek is op van julle k*k. Óp.”

Julian verslap sy greep om Lentils se kraag. Dié val amper oor die tafeltjie.

“Djy!” sê Julian en druk byna sy vinger in Lange se oog. “Sit op jou gat!”

Julian blaas sy asem hard uit. “Ek het nie saam met julle ’n bier gaan drink om in die stront te beland nie.

“Hoor julle daai song wat daar speel? Ek f*k julle al twee op tot anderkant Chris Brown se body.”

“Wat kind?” vra Lange. “Ons ken djou mossie soe nie.”

“Julle het die *tt*r in my los­gemaak,” sê Julian en gee Lange ’n hou teen die kop.

“Moenie vir julle kô dom hou nie. Julle ken mos die goose hier by my, nuh?”

Lange kyk traag in Romi se rigting. “Dis mos daai meisie by Suzie se jaart wie djy soe ge-eye het,” sê hy dan.

“En wie is haar broer?” vra Julian.

“Horrid,” brom Lange traag.

“Speak up, jou dom d*nner. Ek ka’ djou nie hoor nie.”

“My broe’, is dit norag om soe violent te wies?” chime Lentils in en loer beskuldigend na Julian.

“Ek het dan gedink djy’s ’n bra van ons.”

“Jy het ’n fine cheek om mý te wil accuse vannie ’n bra is nie, maar sê gou vir my: Wie het Horrid se drugs gesteel?”

Lange en Lentils staar albei na die vloer.

“En nou?” vra Julian. “Het die tjoef dan nou gemaak dat julle julle tanne insluk?

“Julle los mý daar in die desert. Ek wat van g’n soutsnoek weet nie. En ék moet aan Horrid please explain oor hoekom julle met sy stash verdwyn het?”

“Ons het nie bedoel–”

“K*k, man,” val Romi vir Lentils in die rede. “Daai verskoning is al holrug gery.

“Horrid het ’n reward op julle koppe gesit,” lieg sy.

“R50 000 elk. As julle nie nóú daai drugs teruggee nie, is albei van julle voor daglig witbene.”

Lange sowel as Lentils se oë rek pieringgroot.

“Ek het gesê ons moet die goed los,” sê Lentils met ’n bewende lip. “But djy wou mossie vi’ my luiste’ nie en nou–”

Lange haak af en klap Lentils dat die spoeg spat.

Julian merk ’n kort bleskopmannetjie in hulle rigting gedrafstap kom.

Toe die man wat hy so heuphoogte skat, voor hom staan, besef Julian dit moet Gesiggie wees, lord van die drug-sport.

Gesiggie se gesig is vol brandmerke. Seker waar hy sy bynaam vandaan kry, dink Julian.

“Wat gaan hier aan?” vra Gesiggie. Voordat enigeen kan antwoord, draai hy na een van sy holborsels.

“Gaan sit daai music af en sê vir almal die jol is uit. Hier is k*k wat ek nou moet uitsort.”

Die jong outjie nael weg soos iemand wat hom verbeel hy is Usain Bolt.

“En?” vra Gesiggie en staan hande op die heupe voor die groep.

Hy maak ’n koddige prentjie uit. Met sy gesig vol brandmerke lyk hy soos iemand wat uit ’n brandstigtingshandleiding kom.

Kompleet met ’n kep wat soos ’n brandweerman se helmet lyk.

Ten spyte van die erns van die situasie sukkel Julian om nie te lag nie.

“En?” vra Gesiggie weer. “Wat gat hier aan?”

Romi beur by Julian verby. “Dis ’n private matter hierdie,” sê sy.

“Niks is private hier in my plek nie,” kap Gesiggie terug. “Weet jy wie ek is?”

Romi lag.

“Het jy dan amnesia dat jy vergeet het wie jy is?” vra sy.

“Mense, mense,” probeer Julian tussenbeide tree.

Die musiek is intussen afgeskakel en mense verlaat die smokkie moan-moan.

Toe dit stil raak, gaan Julian voort: “Hierdie twee,” sê hy en wys na Lange en Lentils, “hierdie twee het iets gevat wat nie aan hulle behoort nie.

“En as hulle dit nie nóú teruggee nie, gaan die stront vlieg.”

“Lange het die stash in die pan gesit,” sê Lentils uit die bloute.

Hy ignoreer die panga-kyk wat Lange hom gee en draai na Romi en Julian.

“Asseblief, ek wil nie nou doodgaan nie. My hele lewe lê nog voor my. Ja, dit was verkeerd om die drugs te vat, but ek het regtig nie gedink dinge­ gaan soe uitdraai nie.”

Julian draai na Lange.

“Waar het jy dit verkoop?”

“Ek sê f*kk*l,” sê Lange astrant.

“Aan Gesiggie,” laat Lentils weer van hom hoor.

“Ek weet nie waarvan dié jong praat nie,” sê Gesiggie. “En besides, my business het met niemand iets te doen nie.”

“Het hulle vir jou gesê dit was Horrid se drugs?” vra Julian.

Gesiggie raak rooi in sy gesig. Rooier as die kep op sy kop.

“Jy weet wie Horrid is, nè?” vra Romi.

Gesiggie knik. Daar is ’n stroewe uitdrukking op sy gesig.

“En dan weet jy ook Horrid gaan nie impressed wees wanneer hy hiervan uitvind nie?” gaan Romi voort.

Gesiggie loer vinnig in die rondte. “Ons kan nie hier praat nie,” sê hy in ’n fluisterstem. “Kom saam na my office.”

Julian kan nie glo iemand soos Gesiggie kan ’n kantoor hê nie.

Hy wys vir Lange en Lentils om die kort mannetjie te volg.

Agter Gesiggie se smokkie is ’n geboutjie wat eenkant staan.

Julian skrik hom boeglam toe ’n paar pitbulls aan kettings hier naby hom grom.

Gesiggie sluit die deur vinnig oop en skakel die lig aan.

Toe almal binne is, maak hy die deur toe en sluit dit.

Julian wil eers teen die karre skop, maar ’n skrik trek deur sy lyf toe hy ’n ouerige man eenkant in ’n hoekie sien sit.

“Mister Hoppie,” sê Gesiggie ietwat uitasem. “Ken Mister Hoppie hierie mense?”

Julian se maag gee ’n draai toe hy die eerste keer van aangesig tot aangesig met sy pa kom.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters