3 maande gelede
David se plan met die skollies werk mooi uit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag volg die derde aflewering van JASMINE UYS se So Soet die Wraak. David verloor sy verloofde, Lynette, in ’n kaping. Hy sweer wraak teen die verkragter-moordenaars en infiltreer hulle bende. Die gangsters betrek hom by ’n nuwe kaping en hy maak ’n plan met slaappille in hulle wyn. Lees nou verder.

HULLE bespreek in detail wat hulle gaan doen.

Eers gaan hulle ’n motor kaap, 2 km met hom ry, hom los, ’n ander motor kaap en dan met hom na die takeaways in Fairways ry en dit rob.

David sal buite wag terwyl die ander vier ingaan. Een sal die safe kry, twee die tille en die vierde sal kyk wat hy by die customers kan kry. David moet die getaway-kar aan die gang hou sodat hulle vinnig kan wegkom.

Hulle sal dan ’n ent met die kar ry, hom los, ’n ander een hijack en huis toe ry en die buit verdeel.

David staan stadig op. “Well, dit wil gedoen wees, nè? Ek sê, wat van ’n dop om ons riches te vier?”

Hy haal twee bottels wyn te voorskyn. “Ek sê, ouens, vanaand drink ons in style. Dié voggies is van die beste wat daar is. Ons is mossie van hier rond nie, nè?!”

Hy kry glase en begin skink. Almal is excited oor die groot slag wat hulle gaan slaan.

Terwyl David hulle aan die gesels hou, skink hy hulle glase elke keer vol terwyl hyself nie drink nie.

Gou-gou raak die bottels leeg en die ouens se oë raak ál dowwer.

Hulle het so lekker gedrink ,hulle het skaars agtergekom David raak skaars aan sy glas. Gou-gou is hulle almal uit soos kerse.

Gelukkig kon hy betyds by hulle uitvind waar hulle die wapens hou.

Hy haal die wapens uit en vervang die ammo met blanks. Toe bel hy die cops met ’n anonieme tip-off oor ’n rooftog by die take-aways in Fairways die next dag. Hy gee die tyd van die rooftog en sê hoeveel manne daar gaan wees.

Toe gaan lê hy doodluiters tussen hulle. Hy wil nie hê hulle moet onraad merk nie.

Buster is die volgende oggend eerste wakker. Hy kom lui orent en kyk versigtig om hom rond. “Jô, ma’ ek’t omtrent geslaap! Watse tyd is dit?”

David kom lui orent. “Jissie, ek’t net so geslaap. Moet daai lekker voggies wees. Dit smaak so lekker, ’n mens kan nie ophou drink nie!”

Hy staan op en rek hom behaaglik uit. Buster skop-skop aan die ander wat vervaard opspring.

“Toe, toe, toe! Opstaan! Dis laat! O’s het werk om te doen!”

Nadat hulle elkeen ’n beker sterk swart koffie gedrink het, maak hulle reg om te vertrek.

“Julle weet mos almal wat julle moet doen, nè? David, jy hou die kar aan die gang. Kom ons waai.”

Hulle loop tot by ’n robot. Toe die lig rooi is, storm hulle nader.

’n Vrou in ’n blou Jetta kyk verskrik op toe sy die gun teen haar kop voel. Hulle ruk haar deur oop en gooi haar hardhandig uit.

Die vyf mans spring in en trek met ’n vaart weg. Die vrou gaan onbeheers aan die gil, maar dis te laat. Hulle is weg met haar kar.

Minder as ’n halfuur later gebeur dieselfde weer. Dié keer hijack hulle ’n wit BMW.

Net daarna stop hulle by die takeaways en gaan in. Dis ’n stil buurt, maar die takeaways is redelik besig.

Skielik breek daar chaos uit. Mense gil verskrik. Hier en daar huil ’n kind.

Buster se stem klink skielik op: “Stil, julle almal! As julle nie wil seerkry nie, maak soos ons sê. En niks funny tricks nie!”

Toe die gangsters by die gebou ingaan, los David die kar eenvoudig daar en loop weg. Oomblikke later loei die polisiesirenes.

Binne panic die gangsters skielik. Hulle storm uit en begin wild op die polisie skiet. Die polisie skiet verbete terug. Die gangsters weet nie hulle skiet nie met regte koeëls nie. Een ná die ander sak die rowers op die grond neer met skok en verbystering in hulle oë.

Die volgende dag lees David in Son: “Rooftog by takeaways gefnuik danksy tip-off. Al vier rowers deur die polisie doodgeskiet.”

Hy glimlag wrang. Die pret begin nou eers. Dis tyd vir stap 2.

TWEE maande later besluit David dis tyd om sy tweede stap in werking te stel. Hy sit vir hom ’n welige bruin pruik met ’n ewe welige snor op. Hy trek ’n verbleikte denim jean aan wat groot gate op die knieë het en ’n swart T-hemp met die woorde “Try Me” daarop.

Toe gaan hy na Vrygrond naby die plek waar hy en Lynette aangeval is. Die huise is klein en opmekaar. Orals speel kaalvoetkinders.

Voor ’n shebeen kom hy tot stilstand en gaan sit op ’n muurtjie. Hy steek ’n sigaret aan, hoewel hy nie rook nie.

Hy sit ook nie lank nie of iemand sluit hom by David aan. “Ek sê, ou pel, jy’s nuut hie’, nè? Ek’t jou noggie hie’ gesien nie!”

David kyk verveeld op, maar antwoord nie.

Die ou stamp liggies aan hom. “Ek sê, wie’s djy?!”

David spring op, ruk ’n rewolwer uit en druk dit teen die ou se kop. “Luister, ou maat, as djy weet wat goed vir djou is, sal djy my uitlos. Ek kom soek net ’n dop en, ja, ek is vreemd hier. Ek’s van Joburg.

“Hou aan lol met my en jy kry ’n koeël deur jou kop. Ek’s hoeka wanted vir murder en nóg ’n murder sallie saak makie. So, watch it!”

Die ou retireer verskrik. “Hei, cool it, ek soekie trouble met die ou nie. Ek’t ma’ net gewonner!

By the way, jy sê jy’s wanted?

“Ja, ons is ’n sindicate wat karre hijack. My baas het my gestuur om die vibes innie Kaap uit te tjek.

“Ons gee die karre wat ons hijack, ander engine numbers en vals number plates. Dan vat ons dit oor die border. Ons het cops op ons payroll. So, dissie ’n problem nie. So, djy bieter dit watch! As djy piemp, is djy vrek! My base likes niks van piempers nie.”

“Hei, cool it! Wie’t gepraat van piemp? Ek try ma’ net om nice te wees met die ou. In fact, ons ouens hijack ook karre, ma’ ons het dit lank laas gedoen. Ons lê die karre usually voor by die stopstrate en robots. Maybe doen ons dit dié Vrydagaand weer!”

Shotted! dink David. So, ek’s op die regte spoor. As dit hulle is wat Lynette vermoor het, sal hulle boet! Daarvoor gaan ek sorg.

Die jong se stem ruk David terug na die werklikheid. “Ek’s James, ma’ noem my sommer Spikes. Nou, vir wat hang ons hie’ buite rond? Kô o’s gaan in dan stel ek jou aan my pelle voor. Maybe kan die ou ons ’n paar tricks wys!”

Hulle loop deur die shebeen na ’n agterplaas, waar ouens in ’n hok sit en tik. Orals lê bierblikke rond. Die vier jongens kyk gesteurd op.

“En toe, wie’s dit dié!? Djy moetie somma enige djong hie’ inbring nie. Djy wiet mos daai, djou idiot!?” skel ’n jong met lang toutjieshare.

“Relax, ou Clint, dié bra is van Jozi. Hy’s wanted vir murder en hijacking!”

Clint lyk min gespin. “Nou, wat soek hy hiesa?”

“Wel, ek’t gescheme ons het lank laas sports gehad. Dis weer tyd vir action, of hoe? En miskien kan dié bra ons ’n paar tips gee!”

“Ja, ma’ hoe weet ons ons kan hom trust?” hou Clint vol.

“Julle sal my ma’ net moet trust – daai’s ál! Moenie eers try om my te piemp nie. My base innie Jozi het orals ore en oë.”

“Relax. O’s wonner ma’ net wat skief geloep het vir djou innie Jozi.”

  • Lees volgende Sondag die slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters