11 dae gelede
Die besoeker vat vir eers die wind uit almal se seil
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Lockdown is nie ’n tyd vir sissies nie. Nee kyk, in hierdie tyd kou ’n mens harde, harde bene. En dit is in sulke moeilike tye dat twee vroue met ’n diepe lus vir rook ons main ou nader. Hulle wil weet waar hy in dié tyd gwhaais in die hande kan kry. En as hulle nie hul sin gaan kry nie, gaan hulle die polieste op ons main ou sit. Hy het dus geen ander keuse as om sy geheim met hulle te deel nie. Of het hy? Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se “Die Girls van Lockdown Avenue­”.

OM SO na Jenny en Frieda hier voor my te kyk, vat my sommer way back.

Way terug na die dae toe ons as sorgelose kinders strooi kon aanvang. Toe duiwelsgoed soos debietorders en Covid-19 nog dinge was wat net in futuristic movies bestaan het.

Ja, ek rook sedert die lockdown begin het op my lekkerste en ek kan nie op Facebook saampraat wanneer die mense so moan oor die ridiculous pryse wat hulle nou vir cheap entjies moet betaal nie.

Ek het ook ’n connection vir my gunsteling-dop, whiskey, waarvoor ek nie ’n plaas se prys hoef te betaal nie.

Maar is dit Jenny en Frieda se besigheid? Nee, beslis nie!

Nie een van die twee vroue voor my is eintlik my probleem nie.

Nie een van hulle het al ooit ’n meaningful rol in my lewe gespeel nie.

“Toe, ek wag,” ruk Frieda my uit my gedagtegang wakker.

“Jy het ’n connection en ek wil nou weet wat dit is, anders gaan vertel ek die gattas.”

Jenny van der Block staan ook nou arms gevou, soos ’n watse sister-in-arms.

Ek is op die punt om my die twee se audacity te vererg, toe die voordeur-hekkie weer met ’n kraakgeluid oopswaai.

Ek skrik toe ek die meisie herken wat met sulke swaaibene soos in die movies na ons aangestap kom.

Hester ... Hester Rothman. Waar val sy uit? kan ek nie anders as om te wonder nie.

Ek is nog nie lank terug nie, maar ek het al by so ’n paar mense gehoor dat Hester ná skool over all the seas gaan studeer het en in Amerika bly. Maar hier staan sy dan nou in lewende lywe. So prentjiemooi soos altyd.

“Excuse me, sorry to disturb,” sê Hester in daai mooi stem van haar.

Dadelik onthou ek hoe ek altyd op skool droomverlore gesit en luister het wanneer Hester voor in die klas haar mondeling gestaan en doen het.

Hester het die gladste hare in die klas gehad. Selfs gladder as Jenny van der Block s’n.

En as my geheue my nie in die steek laat nie, was pittekop-Frieda altyd die een wat Hester se hare gekam en ander se puisies uitgedruk het.

Ek gril sommer van oor af vir daai potent kombinasie waarmee Frieda haar altyd in die klas besig gehou het.

Dit alles net om nie aandag aan haar skoolwerk te gee nie.

En nou staan Hester hier voor my. In lewende lywe. Met daardie legs for days van haar ...

“Hester?” vra Frieda verbaas. “Is dit jy? Is ek dan nou besig om tok– ... agge, spoke te sien?”

Hester glimlag en ek bevind myself weer vasgevang en verlore in haar dimples.

“No, you are not seeing a ghost,” antwoord Hester in so ’n vreemde aksent.

“It is me. How are yous?”

Ek gryp dadelik na my broeksak vir ’n entjie toe die besef by my opkom dat Hester nooit in Amerika was soos wat ek vertel is nie.

“How are yous” is vir my meer as genoeg prove dat Hester al die tyd in die Verenigde State van Mitchells Plain gebly het.

Ek kan sien dat Jenny en Frieda nie lus is vir die nuwe geselskap nie.

Hoe dan ook anders? Die twee is diep lus vir rook en hulle wil sou gou moontlik by my hoor waar hulle ’n skyf in die hande kan kry.

Hester en haar onverwagte verskyning kom maak nou net hul planne wim.

Maar as Hester agtergekom het dat haar presence so onwelkom is soos ’n yskas-salesman in Alaska, dan steek sy dit baie goed weg. Sy draai na my en smile en remind my net weer hoe tog te poenankies daai dimples werklik is.

“I see you’re still looking good after all these years,” sê sy in daai funny aksent.

Ek trippel ongemaklik rond. Ek en my lelike gevreet was nooit gemaak vir komplimente nie.

Nie net is ek nou oortuig daarvan dat Hester ál die jare in die Plain gebly het nie, ek glo ook dat daar moerse fout is met haar sig.

Ek kan nie my body keer rondwieg nie. Ek is immers van daai 1% coloureds wat nooit geleer jazz het nie. Een keer, een keer het ek vroeg op high school getry jazz met ’n girly wat ek gesmaak het.

Maar nadat ek byna haar tone vermorsel het, het sy nooit weer met my gepraat nie.

“Neeee,” wurg ek my woorde uit toe ek besef dat dit onbeskof gaan wees om Hester nie te antwoord nie, “ ’n mens gaan maar aan. Ek hoor jy was jare lank in Amerika? Wat maak jy dan nou weer hier?”

Dis Hester se beurt om ongemaklik rond te trippel. Haar wange verkleur AllGold-rooi.

“Aag, I was busy with a little bit of this and a little bit of that,” antwoord sy vaag.

Met ander woorde sy het eintlik f*kk*l gedoen, Google translate my mind haar woorde vir my.

“En is jy nou terug in Roamer-straat?” vra ek.

Ek merk op dat Jenny en Frieda nou ook met meer belangstelling na Hester kyk.

Maar kykie, Hester kan nie een van ons in die oë kyk nie.

En toe weet ek, die girl, Hester, is hier op ’n ander mission.

Ek sal die waters moet toets, besluit ek, en haal ’n entjie uit my pakkie. Net om te bewys dat ek ook van tyd tot tyd ’n gentleman kan wees, hou ek die pakkie na die drie vroue uit.

Frieda skiet soos ’n pyl uit ’n boog na vore. As sy nou in ’n race met Usain Bolt was, het daai ou k*klaaste gekom.

Jenny van der Block tree darem nog so girly-girly na vore en try die sigaret op ’n posh manier vat.

Hester bekyk my eers op en af voordat sy ’n sigaret uit die pakkie neem.

Sy light haar entjie, vat ’n skyf en nadat sy die rook uitgeblaas het, kyk sy na die branding op die sigaret.

“And where do yous get Camel in times like these?” vra sy agterdogtig,

Ek probeer om nie pynlik ineen te krimp vir haar “yous” nie.

“Hoe mean jy dan nou?” kom ek met my teenvraag. “Dink jy dan kamele loop net in die woestyn rond?”

“Wil ek ook mos weet,” chime Frieda in. “Maar nee, hy wil mos nie vir ons sê nie. Ons was hoeka besig om antwoorde te demand toe jy so ongenooid hier uitsteek.”

Hester draai geskok na Frieda en loer dan Jenny. Dié enjoy haar skyf. ’n Mens kan sommer sien haar longe is lanklaas ordentlik entertain.

“Did you know I work for the police?” vra Hester en blaas die entjie-rook uit.

En ek verstik amper in hierdie rook oor haar onthulling ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters