6 maande gelede
De Volvo dink aan goeies en slegtes wat hy al raakloop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Krismis kruip al hoe nader en ons gaan voort met ons Kersverhale. Krismis Is Vol Memories is CHRISTO MEYER se bydrae. Baasspeurder De Volvo­ beleef weer ’n eensame Kersdag nadat sy vrou, Monica, hulle tweeling, Lauren en Envor, saam met haar oorsee geneem het. Sy het hom eendag gelos en net ’n briefie agtergelaat. Sy het verduidelik hy skeep hulle af, sy werk is vir hom belangriker as die mense om hom en sy is keelvol daarvoor. In die laaste deel skryf sy: “Ek is jammer, maar ek is moeg daarvan om die vrou van ’n selfsugtige speurder te wees. ” Geniet nou die tweede hoofstuk van sy jongste pennevrug!

EK VAT ’n laaste sluk van die bier en gooi die leë bottel in die vuilgoedblik.

Ek haal ’n brandewynglas van die rak af en skink vir my ’n sterk dop Olof Bergh.

In my oë maak ’n bottel goedkoop wyn jou net so gesuip soos ’n duurder een.

Aan labels op ’n bottel het ek my nog nooit gesteur nie.

’n Man skaf mos ’n ding aan soos dit sy sak pas.

Ek hou nie van brandewyn met Coke gemeng nie.

As ek nie my dop skoon kan drink nie, bly ek liewer daarsonder. Coke bederf die smaak.

Met die glas in my hand staar ek voor my uit.

Ek weet dit is my eie skuld dat ek in hierdie gemors is.

Ek kan nie vinger wys en die blaam op iemand anders pak nie.

My vrou en kinders kon steeds hier gewees het as ek soos ’n ware pa en eggenoot opgetree het.

Maar ek het nie hulle belange ook op die hart gedra nie.

Alles het net oor my gegaan, my strewe na sukses en kyk waar het dit my gebring.

Ons kon nou as ’n gesin gesellig verkeer het.

Wanneer laas was hier ’n Krismisboom in die huis met geskenke rondom?

Ek wonder of die tweeling ook na my verlang.

Ek glo nie, anders sou hulle al kom kyk het hoe dit met my gaan.

Monica was reg. Ek het net aan myself gedink. Elke moordsaak waaraan ek gewerk het, wou ek tot elke prys oplos. Ek wou nie rus voordat ek die skuldiges aan die pen laat ry het nie.

In een van die geraamde foto’s teen die muur staan Pa en oupa Aubrey langs mekaar. Nie een van die twee glimlag nie.

Die fotograaf het hulle seker onkant gevang.

“Familie kom altyd eerste,” het Pa my geleer. “ ’n Man wat nie sy vrou en kinders respekteer nie, kan maar vergeet van ’n lang en gelukkige lewe.

“En as daar reëls is, moet dit nagekom word.”

Soms wonder ek of ek gestraf word omdat ek my nie aan sekere familiereëls gesteur het nie.

Pa het my heelwat oor ons familiegeskiedenis vertel toe ek op laerskool was.

Baie dekades lank wou my voorouers niks van byname weet nie.

Al was jou doopnaam Snippermandjie, net om ’n voorbeeld te gebruik, is dít hoe almal in die familie jou aanspreek.

Nie Snip, Snippie of wat ook al nie.

Byname en bad luck gaan hand aan hand, het ’n groot, groot oupagrootjie volgens Pa lank voor my tyd geglo.

En so is hierdie siening van hom keer op keer van geslag tot geslag oorgedra.

In die dorpie waar ek die eerste keer die lug met my fyn poepies besoedel het, het mense gewoon wat ek nie maklik sal vergeet nie. Mense wat op een of ander manier ’n rol in my lewe gespeel het.

Baie van hulle is nie meer met ons nie, maar oral waar ek gaan, dra ek die herinneringe saam. Die goeies sowel as die slegtes.

Hierdie tyd van die jaar, wanneer almal in ’n feestelike stemming is, dink ek met heimwee terug aan my kinderdae.

By tye kry ek trane in my oë, ander kere lag ek so hard dat Snoesie my gemmerkat my onseker aangluur.

Dan vryf ek liggies oor sy rug om hom gerus te stel.

Soms verlang ek na vriende wat ná matriek elkeen hulle eie ding gaan doen het en dan wonder ek of almal se drome waar geword het.

Ek is nie meer vandag se kind nie. En ek is glad nie op die hoogte van ander se doen en late nie, want ek toon geen belangstelling in so­siale netwerke soos Boekface, Splitter en Watse-aap nie.

Maar as jy reken iets skort met my geheue, ou maat, slaan jy die bal lelik mis.

In standerd een (deesdae is dit mos graad-goed) was ’n juffrou van wie niemand gehou het nie.

Sy was gedurig nors en dit het baiekeer gelyk of sy ekstra moeite doen om onvriendelik te wees.

Ek het dikwels gewonder of iemand kans sien om die definisie van “glimlag” aan haar te verduidelik. Ek onthou haar as juffrou Abrahams.

Sy was net vel en been en al beskryf ek haar nie heeltemal as skreeulelik nie, het sy beslis ook nie in die kategorie van aantreklike vroue geval nie.

Daar was dae dat juffrou Abrahams net woordeloos voor haar uitgestaar het soos iemand wat aan iets uit haar verlede sit en dink.

Ander kere het sy die leerders so verskree asof die duiwel haar opdrag gegee het om dit te doen.

Niemand het dit gewaag om by die hoof te gaan kla nie, want juffrou Abrahams het ons mooi laat verstaan sy sal die wêreld warm maak vir klikbekke wat haar naam deur die modder sleep.

Een oggend in die winter wink juffrou Abrahams my tot by haar lessenaar.

Ek staan op uit my sitplek om te gaan hoor wat sy wil hê.

Ons was klaar met eksamen en ek dog sy wil my seker net kafee toe stuur om koffie of iets te gaan koop, maar ek was verkeerd.

Toe ek voor haar staan, gee juffrou Abrahams my so ’n skewe kyk.

“Antonio de Volvo, ek hou niks van jou naam nie,” sê sy hard genoeg dat almal in die klas hoor.

“Ek gaan vandag vir jou ’n bynaam gee.

“Van vandag af noem ek jou Toontjies. Dis baie sagter op die oor as Antonio.”

My klasmaats het uitgebars van die lag. Hoekom, weet ek nie.

Aan die ernstige uitdrukking op juffrou Abrahams se gesig het dit nie gelyk of sy dit as ’n grap bedoel nie.

Wat was so snaaks aan “Toontjies”? Vir my was dit eintlik cool. Hulle almal is sommer simpel, het ek by myself gedink.

Daardie selfde dag nog het die skugter Monica Maart met my kom gesels: “Ek wil net hê jy moet weet ek het nie saam met die ander gelag nie. Hulle is sommer ligsinnig.

“Of jy nou daarvan hou of nie, ek dink ‘Toontjies’ is nogal ’n mooi naam. Dit pas by jou. Dink jy ook so?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters