2 maande gelede
Die antie begin bewerig uitvra oor Julian se pa
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Maar daai Romi tjerrie is vol styles, nuh? Romi word deur haar broer Horrid beveel om saam met Julian na Lange en Lentils te soek. Dié twee tjommies van Julian het mos ’n get gevat met Horrid se shipment drugs en dié gangster-dikding soek sy goed terug. Julian het nie veel van ’n keuse nie. Horrid gee sy X5 vir die twee, sowel as ’n ultimatum dat hulle Lange en Lentils binne 48 uur moet opspoor. Maar sodra Horrid weg is, los Romi ’n bom: Horrid is nie regtig haar broer nie en dié se pa het haar biologiese pa vermoor, haar ontvoer en toe as sy eie grootgemaak. En die mooie Romi soek nou revenge en vra Julian om haar te help. Sy vat hom ook na Bellville-Suid, waar haar biologiese ma bly. Gaan Julian haar help om wraak te neem? Geniet hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se Romi en Julian.

‘KOM ontmoet my ma, terwyl jy jou mind opmaak,” sê Romi en klim uit.

Julian volg haar voorbeeld.

Sy kop is behoorlik in ’n spin.

Wie sou kon raai dat sy trip na sy gunsteling-smokkie só sou uitdraai?

Die hekkie kraak toe Romi dit oopstoot.

Iewers blaf ’n hond.

Julian kyk vinnig rond. Die Vader weet, hy is bang vir ’n gangster. Maar banger vir ’n hond.

Asof Romi sy gedagtes kan lees, sê sy: “Jy hoef nie te worry nie. Die honde hier ken my. Hulle byt nie.”

Julian snork deur sy neus. “Die hond wat nie byt nie, moet nog gebore word,” sê hy stroef.

“Dis soos ’n slang wie se natuur dit is om te pik.”

Romi giggel. “Banggat,” sê sy.

Julian vervies hom, maar besluit om niks te sê nie.

Eerder bang Julian as dooie Julian – daai is sy filosofie, en hy staan daarby. Romi klop vinnig aan die voordeur.

’n Lig gaan aan in die huis en ’n sleutel knars in die voordeur. Dit word op ’n skrefie oopgemaak.

“Romi?” vra ’n vrouestem versigtig. “Is daar dan fout dat jy hierdie tyd van die nag hier uitsteek?”

Romi lag onoortuigend. “Nee, daar is nie fout nie, Ma.

“Kan ons inkom? Kyk, daar gaan die ligte van die bis oom oorkant die pad al aan.”

Die antie maak die deur wyer oop en loer dan agterdogtig na Julian.

“Dis ’n vriend van my,” verduidelik Romi en skuur by die vrou verby.

Julian brom ’n groet, maar kry net ’n panga-kyk in return.

Oh well, dink Julian. Hy is nie hier om ’n future skoonma te impress nie.

Die vrou sluit die voordeur en wys vir Romi en Julian om haar die gang af te volg.

In die sitkamer skakel sy die lig aan en wys vir hulle om te sit.

“Koffie?” vra sy. “Dit lyk of julle dit nodig het – veral hierdie ene wat soos twee kroeë ruik.”

Julian trippel verleë rond. Romi bars uit van die lag. Dan vertel sy haar ma die gebeure by Suzie se jaart.

“So, Horrid-hulle is steeds besig met hulle dinge?” vra sy.

Romi knik.

“En hulle pa?” vra die vrou. “Lewe die ding nog?”

Weer knik Romi.

Julian voel soos ’n oorbodige spaarwiel.

Hy maak geïrriteerd sy keel skoon. Albei vroue draai na hom.

“Ek wil nie snaaks wees nie, maar ek hou nie daarvan om so innie dark gehou te word nie.

“Ek word nie eens voorgestel nie en mag ek jou, wat Romi is, remind dat ons 48 uur besig is om uit te loop?”

Die vrou trek haar oë op skrefies. “Mens kan nie lelik wees en dan het jy nog lelike maniere ook nie.”

“Maaa,” sê Romi. “Is dit nodig om só te wees?”

Die vrou draai na Romi. “My kind, hoe ouer ’n mens raak, hoe meer verkies ’n mens om eerlik te wees.”

Julian grinnik. “Lelik kan ek maar wees, maar ék is nie die een wat my met die varke gemeng het en nou met gangster-semels sit nie.”

“H’mmm, Romi, ek sien jy het ’n comedian huis toe gebring,” kap die vrou terug.

“Ten minste kan ek saans slaap wetend dat ek nie met drug-verkopery jong mense se lewe verwoes het nie,” skiet Julian uit die heup.

Die vrou krimp ineen. Daar is meteens ’n seer in haar oë wat Julian laat skaam kry.

“Hoe durf jy so van my oorle’ man praat?” sê die vrou skor.

“Hy was ’n goeie man wat in ’n strik getrap het. Maar toe word hy vermoor oor hy die regte ding wou doen en my kind... ek moes jare lank

wonder wat van my kind geword het.

“Ken jy sulke pyn wat jou nie eens soggens uit die bed uit wil laat opstaan nie. Ken jy, huh?”

Julian vermy haar blik en staar na sy tekkies. Dalk het hy te ver gegaan, maar die ou antie is ook nie so onskuldig nie, dink hy. Sy wou mos

eerste hardegat wees.

“Hierdie battle van julle gaan ons niks in die sak bring nie,” sê Romi.

“I would like to believe dat ons almal aan dieselfde kant is.

“Maybe het ons net op die verkeerde voet weggespring, maar dis nie te laat om oor te begin nie.”

Romi draai na hom. “Jules, hierdie is my ma, Martha. Ma, dis Julian.”

Martha se hand gaan na haar mond.

“Ek het eens op ’n tyd ’n Julian geken. Ons was saam op skool.

“Wat is jou van?”

Julian wil haar eers toesnou dat dit niks met haar te doen het nie, maar besluit om hom in te hou.

“Dis Hobbs,” sê hy traag, nog vies dat Romi hom Jules genoem het. Hy haat al van laerskole af daai bynaam.

“Dit kan nie wees nie,” prewel Martha.

“Is jou pa maybe Julian ‘Hoppie’ Hobbs?”

Julian sit meteens penorent op die rusbank. Hy voel hoe die bloed uit sy gesig dreineer.

“My ma het nie veel gesê oor wie my pa was nie. Net dat hy Hoppie genoem is en orals bekend was.

“Maar nie bekend genoeg om by my ma te bly en saam met haar  my groot te maak nie.

“Ek dink die ding is anyway al jare dood. I don’ know and I don’t actually care.”

Sy stem drup van bitterheid. Net die gedagte oor hoe hy sonder ’n pa moes grootraak, maak hom van oor af die moer in.

Op skool is hy baie gespot dat sy pa gaan seep koop het en nooit ’n comeback gemaak het nie.

“O, maar dit is waar jy die fout maak,” sê Martha en vryf haar hande senuweeagtig teen mekaar.

“Sien,” gaan sy voort en Julian hoor haar stem bewe liggies.

“Hoppie is Horrid-hulle se pa, which means jý wat Julian is, is die seun van die grootste gangster in die Kaap.

“Die seun van die etter wat my man, Romi se pa, vermoor het...”

 Lees Maandag verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters