6 maande gelede
Die drie vroue is elkeen in hul eie hel vasgevang
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Stiena se kop klap hard teen die sinkplaat­ toe Giffie haar klap. Sy sit haar arms vertroostend om die kinders­ toe hulle bevrees begin huil. Sy kan nie verklaar hoekom sy hom nie net los en iewers ’n nuwe begin maak met die kinders nie. Hy was nie altyd so nie ... Nicolette Fouldien noem dié verhaal Krismis­ in Riemvasmaak­. Geniet die tweede hoofstuk.

STIENA vou die laken beskermend om die kinders se maer lyfies.

Dis warm, maar sy kan hulle nie oop los nie.

Môre is hulle lywe weer oortrek van muskietbyte.

Hulle krap dan gedurig daaraan totdat dit stukkend is en dan begin dit sweer soos laas.

Sy sien nie kans om weer heeldag by die kliniek te sit nie. Om ’n dag se geld te verloor is erg.

Sy lees eers ’n stukkie uit die Bybel voordat sy bid.

Dan staan sy op en stap na die tafel.

Sy skep die laaste bietjie blikkievissmoor­ oor drie snye bruin brood in ’n bord en sit nog ’n bord bo-op.

Sy grawe voor by haar bors en plaas die verkreukelde R20 langs die bord.

Dis al wat sy vandag oor het.

Sy weet Giffie gaan ontsteld wees, maar die kinders het gesmeek vir bompies.

Dit was so warm, sy kon nie vir hulle nee sê nie.

Sy spons haar sweterige lyf in die wasskottel af voordat sy in die bed klim. Ná minute se rondrol sluimer sy uiteindelik in.


ANT Betta staan wankelrig op. Haar maag grom, maar sy probeer dit ignoreer. Sy weet daar is niks in die koskas nie.

Daardie rooiproppie is gekoop van haar laaste Sassa-sente.

Sy kon dit darem hierdie maand rek tot by die 22ste. Sy gooi die laaste bietjie wyn in die glas en tel die pilhouer op.

Sy skud ’n handvol pille in haar hand uit en sluk dit met die wyn af.

Sy skuifel tot by haar lendelam bed en val daarop neer. Sy gaan lê met klere en al. Sy worry nie oor môre nie. Sy sal wel iets verkoop kry.

Miskien die ketel. Dis so warm, sy drink nie koffie nie en sy kan in koue water was. Pille kan sy oral kry.

Almal weet ou mense het kwale. So, ja ... if you worry, you die ... Hoe sê hulle nou weer? God sorg vir die mossies ...


KINNA lê op haar bed. Haar knieë tot teen haar maag opgetrek. Asof sy haarself wil vashou.

Hoe beskerm jy jou teen soveel boosheid?

Hoekom straf die Here haar so? Gaan Hy haar nooit vergewe nie. Sy het tog haar straf uitgedien. Twaalf jaar vir moord.

Niemand wou glo die man het haar jare lank verkrag nie. Hy was dan so ’n goeie en gesiene mens in die gemeenskap.

Hy het sy deur vir haar oopgemaak toe haar ouers gesterf het en sy wees gelaat is.

Hy was ’n pa vir haar van 12-jarige ouderdom af.

Hulle wou nie glo dit was sewe jaar van hel nie. Sewe jaar dat sy saans bewend lê en wag het op sy voetstappe.

Sewe jaar dat ant Suzie kamstig nie geweet het wat onder haar dak gebeur nie.

In die tronk moes sy leer vergewe. Sewentig maal sewe.

Die Here weet sy het! Sy’t haar straf uitgedien, maar steeds kon hulle haar nie vergewe nie.

Hoe lewe jy as ’n hele gemeenskap jou sleg aankyk? Jou ’n moordenaar en slet noem?

Sy’t gedog sy sal vrede vind hier in Riemvasmaak.

Haar hel het nou eers begin.

Sy draai om na die sinkplaatmuur. Druk haar hande teen die louwarm plate.

Die sweetreuk van haar lyf walm in haar neusgate. Sy weet sy is vuil en sy stink.

Dit vul haar met afsku, maar sy verkies dit so. Haar liggaam is lankal nie meer ’n tempel van God nie.

Dis besoedel.

Haar lyf ruk toe die deur oop knars. Hulle boosaardige teenwoordigheid vul die klein vertrekkie.

Sy staar met droë oë na die dak toe hulle soos aasvoëls op haar tenger lyf toesak.


STIENA se oë fladder verwilderd oop.

Haar hande gryp na die vingers om haar keel. Sy wil smeek, maar net roggelgeluide kom uit.

Hy verslap sy greep net voordat die donkerte oor haar wil toesak.

Sy snak na lug. Sy probeer om nie die kinders te wek nie en sluk aan die hoesbui wat haar wil oorweldig.

“Watse k*k is dié? Huh?”

Giffie druk die geldnoot in haar gesig. Sy sluk aan die slym in haar keel.

Haar kop klap hard teen die sinkplaat toe sy plathand die kant van haar wang tref. Dit weergalm deur die vertrek.

“Mamma ...” begin klein Sammy kerm.

“Voertsek! Bly stil!” snou Giffie die seuntjie toe.

Stiena krimp ineen.

“Asseblief, Giffie. Los die kinders. Ek is jam–”

“Jy’s wat? Jy f*kken bly jammer! Jy vat my vir ’n gat! Wat dink jy moet ek met dié k*k maak, huh?”

Hy druk weer die geld in haar gesig.

“... Môre. Ek belowe jy kan môre alles kry.

“Asseblief, moet net nie –”

“Voertsek! Loep f*kken slaap. Ek is moeg van julle.”

Hy staan vinnig op en gryp sy baadjie.

Weereens dawer die sinkplate toe hy die deur hard agter hom toegooi.

Cammy skrik ook wakker en begin dadelik huil.

“Toe maar, toe maar. Dis okay. Hy’s weg.”

Sy staan op en gaan lê tussen die twee kleintjies. Sy trek hulle in haar omhelsing en wieg vertroostend met haar lyf.

“Die Here is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.

“Hy laat my neerlê in groen weivelde ...”

Stiena se stem draal saggies in die vertrek.

Die seuns se oë val weer toe, hul asem snikkend teen haar bors.

Sy weet nie hoekom sy dit verduur nie. Hoekom sy nie net vir Giffie los en ’n nuwe begin iewers vir haar en haar kinders gaan maak nie, maar sy kan hom nie net so los nie.

Hy was nie altyd so nie.

Hy was ’n goeie man vir haar en ’n liefdevolle pa voordat die tikmonster sy siel oorgeneem het.

Sy sal haar liewer tot God wend. Hy moet haar help.

Die donker miswolk lig en styg op.

Dit gooi ’n donker skadu oor Riemvasmaak voordat dit begin oplos en wegsmelt in die eerste ligstrale van die opkomende son.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters