5 maande gelede
Daniël sien iets wat so byna sy asem wegslaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Die Tweede Keuse. Lekker lees!

DAAR is ’n klop aan die voordeur.

Toe ek oopmaak, staan twee mans in polisie-uniforms voor my.

Saam met hulle is ’n mooi vrou met ’n bruin leerbaadjie aan.

Daar is kringe onder haar oë. Ek neem aan dis van te min slaap.

“Is jy Daniël Kotze?” vra sy sonder om te groet.

“Ja,” antwoord ek kortaf. “Iets verkeerd?”

Sy frons. “Ek is speurkaptein Lorinda Malan. My kollegas is sersant Van Rooyen en konstabel Brink. Gee jy om as ons inkom?”

“Natuurlik nie. Kom gerus binne. Maak julle tuis.”

Ek bied hulle iets te drinke aan, maar kaptein Malan wys dit vriendelik van die hand.

“Ons gaan nie lank bly nie, Daniël. Jy gee nie om as ek jou op jou voornaam noem nie, nè?”

“Dis in die haak. Ek verkies dit so. Ek is nie juis een vir formaliteite nie. Gaan iemand my nou sê wat die doel van dié besoek is?”

Sy gee ’n vlugtige kyk in haar kollegas se rigting.

“Mevrou Margaret April het ons hierheen gestuur.

“Sy wou jou bel, maar sy is te ontsteld. Arme vrou. Ek kry haar nogal jammer.

“Jy en Gareth, haar seun, was beste vriende, hoor ek.”

“Korreksie, kaptein. Ons is beste vriende. Van kleintyd af. Saam opgeg –”

“Nie meer nie,” val sy my vinnig in die rede. “Gareth April is dood.”

Ek laat sak my kop, kyk grond toe.

Dan draai ek my rug op hulle en tap water in die ketel.

Wat ek nou nodig het, is sterk, swart koffie.

Ek wil nie hê hulle moet my gesig sien nie.

“Wat het gebeur?” Ek herken nie my eie stem nie. Dit klink vreemd. Hees. Bewerig.

“Ek haat dit om sulke nuus oor te dra, maar alles dui daarop dat jou vriend gisteraand sy eie lewe geneem het – ’n oordosis slaappille.

“Die leë houertjie is langs sy bedkassie gevind.”

Ek skud my kop in ontkenning. “Ek kan dit nie glo nie, Kaptein. Nie van Gareth nie.

“Hy was een van die dapperste mense wat ek ooit geken het. En alles verloop dan nou so goed in sy krieketloopbaan.

“Daar was selfs sprake daarvan dat hy later vanjaar vir die Proteas sou speel.”

“Ander mense se boeke bly maar duister, jong.

“Vir sy ma is dit net so moeilik om dit te aanvaar. Sy sit met ’n string onbeantwoorde vrae.

“Gareth het nie ’n briefie agtergelaat waarin hy die redes vir sy optrede verduidelik nie.”

Sy sit haar hand vertroostend op my skouer.

Ek kry die idee iemand na aan haar het ook al sy of haar eie lewe geneem, maar ek vra nie.

“As jy ons sal verskoon, Daniël ... Daar lê nog hope werk voor.

“Ek is die speurder wat die kindermoorde in die omgewing ondersoek.

“Jy het seker in die koerante daarvan gelees.”

Ek knik, wens haar sterkte toe.

Lank nadat hulle weg is, staan ek steeds op die stoep. Ek voel hoe my hande sweet.

Ek klim in my kar en ry na tannie Margaret toe omdat ek glo dit is die regte ding om te doen.

Toe ek daar kom, tref ek haar in ’n toestand aan.

“Weet jy dalk hoekom Gareth dit gedoen het?” vra sy toe die ergste trane bedaar.

“Ek het geen idee nie, Tannie. Vir my is dit ook ’n raaisel.”

“Maar julle was beste vriende. Jy moes iets agtergekom het.”

“Ek is jammer, Tannie. Gareth het geen tekens van depressie of iets van daardie aard getoon nie.”

Sy begin weer huil en ek besluit om haar liewer alleen te los. Sy het tyd nodig om haar seun se dood te verwerk.

Die begrafnis is ’n week later. Daar is baie krieketliefhebbers en van Gareth se vriende uit ons studentedae.

Almal lyk verslae. Dis duidelik niemand het so iets van hom verwag nie.

“Hoekom huil jy nie?” vra Emma langs my in die kerk. “As ’n mens se beste vriend dood is, mag jy maar huil.”

Ek gee my 14-jarige sussie ’n stywe drukkie.

“Almal treur op verskillende maniere, Emma.

“Sommige mense huil binnetoe. Ek dink die trane sal nog kom.”

Die trane kom toe wel twee aande later.

Ek lê op my rug en staar na die plafon. Ek probeer verstaan hoekom die lewe so onregverdig is.

’n Leeftyd lank dink ’n mens jy ken iemand, totdat jy op ’n dag wreed ontnugter word.

Ek dink aan kaptein Malan se woorde: “Ek is die speurder wat die kindermoorde in die omgewing ondersoek. Jy het seker in die koerante daarvan gelees.”

’n Week voor Gareth se dood was daar weer ’n berig in die koerant onder die opskrif “Nog ’n kind vermoor”.

Dit het my so ontstel dat ek Gareth onmiddellik gebel het.

“Het jy gesien – die kindermoordenaar het weer toegeslaan?”

“Ek het gesien, ja. Dis verskriklik.”

Die volgende middag het Gareth by my kom inloer.

Minute later het Emma in haar netbalklere by die deur ingestap.

Toe merk ek iets op wat byna my asem wegslaan ... Die manier waarop Gareth na Emma staar. Die wellus in sy oë.

Op daardie oomblik het ek besef die kindermoordenaar is baie nader aan my as wat ek ooit gedink het.

Met ’n vuurwapen wat ek op onwettige wyse bekom het, is ek daardie Saterdagaand na Gareth toe om hom te konfronteer. Sy ma was by ’n vriendin se 60ste verjaardag.

Tot my verbasing kom Gareth met die hele sak patats vorendag.

Hy vertel in detail van al die slagoffers op sy kerfstok, onwetend dat ek die gesprek op my selfoon opneem. Hy smeek my om niemand daarvan te vertel nie.

“Ek wil nie tronk toe gaan nie, Daniël. Ek belowe jou ek sal nooit weer so iets doen nie. Jy moet my glo.”

Met my vinger op die sneller gluur ek hom aan.

“Jy het een van twee keuses, Gareth. Die eerste een is ’n koeël deur jou kop. Dan gaan dump ek jou lyk waar niemand jou ooit sal vind nie.”

Sy oë rek.

“Wat is die tweede keuse?” wou hy angstig weet.

“Slaappille. Jy sluk ’n klomp daarvan en gaan lê op jou bed. Ek sou sê dis genadiger as ’n kopskoot, of hoe? Dis jou besluit.”

Met handskoene aan het ek die houertjie aan hom oorhandig.

Ek wou nie hê die polisie moes agterna my vingerafdrukke daarop kry nie ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters