6 maande gelede
De Volvo onthou sy familie is oor Toontjies verdeel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Krismis Is Vol Memories is CHRISTO MEYER­ se bydrae tot ons Kersverhale. Baasspeurder Antonio de Volvo­ beleef nóg ’n Kersdag met net drank as sy geselskap. Sy vrou, Monica, het hom eendag net so gelos en boonop hulle tweeling, Lauren en Envor, saam met haar oorsee geneem. Sy het in ’n Dear John-briefie verduidelik hy skeep hulle af en sy is keelvol daarvoor dat sy werk vir hom belangriker is. De Volvo dink op dié eensame Kersdag ook terug aan sy familie se ban op byname en hoe hy syne op skool gekry het. Hy onthou hoe Monica in sy lewe gekom het. Geniet nou die derde hoofstuk!

PA WAS glad nie beïndruk met my bynaam nie.

Hy het sy ontevredenheid te kenne gegee deur soos ’n woedende leeu te brul.

“Het jy enige idee hoe lank ek gesukkel het om ’n naam vir jou te kies?

“Is jy nie bly ek het jou nie Jan of Piet of Gert genoem nie? Antonio is ’n sterk naam, ’n naam om op trots te wees.

“Julle kinders is ook met niks tevrede nie. En wat van ons trotse familie-belofte?

“Het jy vergeet daar kan slegte goed op jou pad kom weens ’n bynaam?”

Ek het Pa probeer oortuig dit was juffrou Abrahams se idee en nie myne nie, maar hy het geen aanduiding gegee dat hy haar gaan konfronteer nie.

Eintlik was dit vreemd, want waar dit by familiesake gekom het, het Pa nie met hom laat mors nie. Was hy dan bang vir juffrou Abrahams?

Ma het nie eens ’n bohaai opgeskop nie. Sy het my heelwat later ingelig hoekom Pa my in die eerste plek Antonio gedoop het: Hy was mal oor die movies van ’n oorsese akteur met ’n soortgelyke naam.

Van daardie dag af het niemand my weer Antonio genoem nie. Niemand, behalwe Pa natuurlik.

Hy kon dit steeds nie oor sy hart kry dat ek my deur ’n skooljuffrou ’n gat in die kop laat praat het nie.

“Toontjies klink verdomp soos ’n karakter in ’n kinderrympie.

“Kan jy dink hoe jou neefs en niggies gaan reageer wanneer hulle Kersfees kom kuier?

“Jy kan jou maar solank reg hou vir ’n groot geterg. Kan ’n mens nou so van jouself ’n bespotting maak?”

Dit was die heel eerste keer dat ek nie na Kersfees uitgesien het nie. Pa was die oudste van die sewe De Volvo-broers en dit was ’n tradisie dat almal Kersdag by ons kom eet.

Ek het goed met al my niggies en neefs oor die weg gekom, behalwe met oom Poemfie se drie bedorwe brokke.

Daai was nou regte egte stoutgatte. Praat van onmanierlik.

Nie net was hulle uittartend nie; hulle het op elke hoek en draai ’n tantrum gegooi wanneer hulle nie hulle sin gekry het.

Oom Poemfie was ’n softy. Sy kinders het gedurig op sy kop gesit.

Ek het altyd gedink hy is holderstebolder, maar hy het nie die moed gehad om van die kas af te klouter nie.

Sy stem was altyd so sag en ek het hom nooit sien kwaad raak nie.

Antie Donna, oom Poemfie se oorgewig vrou, met die krom neus en dikraambril, was altyd die een wat die kinders vasgevat het wanneer hulle te veel handuit geruk het.

“Hou nou ’n slag op om so oorlams te wees,” het sy met hulle geraas in die dik stem van ’n jare lange kettingroker.

As hulle steeds nie wou hoor nie, het antie Donna opgestaan, haar bril afgehaal en al drie in een arm vasgepen.

Ons almal kon sien hoe die kinders spoeg en spartel om los te kom. Antie Donna het hulle eers laat gaan wanneer ’n dun, geel straaltjie langs die jongste se bene afbeweeg het.

Op laerskool was ek nie so oplettend as toe ek ouer en wyser geraak het nie.

Noudat ek weer daaraan dink, nie een van oom Poemfie se kinders het soos hy gelyk nie. Nie Marcus, Ekwador of Sarafiena nie.

Pa het eers gewag totdat ons almal aansit vir die Kersete voordat hy die onderwerp aangeroer het.

“Weet julle hoe bedonnerd is ek vir dié klong van my?” het Pa skaamteloos gevloek.

“Wat het hy gesondig?” het oom Poemfie in sy fyn stemmetjie gevra.

“Vra hom self,” het Pa uitgevaar. “Vra hom self hoekom ek so die moer in is.”

Almal se oë was skielik op my. Ek kon voel hoe my wange verkleur. Hoe kon Pa my so op die spot sit?

“Toe, mannetjie, moenie net daar sit met ’n mond vol tande nie. Jy is mos trots op jou en juffrou Abrahams se besluit. Vertel vir almal die wonderlike nuus.”

Ek het soos ’n beskuldigde voor die magistraat gevoel toe ek bewend antwoord: “Ek het ’n bynaam. Niemand noem my eintlik meer Antonio nie. Julle kan my ook maar Toontjies noem, as julle so voel.”

Tot my verbasing het niemand gelag nie. Selfs oom Poemfie se kinders het nie ontevrede gelyk nie. Ek kon dit amper nie glo nie.

Ná ete het oom Poemfie se stoutgatte my eenkant toe gepluk en my beveel om my skoene uit te trek.

“Toe, ons het nie heeldag tyd nie.Wys ons jou voete. Ons wil ook sien waarvandaan die idee vir jou bynaam kom.”

Ek was so verlig. My neefs en niggies het my nie gehaat nie.

Pa was glad nie in sy noppies dat nie een van sy broers kapsie gemaak het teen die Toontjies-benaming nie. Almal het dit gelate aanvaar.

Om die waarheid te sê, niemand wou verder daaroor praat nie.

Aan die uitdrukking op Pa se gesig en sy lyftaal kon ek sien hoe baie dit hom geïrriteer het. Dit het gelyk of hy kon slange vang.

Die familie het nog nagereg geniet toe Pa ’n aankondiging doen: “Julle almal kan maar julle ry kry. En moenie die moeite doen om volgende jaar hier te kom eet nie. Die Krismis-tradisie is iets van die verlede.”

Oom Poemfie en die res het hulle poeding net so gelos en in die pad geval.

Hulle het nie eens gegroet nie. Ek dink hulle was te geskok oor Pa se onverwagte optrede.

Hoekom Pa so ’n groot bohaai oor ’n simpel bynaam gemaak het, kon ek nie begryp nie.

Dit was nie asof Antonio van my geboortesertifikaat verwyder sou word of ek van die De Volvo-naam ontslae wou raak nie.

Ek moes van beter geweet het. Ek moes vir juffrou Abrahams mooi laat verstaan het byname word glad nie in die De Volvo-familie toegelaat nie.

Oor ’n bynaam was ons familie verdeeld. Nie een van oom Poemfie of Pa se ander broers het ooit weer saam met ons aan die Krismistafel gesit nie.

Dit was elke jaar net ons gesin, en glo my, dit was nie ’n plesier nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters