14 dae gelede
Daar’s geen peace toe Die Groot Vyf in Bontas aankom
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die peace word behoorlik disturb by die minister van polisie se vredesonderhandelings met die gangsters. Die Groot Vyf maak hulle uit die voete sonder om die cops se aandag te trek. Genl. Tokwe Takana is woedend en dreig dat daar koppe gaan waai oor die fiasko. Geniet hoofstuk 7 van “Die Groot Vyf is Terug” van SALMON SMITH.

PANDEMONIUM breek los voor die Bonteheuwel-gemeenskapsaal toe die drie groot bendeleiers grond toe gevel word deur drie swaarkaliber-koeëls uit die skerpskutter­geweer van Samuel Geduldt.

Gille van skok weergalm deur Bonteheuwel se strate terwyl die skare mekaar vertrap om weg te kom van die gru-tonele van bloed, stukkies kopbeen en harsings.

Die televisie crew wat nog oomblikke tevore die gebeure verfilm het, word in die stampede onderstebo gehardloop.

Jy sien net verslaggewers, kameras en mikrofone spat.

Intussen val nog drie skurke leweloos grond toe. Eers twee van Boeta Blou se bodyguards en toe een van Arthur Bentley se holborsels toe Samuel van ’n baie veilige afstand af koeëls deur elkeen se verrotte brein stuur.

Die polisiebeamptes hardloop rond om al die hooggeplaaste amptenare in die gemeenskapsaal na veiligheid te bring.

Die ander twee larney voertuie, met nog high-fliers in aantog, stop viervoet in hulle spore toe die insittendes bewus word van die gebeure by die saal.

Daar ver op die dak van ’n gebou in Jakkalsvlei-laan lê Samuel Geduldt en korrel deur die sterk teleskoop van sy geweer. Hy rig die loop op die bestuurder van die voorste voertuig.

Sonder om te aarsel, trek hy die sneller. Die koeël ploeg met ’n massiewe spoed deur die bestuurder se kop en dan voort deur die gangster-dikding wat direk agter hom sit – twee misdaadvlieë met een skoot se klap.

Bloed en harsings shower die ander insittendes in die voertuig. Hulle mol haastig by die deure uit en hardloop vir hulle lewe.

“Oe, hel, dis oorlog!” “Dis ’n terroriste-aanval!” klink die vreesbevange gille vanuit die malende skare nog harder op.

Mense hardloop in anderman se jaart in om weg te kom van die koeëls wat nou die hele wêreld vol vlieg.

Tussen die malende massa staan Brian September, die leier van Die Groot Vyf, en hy sien hoe die polisie rondkyk na die dakke van die omliggende geboue om te sien van waar geskiet word.

Hy beduie aan Clint, Henry en Johnny dat dit tyd is om die rookbomme te gooi.

Ongemerk laat val Clint een van die bomme.

Onmiddellik verswelg ’n dik rookwolk die gebied. Met hulle drie nou verskans in die rook gooi hulle nog twee rookbomme in die rigting van die gemeenskapsaal en nóg drie die strate in.

Binne sekondes is die hele area rondom die saal in ’n massiewe rookwolk gehul.

Op die gebou se dak besef Samuel dit is nou tyd om te waai. Met groot spoed vou hy sy geweer op en pak dit terug in sy sak.

Hy tel vinnig al die leë patroondoppies op en gooi dit in sy broeksak.

Dan mol hy vir die brandtrap wat agter teen die gebou afgaan.

Hulle voertuig staan onder in Jakkalsvlei-laan agter ’n verlate murasie weggesteek.

Hy hardloop tot daar, spring agter die stuur in en skakel die voertuig aan.

Brian en sy ander drie manskappe hardloop saam met die skare van die saal af weg.

Hulle bars deur die rookwolk wat alles rondom hulle verswelg en sien hulle voertuig op die afgespreekte plek.

Toe almal aan boord is, ry Samuel stadig weg in die rigting van Valhalla Drive om nie aandag te trek nie.

Die polisie en lede van Operasie Stoppit hardloop soos afkophoenders rond op soek na diegene wat die rookbomme gegooi het.

Hulle besef Die Groot Vyf was hier reg onder hulle neuse besig om dié gemors te veroorsaak. Ook besef hulle dat die rookbomme deel van hulle fyn uitgewerkte plan was om weg te kom.

Oral hardloop gillende mense in die strate af om so ver as moontlik weg te kom van die “terroriste- aanval”.

Die vet en stadige potjierolle word sommer onderstebo gehardloop in die proses.

Ouers soek histeries na hulle kinders.

Intussen swenk Samuel stadig regs in Valhalla Drive in.

Tóé sit hy voet in die hoek in die rigting van Epping Industria.

DIT is ’n woedende genl. Tokwe Takana wat later die middag op die misdaadtoneel aankom.

Hy rol met sy vet lyf uit sy ampsmotor en waggel tussen die menigte polisiebeamptes deur.

Brig. Bernard Sarels, hoof van Operasie Stoppit, is in bevel van die toneel en kom sy provinsiale hoof tegemoet geloop.

Hy groet Takana met die hand. “Middag, Generaal ... Dinge lyk maar lelik hier!”

“Middag, Brigadier, kom ons gaan na die operasiesentrum, dan verduidelik jy vir my wat vandag hier gebeur het!” kom dit kort en kragtig van Takana.

Sarels neem die generaal na die polisie se mobiele eenheid wat eenkant geparkeer staan. Dit dien tydelik as operasiesentrum.

“Generaal, ons vermoed dat Die Groot Vyf hiervoor verantwoordelik is, want daar het ag galgtoutjies voor die hekke van die gemeenskapsaal gelê,” sluit Sarels sy relaas af nadat hy die hele gebeure van die begin tot die einde aan genl. Takana verduidelik het.

Takana se gesig is soos ’n stuk graniet.

Hy gluur Sarels aan.

“Kon julle sover enige verdagtes identifiseer?” vra hy. Sy stem is ysig.

Sarels kyk vlugtig na die speurder wat intens na ’n groot televisieskerm staar.

“AO Mdingi is tans besig om die video footage van die CCTV- kameras rondom die saal te bestudeer om te kyk of ons enige verdagte mense tussen die skare kan spot,” antwoord hy.

Skielik beveel genl. Takana almal behalwe brig. Sarels om gou die vertrek te verlaat.

Toe almal vinnig na buite verkas, draai hy na Sarels.

Sy oë is nou soos twee donker, yskoue poele.

“Hoekom is ek nie vooraf ingelig oor die idiotiese idee van mnr. Dale Hermanus nie?

“Om met dwelmhandelaars en gangsters te onderhandel is totaal onverantwoordelik!

“En vir jou om sonder my goedkeuring Operasie Stoppit hierby te betrek is totaal onverantwoordelik!” bars hy woedend uit.

“Wat vandag hier gebeur het, is alles die skuld van ’n impulsiewe idioot!

Nou waai die spoeg behoorlik.

“Koppe gaan nou rol!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters