19 dae gelede
Dié ding is groter as twee corrupt cops, kliek L. Otto
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Hierdie dag het beslis nie vir arme meneer L. Otto op ’n goeie noot begin nie. Hy word vroeg wakker geklop deur twee dodgy cops wat op soek is na iets. Dis veral sers. Onvriendelik wat die onvriendelikheid self is. Hoe meer L. Otto vir hom sê hy het nie ’n clue wat hulle soek nie, hoe ongenaakbaarder raak sers. Onvriendelik. L. Otto loop behoorlik onder sy vuiste deur. Sers. Onvriendelik sweer selfs hy gaan elke been in L. Otto se lyf breek totdat hy kry wat hy soek. Maar wat is dit wat hy soek? Geniet hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se verhaal Meneer L. Otto.

‘JY BETER met die waarheid vorendag kom,” sis sers. Onvriendelik.

“Ons het nie heeldag tyd nie en ek kan nou al vir jou sê dinge gaan erger raak vir jou.”

L. Otto spoeg nog ’n straal bloed uit en beur moeisaam orent.

Sy oog is aan die swel en hy moet mooi korrel om sers. Onvriendelik in sy visier te kry.

“Ek... weet... nie... wat... jy... soek... nie,” sê L.Otto sukkel-sukkel. Sy lyf pyn met elke woord wat hy uiter.

“Wat julle doen, is nie reg nie. Ek het regte. Julle twee kan mos nie net hier inbars en my so aanrand nie.”

“Hallooo,” laat konstabel Koekemoer vermakerig van hom hoor.

“Ons het mos nie hier ingebars nie. Jy het dan die deur vir ons oopgemaak.

“Het al die houe teen jou kop jou dan nou laat vergeet?”

Hy gee ’n lelike lag. Sers. Onvriendelik gluur hom aan.

“Maak jouself bruikbaar en gaan kry die tang in die van,” blaf hy vir sy kollega.

“Dié wat hulle dom wil hou, moet ’n slag voel.”

Konst. Koekemoer laat hom nie twee keer nooit nie en draf in die gang af. Die voordeur klap hard agter hom toe. Sers. Onvriendelik skud sy kop.

“Daai jong ken nie van saggies te werk gaan nie.

“Ons wil mos nie hê die hele straat moet weet van jou moeilikheid nie.”

“Watse moeilikheid?” vra L.Otto en loer agterdogtig na die cop.

Sers. Onvriendelik trek ongeërg sy skouers op. “Ongelukke gebeur, you know.

“Hier daag ons op om te reageer op ’n wenk dat jy met drugs smokkel.

“En toe val jy my sommer met ’n tang aan.

“Imagine daai: ’n tang, van alle dinge. Dink jy dan jy is ’n dentist wat my tande wil trek?

“Anyway, ek het geen ander keuse gehad as om myself te ver­dedig nie. Ek moes jou ongelukkig vol gate pomp. Koekemoer sal my storie beaam.

“Geen haan sal agterna kraai oor hierdie voorval nie.

“Almal sal net wonder oor hoekom jy so stupid was om ’n ge­wapende cop aan te val.”

L. Otto verkleur en raak behoorlik wasbleek.

“Jy sal nie hiermee wegkom nie,” prewel hy.

“Mense hier rond ken my. Hulle weet ek sal nie-”

“Mense hier rond weet nie jy is ’n dief nie,” val sers. Onvriendelik hom kras in die rede.

“’n Dief wat goed vat wat nie aan hom behoort nie.

“Ah... Ek sien jy begin nou onthou waarvan ek praat?”

L. Otto laat sak sy kop.

“Ek weet nou wat jy soek, ja. Jy is nie die eerste een wat my daaroor jag nie.”

“Maar ek is die laaste een, want ek gaan kry wat ek wil hê,” antwoord sers. Onvriendelik.

Hy loop eintlik oor van self­vertroue.

“Jy en watter army?” vra L. Otto. “Koekemoer?

“Daai dom ding wat alles doen wat jy vir hom sê?”

Hy beweeg ongemerk nader aan sy koffietafel.

“Jy is ’n geregsdienaar. Iemand wat die wette van die land moet uphold.

“Maar pleks van dít doen, allow jy gierigheid om ook oor jou die oorhand te kry – dirty cop wat jy is.”

Sers. Onvriendelik verloor sy humeur en storm op L. Otto af.

Dié skuif met moeite uit die pad en gryp die vaas op die tafel.

Met sy laaste bietjie krag slaan hy sers. Onvriendelik hard agter die oor.

Die cop gee ’n sagte sug en plons op die vloer neer.

Hy maak sagte snork­geluidjies.

Vinnig gryp L. Otto die cop se Z88-dienspistool.

Hy haal die veiligheidsknippie af en haal die vuur­wapen oor.

Sy bors brand en hy voel hoe ’n straaltjie warm bloed langs sy lyf afloop.

Binne-in hom borrel ’n fonteintjie van haat.

Hy is sommer lus en blaas met die grootste vriendelikheid sers. Onvriendelik se kop weg.

Maar dan gaan hy die vark in die verhaal wees. ’n Cop killer.

Niemand sal hom glo dat hierdie vervloekte cop hom wou beroof nie.

L. Otto beweeg rats in die rigting van die voordeur toe hy konst. Koekemoer se naderende voetstappe hoor.

Konst. Koekemoer skrik hom asvaal en los ’n hele paar vloekwoorde toe hy sers. Onvriendelik op die vloer sien lê.

Hy is so uit soos ’n paar kerse.

Toe konst. Koekemoer omdraai, kyk hy vas in die loop van sy bewustelose kollega se Z88.

“”W-w-wat dink jy doen jy?”stamel hy verskrik.

“Moenie vir my k*k vra nie,” sê L. Otto bars.

“Wees nou een maal in jou lewe ’n goeie cop en vat daai boeie van jou vriendelike Onvriendelik en boei hom.

“Daarna wil ek hê jy moet jouself met jou boeie teen daai stewige tafel vasboei.

“Só kry jy ook mos van jou eie medisyne.”

Die haat gloei in konst. Koekemoer se oë.

“Jy weet natuurlik ons is net die handlangers?” sê-vra hy.

“Grootbaas gaan nie hiervan hou nie.”

“Grootbaas se gat,” kap L. Otto terug. “Wees nou ’n soet seuntjie en maak soos ek sê.”

Konst. Koekemoer sug swaar en maak soos hy beveel is.

Nadat die cop homself aan die tafel vasgeboei het, druk L. Otto sers. Onvriendelik se vuurwapen voor by sy broek in en maak aanstaltes om te loop.

Hy kan nie veel langer hier bly nie, besef hy maar alte goed.

“Dit maak nie saak waar jy gaan wegkruip nie,” skree konst. Koekemoer agterna.

“Ons het jou voorheen opgespoor en ons sal dit weer doen. Jy is in jou moer, meneer L. Otto.”

L. Otto slaan die voordeur hard agter hom toe.

Konst. Koekemoer is reg: Die grootbaas gaan nie speel as hy hom in die hande kry nie.

Veral nie ná wat hy wat L. Otto is, aangevang het nie.

So, hy sal eerste moet terugslaan. En hard.

Maar eers skree hierdie klomp beserings van hom om versorg te word.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters