2 maande gelede
David eet hom trommeldik aan verbode vrugte
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n lekker kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit “Die Prys van Owerspel” en dit behoort ’n waarskuwing te wees aan al die manne wat die kat in die donker knyp.

MY NAAM is David Primrose.

Ek het ’n week gelede 37 jaar oud geword.

In my binneste voel ek minstens 13 jaar ouer – en dis glad nie ’n goeie gevoel nie.

My lus vir die lewe is nie meer wat dit was nie en dit sal nooit weer dieselfde wees nie.

Dit was my eensaamste verjaardag ooit.

Hier was niemand om my geluk te wens nie. Niemand – net my getroue regterhand.

Haar droë “Happy birthday!” was beter as niks.

Ek het diep ingedagte voor die venster gesit en gehoop iemand kom maak die dag vir my die moeite werd.

Vergeefs het ek gewag. Daar was nie eens ’n enkele telefoonoproep nie.

Ek moet dit maar aanvaar. My vriende en familie het hulle rug op my gekeer.

Ek kan hulle seker nie verkwalik nie. Ek het hulle almal teleurgestel.

Die vertroue wat hulle in my gehad het, is daarmee heen.

En dis alles my eie skuld.

Selfbejammering gaan my nêrens bring nie. Ek het self ’n lat vir my gat gepluk.

Ek moes eerder van die begin af oop kaarte met Lindoleen gespeel het.

Ek moes vir haar gesê het ek is getroud sodat sy geweet het waar sy met my staan.

Sy sou dan self kon besluit of sy betrokke wou raak.

Hoekom het ek dan net stilgebly? Was ek miskien bang dat sy dalk niks met my te doen sou wou hê nie?

Of was ek net skaam om oor my alkoholis-vrou in die rehabili­tasiesentrum te praat?

Dit is mos nie iets wat ’n man sommer aan enige iemand wil uitblaker nie.

Ek besef nou ek was niks anders as ’n selfsugtige buffel nie.

Of ek myself ooit daarvoor sal vergewe, betwyfel ek.

Lin het beter verdien as om só om die bos gelei te word.

Sy was onder die indruk dat sy die enigste vrou in my lewe is en dat daar vir ons ’n rooskleurige toekoms voorlê.

Die ouderdomsverskil van sowat 10 jaar het haar nie gepla nie. Min het sy geweet ...

Tot vandag is ek spyt ek was nie liewer eerlik met haar nie.

Ek besef dit klink soos ’n cliché, maar baie dae wens ek dit was moontlik om die tyd terug te draai.

Wat ek aan Lin gedoen het, was so bitter, bitter onregverdig.

Ja, ek weet dis geen verskoning nie, maar ’n mooi vrou het ’n manier om met ’n man se kop te smokkel.

Dit kos net een kyk of een glimlag om jou gedagtes op loop te sit.

As jy jou weer kom kry, het dinge so ver gevorder dat jy later nie weet hoe om dit stop te sit nie.

Hoe meer jy oor die tou trap, hoe meer wil jy dit doen.

Vir geen oomblik dink jy aan die gevolge nie.

En dít is presies wat tussen my en Lin gebeur het.

“Dis ’n sonde dat ’n oulike dame so sonder geselskap sit,” was my eerste woorde aan haar daardie aand in die nagklub.

Sy het my eers ernstig aangekyk en toe kort daarna uitgebars van die lag.

“Daai’s die flouste pick-up line wat ek al ooit gehoor het,” het sy my geterg.

Ek het aangebied om vir haar ’n drankie te koop en so het ons aan die gesels geraak.

Reg van die begin af was die seks opwindend.

Elke afspraak met Lin was iets om na uit te sien.

Dit was iets wat ek vir niks in die wêreld wou verruil nie.

Dit was elke keer ’n plesier om vir haar op die buurdorp te gaan kuier.

My weeklikse besoeke aan my vrou het al hoe minder geword.

Vanselfsprekend het ek geweet ek speel met vuur.

Ek was bewus van die moontlikheid dat ek my vingers kon verbrand.

Tog het ek my nie regtig daaraan gesteur nie.

Toe, een Saterdagaand, maak my vrou onverwags haar verskyning in Lin se woonstel.

Dit was somer en die temperatuur was in die middel 30’s.

Ek en Lin het sonder klere aan op die komberse gelê.

Ek weet nie wie van ons die grootste geskrik het nie.

Baie vrae het deur my kop gemaal.

Hoe het my vrou geweet waar ek is? Hoe het sy ingekom?

Ek het dan seker gemaak die deur is gesluit, of was ek so oor­gerus dat ek nie regtig omgegee het nie?

Die grootste vraag was: Waar het sy aan die vuurwapen in haar hand gekom?

Langs my het ek gevoel hoe Lin se lyf begin bewe.

My keel was kurkdroog en ek was te geskok om iets te sê.

My vrou het net daar gestaan, die ene kalmte.

Ek wou opspring en die skietding uit haar hand probeer klap, maar my bene was doodeenvoudig te lam om te beweeg.

Lin het saggies begin huil.

Om só op heter daad betrap te word was die laaste ding wat ek verwag het.

Sonder ’n woord het my vrou die sneller getrek.

Drie, vier koeëls het Lin se liggaam binnegedring.

Die bloed het in my gesig gespat.

Toe rig my vrou die skietding op my.

Ek het twee skote gehoor en ’n brandpyn in my onderlyf gevoel.

Toe het alles swart geraak voor my.

Hoe lank ek bewusteloos was, weet ek nie.

Toe ek bykom, vertel ’n dokter my die skoknuus: Lin is op slag dood en my vrou het selfmoord gepleeg.

Op daardie oomblik – heeltemal te laat – het ek besef ek en Lin moes nooit die kat in die donker geknyp het nie.

Ek was ouer as sy en moes van beter geweet het.

Ek was die een wat haar lewe verwoes het.

Die eensaamheid is seker maar my verdiende loon.

Ek moes nie my vrou verwerp het in haar uur van nood nie.

Sy het my nodig gehad en ek was nie daar vir haar nie.

Ek moes haar bygestaan het in haar poging om die drank te oorwin.

Geen hoeveelheid trane sal haar ooit terugbring nie, al huil ek deesdae soos nooit tevore nie.

Ek bid elke dag dat die Here my moet vergewe.

Ja, ek is natuurlik dankbaar ek lewe, maar ek kon net sowel dood gewees het.

Om elke dag hulpeloos in ’n rolstoel te sit is voorwaar die grootste straf onder die son.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters