21 dae gelede
Cops sit geskok na Die Groot Vyf se video en kyk
Oom Sonnie  ~ File foto

HAAI, Sonlanders! “Die Groot Vyf Is Terug” is SALMON SMITH se nuwe instalment in sy “Groot Vyf”-reeks. Geniet die eerste hoofstuk!

JOHNNY se mond val oop van verbasing. Hy staar Brian grootoog aan. “Askies? Wat het jy nou daar gesê?” vra hy.

Daar is ysigheid in Brian se stem. “Ek sê dis nou tyd vir ’n perskonferensie. Dis tyd dat Die Groot Vyf hulle kant aan die wêreld daar buite stel!”

Johnny se mond hap oop en toe soos hy na sy woorde soek. “M-maar dis m-mos pure malligheid, boeta B!

“Ons is die mees gesoekte vigilante-groepie hier in Suid-Afrika. Dalk nog ter wêreld.

“Nou wil jy ons expose deur ’n perskonferensie!”

Brian hou sy hand in die lug.

“Bedaar, boeta J. Moenie jou stem so verhef nie, want die sinkhokke is dun. Die mense daar buite kan ons hoor!”

Hy leun oor na Johnny. Sy gesig is nou doodernstig.

“Wat ek bedoel het, is ons gaan ’n video recording maak waarin Die Groot Vyf verantwoordelikheid aanvaar vir die aanvalle op die gangsters op die Kaapse Vlakte.

“Ons gaan ons kant stel en dan gaan ons die clip op alle sosiale netwerke post, vir almal om te sien.”

Johnny lyk nog ’n bietjie onseker oor die idee.

“Is dit nie ’n bietjie risky nie?”

“Nie as ons gaan maak soos ek die ding beplan het nie,” gaan Brian voort.

“Luister nou baie mooi …”

’n Dag later sit lede van Operasie Stoppit, die spesiale taakspan wat die aanvalle op gangsters onder­soek­, druk in gesprek in die groot konferensiekamer in die polisie se provinsiale beheersentrum in die Kaapse middestad.

Hulle is lede wat gekies is uit verskillende eenhede soos misdaadintelligensie, die speurtak, K9 en die anti-gang unit.

Die bevelvoerder, brig. Bernard Sarels, is aan die woord. Hy lyk nie net ’n bietjie bekommerd nie.

“Manne, dis nou al drie weke sedert ons taakspan op die been gebring is deur genl. Takana en ons het nog nie één enkele leidraad oor die aanvalle ingewin nie!”

Hy kyk vlugtig na die tabel op die elektroniese noteboard agter hom.

“Vandat die aanvalle so ’n maand terug begin het, is omtrent 8 bendebase, 58 bendelede en 5 gewone misdadigers vermoor.

“Al wat ons in dié stadium kan aflei uit verklarings van ’n paar ooggetuies is dat dit vyf mans is wat almal gemasker is met balaklawas.

“Eers het hulle ’n swart kombi gery, maar nou het die kleur verander na rooi.

“Maar ons het nog geen inligting oor hoekom hulle spesifiek gangsters teiken en wat hulle daardeur wil bereik nie.

“Maar al wat ek vir julle kan sê, is die generaal blaas warm in my nek, want hy soek resultate van ons.

“Julle weet natuurlik dat die aanvalle anargie hier in die Wes-Kaap kan veroorsaak as ons …”

“Brigadier! … ’m ... ek dink Brigadier moet dít sien!” onderbreek ’n stem Sarels skielik.

Almal kyk gesteurd na ’n jong kaptein wat sy selfoon omhoog hou.

Sarels wil net die kaptein uittrap oor dié durf op sy selfoon speel terwyl hulle hier besig is met ’n dringende vergadering. Hy besluit egter daarteen.

“Ja, wat is dit, kaptein Samuels?” Daar is ergernis in sy stem.

Samuels loop vorentoe en wys na sy selfoon.

“Ek het so pas dié video clip van my informant op WhatsApp gekry.”

Hy oorhandig die foon aan Sarels, wat nou met ’n ernstige uitdrukking op sy gesig na die video kyk.

Ewe skielik uiter hy ’n vloekwoord en ’n geskokte uitdrukking verskyn op sy gesig.

Hy kyk vlugtig na sy manne, wat hom in gespanne afwagting aanstaar.

Toe draai hy sy gesig na die elektroniese bord.

“Weet iemand hoe om dié selfoon met die bord te connect? Hier is iets wat ons almal beslis móét sien!”

Hy haal sy bril vinnig van sy oë af toe dit lyk asof dit wil toewasem.

Vinnig spring daar ’n ek-weet-alles-mannetjie hier in die voorste gestoeltes op en doen vinnig die nodige met die laptop voor op die tafel.

Kort voor lank verskyn daar ’n vergrote skerm van die selfoon op die elektroniese bord.

Mr Ek-Weet-Alles click op die spesifieke video en haas hom vinnig terug na sy sitplek.

Almal se oë is nou op die bord vasgenael.

Aan die begin van die video clip kan vyf mans gesien word waar hulle voor ’n groot skerm met die skyline van New York City daarop sit.

Almal is aangetrek in swart oorpakke, met swart handskoene aan en swart klapmusse oor hulle gesigte.

Een van die persone, wat lyk asof hy die leier kan wees, sit nader aan die kamera met die ander vier so skuins agter hom.

“Aandag, president Albert Sithole en jou nuttelose regering!

“Aandag, alle Suid-Afrikaners en veral inwoners hier op die Kaapse Vlakte!” kraak die leier se digitaal gemanipuleerde stem uit die speaker.

“Julle aanskou nou die groep wat verantwoordelik is vir die vele aanvalle op die gangsters en misdadigers­ hier op die Kaapse Vlakte.

“Ons naam is die ‘Die Groot Vyf’.”

Die lede van Operasie Stoppit wissel vinnig geskokte blikke met mekaar.

“ ’n Maand gelede het ons Die Groot Vyf op die been gebring.

“Ons het dit gedoen oor julle, die regering, die geveg teen misdaad verloor het,” gaan Brian September voort.

“Julle bedryf ’n verswakte regstelsel wat meer omgee vir die misdadigers, dwelmhandelaars en die gangsters as vir die wetsgehoorsame burgers.

“Julle het geen benul hoe om ’n land te regeer nie!

“Ons gemeenskappe gaan gebuk onder die toenemende geweld, bendebedrywighede en families word uitmekaar geskeur deur dwelms.

“En wat doen julle daaraan?! Julle stig eerder verskillende polisie-eenhede met onbevoegde bevelvoerders!

“Julle plaas dan julle vrinne in poste waarvan hulle geen benul het nie.

“Julle maak van die smart en pyn van arm gemeenskappe ’n politieke speelbal!

“Maar ons het nou genoeg gehad van julle laakbare houding!

“Dit is hoekom ons, Die Groot Vyf, besluit het om reg in eie hande te neem en die misdadigers, gangsters en dwelmgemorste uit te roei uit ons gemeenskappe!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters