9 dae gelede
De Grootte maak sy planne aan Jules bekend
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis ’n gejaag teen tyd vir die cop Justice Moloi om nie net vir Jules op te spoor nie, maar ook die sekte-leier Alexander de Grootte aan die pen te laat ry. Moloi is geskok om te hoor dat twee van doktor Tamzin Crule se nagraadse studente biochemiese ghoeroes is wat besluit het om De Grootte te volg. Is hierdie die biological aanval wat hulle almal gevrees het? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

JUSTICE Moloi kan lekker vloek.

Veral in Afrikaans. Baie dink dat hy nie ’n woord Afrikaans kan verstaan nie en hy laat hulle maar hulle kop se goeters glo.

Maar die absolute heilige waarheid is dat hy op die platteland grootgeword het en vlot die ma-se-goeters van die vloek-alfabet ken. Uit sy kop uit.

En hier waar hy nou oopmond sit en luister na doktor Tamzin Crule, hardloop die een na die ander vloekwoord deur sy gedagtes.

Alexander de Grootte is baie gevaarliker as wat hulle gedink het.

Hy skuif ongemaklik op die stoel rond. As h*lknyp ’n persoon was, dan was dit nou hy.

Met daardie twee biochemiese studente onder sy spell, hou De Grootte groter gevaar vir die land in as Eskom en sy konstante kerslig-gedagtes.

“Hierdie studente het nie dalk gesê waar hulle saam met De Grootte gaan werk nie?” vra Moloi hoopvol.

Hy vat nou ’n kans. ’n Vet kans. Maar wie nie hoop nie, leef nie.

Tot Moloi se verligting knik doktor Crule instemmend.

“Weet jy waar Hopefield is?” vra sy aan die cop.

“Wat vir ’n ding is hierdie veld vol hoop?” vra Moloi uit die veld geslaan.

Vir die eerste keer skep doktor Crule die indruk dat sy ook eens op ’n tyd, selfs al was dit lank, lank gelede, moontlik kon gelag het. Die hoeke van haar mond trek-trek so effentjies.

“Ek weet nie waar die hoop vandaan kom nie, want daar is net twee goed wat gereeld in Hopefield gebeur: Niks. En niks.

“Maar kom ek skryf vir jou die adres neer. Nadat Juan en Melanie, my twee nagraadse studente, my vertel het van hulle plan om nie meer hulle studie voort te sit nie, het ek op Google Maps gaan kyk waarheen hulle wil trek om hulle loopbane weg te smyt.

“Het jy dalk ’n pen vir my?”

Vir die eerste keer in ’n lang tyd smile Justice Moloi.

Maar doktor Crule se volgende woorde vee die smile weer van sy gesig af.

“Maar ek weet nie eintlik hoekom julle polisie my aanmekaar kom pla nie.

“Ek het al voorheen met ’n brigadier Mthembu gepraat en ek het presies dieselfde aan hom gesê. Wel, amper presies dieselfde.”

“Wat ... wat het u nie aan hom vertel nie?” vra Moloi en sê vinnig ’n skietgebedjie op.

JULES vee die straaltjie bloed uit die hoek van sy mond af en beur orent.

“Is dit hoe jy jou gaste behandel?” vra hy aan De Grootte en spoeg ’n straaltjie bloed eenkant toe. ’n Paar van sy tande kletter saam met die bloed teen die grond.

“En hier het ek gedink ons kan closer raak as twee Facebook-vriende.”

Alexander de Grootte trek sy oë op skrefies. “Ek het jou gewaarsku dat ek orals connected is,” sis hy. “En my connections sê my dat jy geheel en al nie vertrou kan word nie. Jou taak is om my netwerk te infiltreer en inkriminerende bewyse teen my bymekaar te maak. Is ek sover op die regte pad?”

Jules voel hoe die bloed uit sy gesig dreineer.

“O, jy hoef my nie te antwoord nie,” sê De Grootte vermakerig. “Jou gesig vertel klaar vir my die hele storie. Ongelukkig gaan dinge nie in ’n fairy tale vir jou eindig nie. Nie vir jou óf vir Kia nie.

“Daai dogter van jou kan anyway nie opdragte reg uitvoer nie.

“Haar soort hoort nie in my kringe nie. Ek het aan haar gesê om haar te bewys deur van die hoogste brug af te spring, toe gaan kies sy die laagste ou bruggie.

“Net so ruggraatloos soos haar ou pappa wat nie voluit kon hou met sy geloof nie.

“Dis mos hoe jy is, nè? Lafaard. Verloor net ’n vrou terwyl die see vol visse is, en verloor toe sommer jou vermoë om te glo ook.”

Jules bal sy vuiste en gluur De Grootte aan.

“Jy is van die duiwel af,” sis hy. “Jy is gemors wat tot elke prys gestuit moet word.”

Alexander de Grootte gooi sy kop agteroor en gee ’n lelike lag.

“Gemors, sê jy? Wel, hierdie gemors gaan jou ’n ding wys.

“Vroeg môreoggend gaan ons ’n boodskap die wêreld instuur. Lewe op aarde gaan nooit weer dieselfde wees nie en ’n nuwe lewe begin môre hier in Hopefield.

“Hier gaan hoop weer ’n kans kry om van voor af te begin.”

Daar is ’n vreemde glans in De Grootte se oë wat ’n rilling langs Jules se ruggraat laat afhardloop.

Die man is van sy trollie af, dink hy paniekerig. Al sy varkies het die hok verlaat!

“Jy stel my teleur,” sê De Grootte afgehaal. “Wil jy nie eens weet wat my plan is en wat jou rol daarin is nie?”

Jules skud sy kop. “Nou hoekom sal ek jou fun vir jou wil spoil? Hierdie is mos jou show.

“Weet net dit: Oor die hele menseheugenis heen, het die goeie nog altyd die slegte oorwin.”

De Grootte grinnik. “Dalk was dit omdat die goeie nog nie te doen gekry het met my nie,” antwoord hy heel vol van homself.

“Ons kan heeltyd hier staan en redeneer tot ons blou in die gesig is. Ek kan aanhou my dissipels opdrag gee om die lewende k*k uit jou uit te slaan.

“Maar dit gaan nie jou destiny verander nie. Hoe ironies dat jou lewe en dié van soveel ander môreoggend tot ’n einde gaan kom. Voor ’n kerk van alle plekke.”

Jules voel hoe ’n rilling weer teen ’n stink spoed teen sy ruggraat afhardloop. Kia ... dit lyk nie of hy haar weer gaan sien nie.

“Sien,” gaan De Grootte voort, weer die volste van homself.

“Baie sogenaamde pastore preek al honderde jare dat die koms naby is, maar niemand het al ooit daaraan gedink om die koms te laat gebeur nie.

“Die koninkryk is nie iewers daar bo in die hemelruim nie, dit is in my hande. Mý hande. En my hande is nie tette nie. Ek gaan ’n duidelike boodskap aan die wêreld uitstuur.”

“Hoe nogal?” vra Jules. Maar hy wil ook nie eintlik hoor nie.

“Ek het geweet jy sal nie jou nuuskierigheid kan beteuel nie,” sê De Grootte en vryf ingenome sy hande teen mekaar.

“Death Love 2.0 is ’n uitvindsel van twee van my briljantste dissipels, Juan en Melanie.

“Vroeg môreoggend word Death Love 2.0 aan jou vasgestrap ...”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters