Verlede maand
De Grootte sê vir Jules hy wil die mensdom rescue
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Jules is op die oomblik in die omstrede sekte-leier Alexander de Grootte se fort. De Grootte self kom kuier vir Jules en nooi hom om deel van sy groot plan te wees. Ook bied hy aan om seker te maak dat Jules se geliefde dogter, Kia, hulle ook sal kan join. Maar waarin het hy wat Jules is hom begeef? Sal hy die cops kan help om De Grootte in sy duiwelse spore te stuit? Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

JULES vryf oor sy polse waarin die merke van die toue diep gegrou lê.Alexander de Grootte het een van sy handlangers aangesê om sy toue los te sny.

Hy het intussen ook ’n glas water gekry om sy diep dors te les.

Jules swaai sy voete van die bed af.

“Hoe lank gaan jy my hier gevange hou?” vra hy en kyk De Grootte reguit in die oë.

“Ek het nie enige invite gekry om hierheen te kom nie.”

De Grootte ignoreer sy vraag. “Ken jy Psalm 121?” vra hy en kruis sy bene.

“Ek weet nie wat dit met die prys van eiers te doen net nie, maar ja,” antwoord Jules. “Ek slaan my oë op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom?

“My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

“Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie ...”

De Grootte gee ’n lelike lag. “Jy put inspirasie uit swaarkry? Want dit is wat vir almal hier op aarde wag.

“Die 26 miljardêrs van hierdie wêreld het meer geld as 3,8 miljard mense hier op aarde, en al wat vir jou uitgesit is, is ’n huisie in die hemel?

“Oral waar jy op die Kaapse Vlakte kyk, kry mense swaar.

“Elke begin van die maand is die afskop van ’n splinternuwe struggle.

“Maar hulle pastore en ander kerkleiers ry met die blinkste voertuie rond. Dit van tiendes, ander mense se sweet.

“Die kerke, hierdie instellings, is niks anders as money-making schemes nie.

“Tog eet hierdie mense alles wat in die Bybel staan vir soetkoek op. Hoekom?”

Jules sug swaar. “Ai, ou Alexie ... ek kan jou seker maar Alexie noem?”

Jules sien Alexander de Grootte lyk iewat geïrriteerd, maar gaan haastig voort: “Hierdie is eeue-oue redenasies sonder enige grondige verwere.

“Jy weet dat ons stryd hier op aarde begin het die dag toe Adam en Eva besluit het om ongehoorsaam te wees.

“Dis die ewige stryd tussen die goeie en die slegte en dit kan net goed met ons gaan as ons gehoorsaam aan sy Woord is.

“Nie ek of jy het die reg om God, sy Woord en sy besluite in twyfel te trek nie.”

De Grootte frons. “So, ons moet alles net vir soetkoek opeet?

“Dis die begeerte en wil van God om ons in armoede te dompel? Om ons kinders aan tik verslaaf te maak?

“Om ons vir die wolwe soos gangsters te gooi?

“Dít terwyl daar 26 miljardêrs in hierdie wêreld is wat nie kerk gaan nie, maar met meer geld geseën word as wat daar sand in ’n woestyn is?

“Wat is fair omtrent dit? Nou word ek as ’n duiwel uitgekryt omdat ek hierdie vrae nie net vra nie, maar ander ’n alternatiewe weg wil wys.”

“En wat is hierdie alternatiewe weg?” vra Jules. “Wat kan jy die mensdom aanbied wat die lewe op aarde beter sal maak?

“Ek moet eerlik wees: Al wat ek sien en hoor, is dat jy jou mond warm praat, protesteer teen die status quo en ’n beter lewe vir almal aanbied. Jy klink soos niks anders as ’n politician nie.”

De Grootte gooi sy kop agteroor en lag.

“Met ander woorde, ek is meer bek as binnegoed, sê jy?

“Jy sal later sien dat ek nie net ’n prater is nie. Vanaand sommer.

“Jy is die eregas by ons diens vanaand.

“Vanaand sal jy moet besluit of jy saam met die wêreld wil vergaan, of ons wil help om radikale veranderinge tot die mens se voordeel te bewerkstellig.”

De Grootte is meteens haastig en vlieg van sy stoel af op.

“Ek is seker jy is honger en nog dors. Iemand sal binnekort in jou behoeftes voorsien.

“Onthou, hierdie deur gaan nie gesluit wees nie en jy is vry om hier uit te stap. Niemand gaan jou keer nie.

“Maar jy stap weg van ’n geleentheid waar alles vir jou in plek kan val. Jy gaan wegstap van ’n geleentheid waar die dood jou nie meer van ’n loved one gaan beroof nie.”

Jules gaap hom verbaas aan. Hoe weet De Grootte van sy vrou se dood? So asof De Grootte sy mind kan lees, gaan hy voort: “Ek het my huiswerk gedoen, Jules. Ek weet alles van jou af. Alles.

“Moet geen oomblik dink dat ek jou in my binnekring sal toelaat as ek nie seker is dat jy my nie gaan verraai nie.

“Ek gaan nie daai selfde fout maak soos Caesar wat nie kon sien dat Brutus sy panga vir hom skerp slyp nie.”

De Grootte stap tot my die deur, maak dit oop en draai weer om.

“Ek het ’n plan wat hierdie mensdom in sy fondament gaan skud. Daai belowe ek jou. Hierdie gaan die Vierde Wêreldoorlog wees. Oordeelsdag.”

“Nou, wat het dan van die Derde Wêreldoorlog gebeur?” vra Jules. “Ek dink jy het ’n bietjie jou storie deurmekaar. Is daar nie dalk ’n paar varkies van jou in ’n gestig nie?”

De Grootte grinnik. “Ek hou van jou humorsin.

“Maar as jy nie alreeds besef het dat jou eie lewe een moerse groot oorlog was nie, dan wag daar meer skaafwerk aan jou as wat ek verwag het.”

Dan maak hy die deur saggies agter hom toe.

Jules skud sy kop en gooi weer sy bene terug op die bed.

Hy staar na ’n klein kolletjie teen die plafon. Dat De Grootte koekoes is, twyfel hy geen oomblik meer aan nie.

Maar wat is hierdie Oordeelsdag-gedagtes van hom?

Hier is iets leliks aan die broei en hy kan nie wag vir vanaand se kerkdiens nie.

Toe Alexander de Grootte sy studeerkamerdeur agter hom toe stoot, vryf hy sy hande ingenome teen mekaar.

Sy plan is besig om mooi inmekaar te val. Hy is daarvan oortuig dat alles gaan uitwerk.

Hy stap reguit na sy klein kroegie toe en skink vir hom ’n groot dop whisky.

Hy vat ’n diep sluk en ril effe toe die dop deur sy liggaam sypel.

Jules dink seker hy wat Alexander is, het dom gekom en weet nie van sy, Moloi en slapgat Mthembu se vergadering nie.

Maar hulle ken nog min jokes. Hy het ’n surprise vir hulle wat hulle nie gou sal vergeet nie. Hulle moenie dink hulle kan hom vir ’n one vat nie ...

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters