27 dae gelede
Cloretta wil weet presies waar sy met haar ou staan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag hoofstuk 1 van CHRISTO MEYER se verhaal Die Surprise.

ETENSTYD skakel sy Jackson se nommer. In afwagting hou sy haar selfoon teen haar oor.

Die hele naweek was hy onbereikbaar, soos iemand wat nie gepla wil wees nie.

Sy het hom hoeveel maal probeer bel, maar elke keer het sy haar teen voicemail vasgeloop. Dit was uiters frustrerend.

Tot haar verligting lui sy selfoon. Dit neem byna ’n minuut voordat hy ietwat geïrriteerd “hallo” antwoord.

“Ek wil jou sien,” sê Cloretta in ’n besliste stemtoon.

Sy het lank gedink en besluit sy gaan nie meer ’n skoothondjie wees nie. Sy is lief vir Jackson, maar hy het baie verander en hy kom kuier nie meer so gereeld soos aan die begin nie.

Is dit maar die gewoonte van mans as hulle gekry het wat hulle wou hê?

“’m... Ekke... ’m,” struikel Jackson oor sy woorde.

“Geen verskonings nie, Jackson. Ek het baie vrae op my hart en jy hou my aan ’n lyntjie.”

“Dis nie waar nie, Liefie... ”

“Liefie se gat,” sê sy vererg.

Sy kyk rond of iemand haar gehoor het, maar almal is doenig met hulle middagete.

“Moenie dink jy kan my kom smooth talk nie,” gaan sy voort.

“Ek wil weet waar ek met jou staan.

“Die hele naweek het ek niks van jou gehoor nie.”

“Maar, Liefie, jy weet dan met die load shedding bly my selfoon se battery pap. En die ander ding–”

“Wil jy my sien of nie?” onderbreek sy hom.

“Natuurlik wil ek jou sien. Sê net wanneer en ek is daar.”

“Vanaand.”

“Vanaand? Dis dan Maandagaand.”

“Hoor hier, Jackson, moenie maak asof ek nie weet watter dag van die week dit is nie. Sorg dat jy my vanaand eight o’clock by die gemeenskapsaal kom haal.”

“Die gemeenskapsaal?”

Cloretta kan die verbasing in Jackson se stem hoor.

“Wat gaan jy daar maak?”

“Jy vra te veel vrae. Ek het nie baie airtime nie. Sorg jy net dat jy nie laat is nie.”

Sy beëindig die oproep sonder om tot siens te sê. Jackson kan maar dink sy is onbeskof.

Sy gee nie om nie. Hy moet haar vanaand reguit sê of hy nog kans sien vir hulle verhouding, want sy is nie meer so seker of sy by iemand wil wees wat haar gedurig afskeep nie.

As daar ’n ander meisie in sy lewe is, moet hy eerlik wees. Sy is niemand se speelding nie.

Toe Cloretta haar werkplek ure later verlaat, waai die wind onplesierig.

Dit pluk aan haar hare soos ’n spelerige kleuter, klap haar deur die gesig soos ’n jaloerse, besitlike minnaar.

Kort-kort probeer dit haar van balans af stoot. Sy keer woes met haar hande dat haar skirt oor haar kop gewaai word.

“Dis ’n mannetjieswind, hierdie,” het haar pa altyd gesê as die wind so onmanierlik was.

“Hy is weer daarop uit om die vroulike geslag te teister. As jy nie wakker is vir hom nie, gaan hy jou in die verleentheid stel.”

Cloretta mis hom. Hy was die wonderlikste pa waarvoor enige kind kon vra. Lief vir gesels en grappe maak. Streng, maar nooit onredelik nie.

Hy het sy drie kinders oor dieselfde kam geskeer. Niemand is ooit voorgetrek nie.

Haar pa is net skielik van hulle af weggevat.

Daar was nie eens kans om vaarwel te sê nie.

Die een aand het hy rustig bed toe gegaan, die volgende oggend het hy nie wakker geword nie.

Hy is in sy slaap dood. Sy kon dit nie verstaan nie. Al was hy al in die 50, was hy nog blakend gesond.

Cloretta bibber en onmiddellik is sy vies vir haarself. Haar ma het haar vanoggend gewaarsku om warm aan te trek, maar daarvan wou sy niks hoor nie.

“Dis herfs, Ma, nie winter nie. Dis nog nie so koud nie.”

Sy het haar lelik misgis met die weer.

Sy moes na haar ma geluister het, maar soos al die vorige kere is spyt weer te laat.

Gelukkig vir haar is dit net tien minute se stap tot by die gemeenskapsaal.

Cloretta se oë dwaal oor die groot groep mense. Tot haar verbasing is die saal van hoek tot kant stampvol.

Oud en jonk het in groot getalle opgedaag om na politieke figure te kom luister wat hulle gewoonlik net in koerante en op televisie sien.

Dat mense hulle kosbare tyd wat hulle met geliefdes kon deurbring, opoffer om hier te kom sit, gaan haar verstand te bowe.

Op byeenkomste soos hierdie word tog net ’n klomp snert gepraat. Niemand raak iets kwyt wat werklik sin maak nie.

Dis die een leë belofte op die ander.

Miskien is sy net pessimisties, maar sy het geen vertroue in politieke leiers nie.

Na alle waarskynlikheid kom die mense vir oulaas seker maak dat hulle nie weer dieselfde fout van vorige jare begaan nie.

Dis algemeen bekend dat almal keelvol is vir al die stories oor staatskaping en korrupsie in die regerende party.

Miskien voel die mense dit het tyd geword om hulle steun nou aan ’n nuwe party te gee.

’n Party wat die daad by die woord sal voeg.

Sy kyk of sy Jackson dalk iewers gewaar.

Sy het doelbewus nie vir hom gesê waaroor vanaand se byeenkoms gaan nie om sy nuuskierigheid te prikkel.

Hy is nêrens te sien nie. Dalk kom hy nog.

As hy haar darem vanáánd in die steek laat, sweer sy sy gaan hom nie maklik vergewe nie.

Die pad huis toe is lank. Hy kan nie verwag sy moet loop nie.

Cloretta hoor vaagweg iemand praat, maar sy steur haar nie regtig aan die spreker daar voor op die verhoog nie.

Haar Maandag was donkerblou en sy wil net by die huis kom, haar sweet gaan afwas en in die bed klim.

Môre gaan ook ’n lang dag wees, want hulle gaan met voorbereiding vir die jaarlikse voorraadopname begin. Dis beslis nie iets waarna sy uitsien nie.

Meneer Beergaardt gaan hulle seker weer met valkoë dophou om seker te maak niemand steek lyf weg nie.

Sy wens baie dae haar ouers was skatryk sodat dit nie nodig was om vir ’n baas te werk nie.

Maar, nou ja, in ’n dorpie soos hulle s’n is die werkloosheidsyfer skokkend hoog.

Sy moet seker dankbaar wees sy verdien ’n inkomste.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters