4 maande gelede
Die bloedjong Bianca verlei 'n joller-speurder
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem hierdie een “Wie met Vuur Speel”. Lekker lees!

‘WANNEER sien ek jou weer?” vra Bianca in ’n heserige stemtoon.

Sy lê met haar kop op my bors en streel liggies met haar vingerpunte oor my arm.

Haar liggaam is naak, warm en natgesweet.

Oomblikke gelede het sy soos ’n wilde dier te kere gegaan.

Ek het natuurlik elke sekonde daarvan geniet.

“Ek sal jou laat weet,” antwoord ek onseker. “Ek het mos jou nuwe nommer.”

“Jy moet tog nie weer so lank wegbly nie. My bed is koud sonder jou.”

“Ek sal my bes probeer.”

“Dis nie goed genoeg nie, James. Jy skeep my af.

“Aan die begin het jy minstens een keer per week kom kuier.”

“My werk ...”

“Aag, net nie weer daardie ou verskoning nie.

“Raak jy moeg van my?”

“Natuurlik nie, Bianca. Jy is nou onredelik.”

’n Stilte volg. Dan: “Maak nog vir oulaas liefde met my voordat jy huis toe gaan.

“Ek weet nie wanneer ek jou weer hier by my gaan hê nie.”

Sy draai op haar rug, gewillig soos altyd.

Ek laat my ook nie twee keer nooi nie.

Toe ek op haar gaan lê, gaan haar bene stadig oop.

Die geluide wat sy uiter, laat my hart vinniger klop.

Ek wens die oomblik hou vir altyd aan.

Bianca is so vol energie, so vol lewenslus. As dinge anders was ...

Nee, ek moenie so redeneer nie. Ek mag nie.

Dis verkeerd. Bianca is 25; ek word 40.

Boonop is ek getroud. Ek is veronderstel om van beter te weet.

As my vrou ooit hiervan moet uitvind. Ek dink nie sy sal my ooit vergewe nie.

Sy sal te seergemaak wees. Te diep teleurgesteld, want sy vertrou my ten volle.

Die dag toe ek ewige trou aan haar gesweer het, het ek haar belowe geen ander vrou sal ooit haar plek in my hart inneem nie.

Maar hierdie ding tussen my en Bianca het só ver gevorder dat daar nou byna nie omdraaikans meer is nie.

Ek probeer wegbly, maar elke keer is ek terug.

Wat is dit met my? Dis tog nie asof daar probleme in my huwelik is nie.

Estelle is ’n goeie vrou. Ons is lief vir mekaar. Tog kom ek keer op keer terug na Bianca.

En my skoonpa. Van hom wil ek nie eens praat nie.

As hierdie affair op die lappe kom, twyfel ek of ek ooit die einde daarvan sal hoor. Hy is nie verniet ’n prediker nie.

Ek onthou hoe hy my al maande voor die troue die leviete voorgelees het.

“Jy moet dit net waag om my kind se hart te breek, mannetjie. Dan sal jy met my te doen kry.

“As ek met jou klaar is, sal jy net die klere aan jou lyf oorhet.”

Toe Bianca uitasem langs my gaan lê, sê ek: “Dit raak laat. Ek sal nou moet gaan.”

Sy steek haar arms uit en gryp my vas.

“Wil jy nie die hele nag met my deurbring nie?” pleit sy.

“Ek sal graag wil, maar jy weet ek kan nie.

“Ek wil nie hê Estelle moet hond se gedagtes kry nie.”

“Doen jou vrou dit beter as ek?” wil sy skielik weet.

“Nou is nie die tyd om daaroor te praat nie.”

Ek wikkel my los uit haar omhelsing. Ek staan op en trek my klere aan.

“Kom sluit die deur agter my. Die wêreld is boos hier buite.”

By die voordeur sien sy my weg.

Ek wag totdat ek die sleutel in die slot hoor knars voordat ek in my Toyota Corolla klim.

Ek sit ’n rukkie stil voordat ek stadig wegtrek.

Op pad huis toe pak ’n skuldgevoel my beet.

Wat gaan met my aan? Hoekom beland ek keer op keer in Bianca se bed?

Ek het so ’n goeie vrou. Sy vra nie vrae as ek party aande laat by die huis kom nie, want sy dink dit is my werk wat my so besig hou.

As speurder moet ek soms ná kantoorure ’n verdagte gaan ondervra of weer ’n draai op ’n misdaadtoneel maak.

TOE Bianca twee weke later bel en soebat dat ek moet kom kuier, sit ek my voet dwars.

“Ek is baie jammer, maar ek glo nie ons moet mekaar weer sien nie.

“Dit wat tussen ons gebeur het, was fantasties, maar ek dink dis beter dat ons paadjies skei.

“Kry vir jou iemand van jou portuur. Iemand wat nie ’n vrou by die huis het nie.”

Sy begin gil: “Jy kan dit nie aan my doen nie! Ek is lief vir jou!”

Ek druk die foon dood en dit voel soos ’n swaar gewig wat van my skouers af is.

Ek moes nooit toegelaat het dat dinge so ver gaan nie.

Wie sou nou kon dink ’n onskuldige geselsie in ’n sportkroeg sou só lelik uitdraai?

Hoe kon ek my tog laat verlei deur iemand wat 15 jaar jonger as ek is? Ek is ’n gerespekteerde ondersoekbeampte.

Bianca behoort gou oor my te kom. Sy is mooi en kan enige man kry wat sy wil hê.

Toe ek ’n maand later niks weer van haar hoor nie, sug ek verlig. My gebede is verhoor.

Bianca het aanbeweeg. Nou kan ek weer al my aandag aan my vrou en my werk gee.

Ek moet reeds die reeksmoordenaar wat hawelose mense snags om die lewe bring, aan die pen laat ry. Ek volg alle moontlike leidrade op.

Dis toe glad nie nodig vir my om self die moordenaar vas te trek nie.

Twee beamptes in ’n patrollievoertuig betrap hom laat een aand op heter daad – nogal met die moordwapen in sy hand.

Die volgende paar dae is dit voorbladnuus in ál wat ’n koerant is.

EEN agtermiddag op pad huis toe stop ek by ’n blommewinkel en koop vir my vrou ’n groot bos pragtige rose.

Ek sal myself nooit vergewe vir die onreg wat ek haar aangedoen het nie, maar ek kan seker maak dit gebeur nie weer nie.

Terug in my kar lui my selfoon. Dis Estelle. “Hallo liefie,” antwoord ek opgewonde.

“Mis jy my? Ek is nou-nou daar.”

“James, kom dadelik huis toe. Daar is iets waaroor ons moet praat.”

“Wat is fout, my skat? Jy klink ontsteld.”

“Hier het nou ’n Bianca by my aangekom.

“Sy sê sy is swanger met jou kind.

“Dit kan mos nie waar wees nie, of hoe ...?”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters