16 dae gelede
Die dorpie is in rep en roer oor ’n grusame vonds
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van ’n verhaal in twee dele deur KEITH MEYER. Hy noem dit “Die Wiel Draai”.

DIT is weer een van daardie naweke wat die dorpie Klawer inwag.

Die dorpenaars wag in spanning, want die laaste tyd was dit maar rof hier.

Daardie koel Saterdagoggend stap ’n dorpenaar werk toe.

Naby die plaaslike kroeg merk hy bloedspatsels op.

Eers dink hy dis iemand se neus wat gebloei het, maar dan besluit hy dat hy tog die bloedspoor wil volg.

Stadig stap hy. Die druppels droë bloed raak al hoe meer en meer soos wat hy stap. Dit lei na ’n klofie buite die dorpie.

In die verte kan hy ’n hopie klere teen die klipperige kloof sien lê.

Dan haas hy hom vinnig nader. En die skok is groot, want dit is nie aldag dat ’n mens so ’n ontdekking maak nie ...

Nie só ’n grusame een nie.

Hy snak na sy asem en druk dan sy neus toe.

Van groot skrik begin hy gil: “Help! Help! Bel die polisie! Hier lê ’n lyk!

“Dis ’n vrou, maar ek kan nie haar gesig uitmaak nie!”

Binne minute trek die dorpenaars op die koppie saam.

Enkele minute later is die polisie ook daar. Saps bel ook nou die ambulans en speurders.

Hulle gooi die liggaam met ’n silwerkleurige kombers toe en span die geel lint van Saps rondom die plek sodat die nuuskieriges nie nader kan kom nie.

Dan begin mense gis oor wie dit kan wees.

“Dis een wat seker gisteraand by die drinkplek was,” sê iemand.

“Of dalk het die moordenaar haar hierheen gesleep; of dalk het die moordenaar haar net hier kom dump,” raai ’n ander.

“Ek dink sy is gerape, want haar rok was net te hoog opgelig.”

“Ek dink dis Hanna, want daai rok lyk dan nes die geel rok wat sy laas week by Die Dameswinkel gekoop het,” sê nog iemand.

Dan hoor die omstanders ’n harde gil en sien hoe ’n ouerige vrou flou neerslaan.

Onmiddellik weet hulle dis dié vrou se dogter wie se lewelose liggaam daar in die kloof lê.

En nou klap die tonge weer van vooraf.

Die nooddienste lawe die vrou en neem haar in die wagtende ambulans weg na die hospitaal, want dit lyk asof sy ’n hartaanval gekry het van skok oor haar dogter se erg geskende liggaam.

’n Joernalis met haar alewige kamera en notaboekie skryf met koorsagtige haas alles neer wat sy hoor.

Die mense is skugter om met haar te praat.

Saps verwys haar navrae na hulle plaaslike polisiewoordvoerder.

Iemand fluister in haar oor: “Dis haar berk. Hulle het laas nag verskriklik gestry.

“Toe jaag hy haar in die pad op met ’n panga.

“Daai jong is so wreed. Maar hy staan nou hier en maak asof niks gebeur het nie.

“Kyk hoe huil daai jong met die groen T-shirt. Dis sy spaza om nou krokodiltrane te tjank.

“Maar die noodlot laat nie met hom mors nie.”

Die forensiese afdeling kom met sy lykswaentjie en neem die liggaam weg vir ’n nadoodse ondersoek sodat die oorsaak van die slagoffer se dood bepaal kan word.

Die mense loop so in groepies weg uit die kloof. Elkeen het sy eie speurder-opinie.

Die joernalis wonder of dit waar is wat die informer in haar oor gefluister het.

Sy spring dadelik aan die werk en foun haar connection by misdaadintelligensie.

DIE storie in die koerant die volgende dag het selfs die speurders aan die raai. Want waar sal die joernalis aan haar inligting kom? En hoe waar is dit?

Kapt. Peter Lewis, speurhoof, is een van die cluster se top cops.

Hy begin ál wat ’n neighbour is, ondervra.

Hy gaan selfs na die plaaslike kroeg en hang daar uit met die wynkoppe en luister na hulle teorieë.

Hy smile maar oor al wat ’n bollie-storie is wat hy moet aanhoor. Maar in die meantime chise hy sy eie move.

Hy dala wat hy moet, en dis om arrestasies uit te voer.

Die ma van die slagoffer gee ook ’n waardevolle statement oor die betrokke aand se happenings.

“Ek weet daai jong het haar daardie aand geslaan.

“Ek het nog gesoebat dat hy haar nie moet aanrand nie.”

Kapt. Lewis besluit om die berk toe te kap.

Maar ná ’n moordende drie uur lange ondervraging besluit kapt. Lewis om die ou te laat gaan.

Sy alibi blyk waterdig te wees. Dié alibi is dat die berk bewyse het dat hy nie daardie aand rondom daardie tyd in Klawer was nie.

“Ek kan mos nie op twee plekke gelyk wees nie.

“My naam is nie Judy Boucher wat sing ‘If I could be in two places at the same time’ nie,” gee hy sy opinie ewe verwaand aan kapt. Lewis.

Die jong is koud en gevoelloos en Lewis vind dit vreemd dat hy dan nie eens meer tjank soos hy in die kloof getjank het nie.

“Hy kan dink hy is ’n vry man, maar hy ken nie vir my, Peter Lewis, nie!

“Ek sal nie rus voordat ek die moordenaar aangekeer het nie, “ gee hy die slagoffer se ma die guarantee.

Intussen gaan die berk aan met sy lewe asof absoluut niks gehappen het nie.

Hy waag dit selfs om na die begrafnis te gaan, hoewel die slagoffer se familie gedreig het om hom sat te maak as hy sy pote by die graveyard sou sit.

DIS drie maande later. Geen verdere arrestasies word uitgevoer nie.

Die inwoners begin later beneuk word omdat niemand tot dusver aangekla is nie.

Hulle dreig om die wet in eie hande te neem.

Kapt. Lewis waarsku mense om nie oorhaastig te wees en sy saak te verongeluk nie.

DAN, een aand, nóg vier maande later, word die dorpie weereens diep geruk.

Die gevaarlike kloof, wat die wegkruipplek vir allerhande boosdoeners is, lewer nogmaals ’n grusame vonds op.

’n Pragtige 16-jarige meisie word halfnaak in die kloof aangetref.

Dit is nou duidelik die tiener is gerape.

Haar naels is vol bloed soos sy haar slagoffer van haar lyf probeer weghou het.

Daardie nag is die kloof weer vol nuuskierige omstanders.

Die Saps-span is sommer baie gou ook daar om hulle geel lint om die misdaadtoneel te span.

En kapt. Lewis is ook weer op die toneel ...

  • Lees die slot volgende Sondag

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters