3 maande gelede
De Volvo onthou hoe ’n storie een jaar kop uitsteek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! CHRISTO MEYER se bydrae tot ons Kersverhale is Krismis Is Vol Memories. Baasspeurder Antonio­ de Volvo­ dink terug aan die skeuring in sy familie oor die bynaam wat sy onnie hom gegee het. Dié bynaam, Toontjies, het sy pa so diep omgekrap dat hy sy eie familie van hulle jaarlikse Kers­ete by sy huis verbied het. De Volvo verlang ook na sy gesin en hy onthou hoe sy vrou, Monica, hom gelos het. Sy het boonop hulle tweeling, Lauren en Envor, saam met haar oorsee geneem. De Volvo dink aan al dié dinge terwyl hy nóg ’n Kersdag met net drank as sy geselskap beleef. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk!

TERWYL ek nog ’n glas brandewyn wegslaan, dink ek aan die familie wat een Desember ’n paar huise van ons af kom woon het.

Ek was in st. 4.

’n Groot trok het daardie Saterdag in die straat stilgehou.

Dit het gewemel van nuuskieriges, kinders sowel as grootmense.

Pa het nader gestaan om te hoor of hy ’n handjie kan bysit, maar niemand het hom geantwoord nie.

Die mense het hom net plainweg geïgnoreer asof hulle bang was hy besteel hulle rot en kaal. Toe staan Pa maar weer agteruit en beskou die gedoente op ’n afstand.

“Snaakse mense dié,” het Pa onderlangs gebrom. “Hulle k*k seker ice cream.”

Die teleurstelling was duidelik op Pa se gesig te sien.

Ná ’n maand of twee kom Pa een aand tot dié gevolgtrekking: “Daai nuwe intrekkers is net gemaak en laat staan.”

Ek het nie mooi begryp wat hy daarmee bedoel nie en het maar op die harde manier uitgevind.

Pa was reg. Daai mense het nie ’n flenter omgegee vir hulle bure of die ander inwoners nie.

Op skool het hulle kinders nooit aan sport deelgeneem of met die ander leerders gemeng nie.

’n Mens sou reken oor die geslagte heen het verandering miskien al ingetree, maar nee, die nuwe geslag verskil nie veel van die oues nie.

By tye wil dit voorkom asof die jonges viesliker optree as hulle voorgeslagte, wat lankal dood en begrawe is.

Al het ek nooit juis ooghare vir hulle gehad nie, het ek vroeg die gesegde “bloed is dikker as water” verstaan.

Kerkleiers het al probeer uitreik na hulle, maar dit was asof dié mense in ’n wêreld van hulle eie wil wees.

Vandat ek kan onthou, het dié familie alles op hulle eie manier gedoen en hulle deur niemand laat voorskryf nie. “Hardegat” en “astrant” was nie die regte woorde om hulle mee te beskryf nie.

Nee, vir hulle moes ’n spesiale woord uitgedink word. Aan reëls en regulasies het dié spulletjie met die skrefiesoë hulle min gesteur.

As enige iemand dit gewaag het om hulle verkeerd op te vryf, het hulle soos ’n klomp pit bulls op jou toegesak. Van ouma en oupa tot die kleinkinders.

Hulle van is wel Brummer, maar die inwoners het gereeld na hulle as die klomp brommers verwys. Natuurlik nooit hardop nie, anders was daar moeilikheid.

Die Brummers sal jou klap, skop en met klippe bestook, maar sodra die polisie hulle verskyning maak, is dié onbeskofte familie die onskuld self.

Dan kan daar skaars ice cream in hulle mond smelt.

Hulle pak altyd die blaam op die ander party en aangesien hulle so ’n groot en hegte familie is, kan jy maar vergeet om ’n argument teen hulle te wen.

Dit is amper soos om van die Bokke te verwag om op hulle jaareind-toer met ’n begeesterde Wallis af te reken.

Deur die jare het die Brummers nuwe betekenis aan woorde soos “manipuleer” en “intimideer” gegee. Hulle maak en breek soos hulle wil en kom niks oor nie.

Die Brummers leef net vir hulleself en jy moenie dink as jy honger is jy gaan ’n broodkrummel by hulle kry nie. Nooit.

Hulle sal jou wegjaag, jou mooi laat verstaan jy moet nooit weer jou voete daar sit nie en die deur in jou gesig toeklap. Familie is ál wat vir hulle belangrik is.

Die Brummers is van die min inwoners wat Desember as net nog ’n maand beskou. Hulle heg geen waarde aan die herdenking van Jesus se geboorte en alles wat daarmee gepaard gaan nie.

Kersdag word nie juis as spesiaal beskou nie en hulle doen geen moeite om kerk toe te gaan nie.

Hulle verkies eerder om in smokkelhuise uit te hang, vuil grappe te vertel en om te kompeteer oor watter broer die dronkste kan raak.

En kan daai spul Brummers vir jou ’n hond uit ’n bos suip. Ek kan nie by hulle kers vashou nie.

Die vreemdste van alles is dat die Brummers deur die loop van die jaar nie naby alkohol kom nie.

Dit is asof hulle hulle spaar vir Desember. Van 1 tot 31 Desember is dit net bier, brandewyn, whiskey en wie weet wat nog. Sodra die klok op 1 Januarie middernag slaan, hou die drinkery op.

Die drank wat oorbly, word in die toilet afgespoel. Niemand moet dit waag om net skeef in hulle rigting te kyk wanneer hulle so vol lawaai­water is nie.

Jy sal ever spyt wees jy het met hulle moeilikheid gesoek.

Wanneer die Brummer-broers dronk in die straat gestrompel kom, sien jy net vensters en deure toeklap.

Almal weet wanneer hulle in daardie bui is, moet jy liewer uit hulle pad bly.

Hulle sal nie skroom om jou te lyf te gaan al het jy niks verkeerds gedoen nie.

Die Brummers is vol geheime.

Tot vandag weet niemand waarvandaan hulle oorspronklik kom nie. As enige iemand dit waag om hulle daaroor uit te vra, kry jy die skurfste van skurwe kyke.

Maar ’n nuwe storie het een Kersfees, so ses jaar gelede, kop uitgesteek.

Of dit waar is, kan ek tot vandag nie sê nie. Ek is mos nie meer die ondersoekbeampte wat op my dag as die Snuffelhond bekend was nie. Ek het my touch verloor.

En nogtans glo ek waar ’n rokie trek ...

Die vroue in ons dorp stap wye draaie om die Brummers.

Twee vriendinne vertel hulle het hulle op dié betrokke aand lelik misgis. Hulle was stout en wou die kat in die donker knyp. Helaas het niks daarvan gekom nie.

Hulle vertel al is die Brummers so aantreklik en gespierd, is hulle nie juis geseënd in daardie onderste afdeling nie.

Ek het iets gehoor van ’n gekielie, ’n gegiggel en nog iets van one minute noodles.

Maar soos ek sê, ek weet nie of dit waar is nie.

In hierdie dorp van ons kan jy nie alles glo wat jy hoor nie.

Soos wat ons nader aan Kersfees kom, sal sommige persone allerhande stories opmaak net om ’n dop uit jou te kry.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters