27 dae gelede
Die baas wil kil weet of Deidre en Marky iets aan het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die nota met die woorde “Kry vir jou, Regter. Kry vir jou!” in die vermoorde regter Bennie Arends se hand laat speurkapt. Marky Marcus en sy kollega konst. Deidre Louw behoorlik kopkrap. Daar is baie dinge wat nie sin maak nie. Dis moeilik om hulle vermoedens met hulle knorrige baas, brig. Ndlozi, te deel. Geniet nou hoofstuk 4 van Kry vir Jou deur ELDRIDGE JASON.

‘KOM hier!” skree brig. Ndlozi vir Marky toe hy knap ná Deidre uit die kantoor uit vlug.

Daar is ’n diep frons tussen sy oë, so asof iemand hom met ’n graaf bygekom het.

“En maak die deur agter jou toe!” bulder hy weer.

Marky gehoorsaam soos ’n stout seuntjie.

“Sit,” blaf die brigadier.

Weer gee Marky woordeloos gehoor.

“Wat gaan aan tussen jou en konst. Louw?” skiet die brigadier sy vraag onverwags na Marky.

Marky gaap hom oopmond aan.

“Ek het jou ’n vraag gevra,” gaan die stasiebevelvoerder kil voort. “Het julle ’n ding aan?”

“Nee! Is jy mal?”

Die woorde is uit nog voordat Marky homself kan keer. “Askies, Brigadier,” vra hy gou-gou verskoning. “Ek het nie bedoel om–”

“Om jou plek te vergeet nie?” val Ndlozi hom in die rede.

“Jy is supposed om die senior polisiebeampte te wees. Louw is jou junior, maar moenie dink ek sien nie hoe lekker hanna-hanna julle saam nie.

“In hierdie bedryf moet ons professioneel wees. Elkeen moet sy plek ken. Range moet gerespekteer word.”

Brig. Ndlozi byt elke woord af.

Marky voel hoe hy teen sy nek op warm word.

“Sy... sy is soos ’n kind vir my. Ek is ver ouer as sy,” prewel hy.

“Hierdie is nie ’n crèche nie,” sê die brigadier ongevoelig. “Ek?…”

Hy bly stil toe daar ’n harde, dringende klop aan sy kantoordeur is.

“Binne!” bulder hy weer.

Marky kan nie anders as om te wip van die skrik nie. Is dit nodig vir Ndlozi om altyd te praat asof almal kilometers ver van hom af is?

'n Jong konstabeltjie kom versigtig binne.

“J-j-jammer om t-te p-p-pla,” stotter hy.

“Jong, is jy f*kk*n familie van Huckleberry Finn?” vra die brigadier bars. “Wat wil jy hê?”

Die konstabeltjie raak All Gold-tamatiesousrooi. “Daar?… daar’s nog ’n lyk gekry, Brigadier.”

Ndlozi vlieg uit sy stoel. “My f*k!” vloek hy hardop. “Is dit iemand wat ons ken?”

Die konstabeltjie se adamsappel spring op en af in sy keel. “Dis NastyBoy G, Brigadier.”

“Wie de hel is NastyBoy watsegoeters?” vra die brigadier ongeduldig. “Seun, is jy besig om my tyd te mors?”

Die konstabel trippel ongemaklik rond, maar word hierdie keer darem nie van stryk gebring deur sy bevelvoerder se ongenaakbare houding nie.

“Hy is ’n famous rapper in Afrikaans, Brigadier,” verduidelik hy vinnig. “Hy en die regter?... Bennie Arends?... Hulle twee was glo koptjommies.”

Brig. Ndlozi vloek weer kliphard en draai hom dan na Marky.

“Kan jy sien watter hel-nes nou oopgevlek is? Ek kan al sien hoe gaan die media ons weer kasty.

“Oe, jirre, ek sien al hoe bel daai polisiewoordvoerder FC van Dyk my weer netnou.”

Marky staar die brigadier verbaas aan. Hoe is dié gebeure sy skuld? Wat het hy gesondig?

“Moenie jou gat hier staan en warm sit nie,” skel die brigadier op Marky. “Gaan na daai Nasty-watsegoeters se plek toe en ondersoek dié moord.”

Marky laat hom nie twee keer nooi nie en hy vlieg op. Voordat die baas hom kan terugroep, is hy by die kantoor uit en in die gang af. Hy kan maar net hoop hulle het nie hier te doen net dieselfde killer nie?...

DIE flat waar NastyBoy G gewoon het, is nie ver van die polisiestasie af nie. Marky en Deidre is in ’n rekordtyd daar.

Die pad voor die woonstelblok is al afgesper.

'n Journo storm op Marky af toe hy uit die kar klim. Marky herken hom dadelik. Dis Darryl Afrika-Afrika, misdaadverslaggewer van Son.

Marky vloek saggies.

“Speurkaptein Marcus, hoe gaan dit?” vra die verslaggewer vriendelik.

Voordat Marky kan antwoord, gaan hy voort: “Is daar ’n verband tussen die moord op regter Arends en op NastyBoy G? Is die motief al bekend? Is daar verdagtes?

“Jirretjie,” sug Marky swaar. “Kan jy dan nie sien ek kom nou eers hier aan nie? En besides, jy weet mos om kapt. FC van Dyk vir kommentaar te nader. Ek is net ’n gewone ou polisieman en mag nie met die media praat nie.”

“Maar wat het u gehoor oor die moorde?” hou die verslaggewer dik en maak sy notaboekie oop. “Is dit ’n serial killer se werk?”

Marky gooi sy hande radeloos in die lug en wink vir Deidre om hom te volg.

“Kaptein?... Kaptein?” skree Darryl agterna.

“Kaptein se gat,” brom Marky.

“Waaroor het jy en die brigadier gepraat?” vra Deidre terwyl sy sukkel om by Marky se lang treë by te hou.

“Ag, sommer net oor die Proteas wat so k*k speel,” sê Marky. Hy vermy egter haar vraende blik.

“Die brigadier was nog nooit ’n krieketondersteuner nie,” kap Deidre terug.

“Jong, die World Cup maak almal mos maar mal,” sê Marky.

En voordat Deidre hierop kan reageer, vra hy: “Miskien is ek te oud vir hierdie dinge, maar wie is NastyBoy G? Watter ma gee haar kind so ’n naam? Weet die welsyn van haar?”

Deidre gaan staan en bars uit van die lag. “Jinne jy is darem snaaks. En seker maar uit die oude doos as jy nie vir NastyBoy G ken nie. Ken jy nie daai song ‘Jou Masse’ nie?”

“Jou masse wat?” vra Marky oorbluf. “Maak hulle nou al songs van sulke goed?”

Deidre skud haar kop. “NastyBoy G maak waves, oral in die land, nie net op die Kaapse Vlakte nie. Sy songs is ghetto fabulous.

“Die jong mense is mal oor sy songs en noem hom Suid-Afrika se eie Tupac.”

“Wie de hel is Tupac?” vra Marky.

Weer skud Deidre haar kop.

“Dié is ’n fight wat ek nie gaan wen nie,” sê sy. “Maar wat ek jou wel kan sê, is dat regter Arends en NastyBoy G om een of ander weird rede goeie pelle was.

“Ek mean maar, waar het jy nou al gehoor van ’n regter en ’n rapper wat tjommies is?”

“Hmm,” sê Marky ingedagte en vryf oor sy ken. “Ek hoop nie daar sit ook ’n papiertjie in dié Nasty-mannetjie se hand vas nie. Anders het ons probleme. Groot probleme.”

In die woonstel gekom, is die hoop egter die skaamste vir Marky en sy wens.

Van ver af sien hy al die koeëlgat in NastyBoy G se slaap en die vuurwapen wat naby hom op die vloer lê.

En dan merk hy die stukkie van ’n papiertjie wat by die rapper se saamgeperste vuis uitsteek?...

) Lees Maandag verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters