26 dae gelede
Cloretta weet nie van die oë wat haar dophou nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag hoofstuk 2 van CHRISTO MEYER se verhaal Die Surprise.

CLORETTA geniet haar werk, maar om ’n kassier in ’n supermark te wees is beslis nie net sonskyn en angeliere nie.

Veral nie as jy daagliks met ongemanierde klante te doen kry nie.

Klante wat dink die son skyn uit hulle dinges.

Klante wat met alles en almal fout vind.

Soms voel sy lus om op hulle te gil of te vloek, maar dan onthou sy weer die goue reël: Die customer is altyd reg.

Cloretta glo steeds die persoon wat daardie reël uitgedink het, het niks beters gehad om te doen nie.

Hoe kan enige iemand áltyd reg wees?

Maar die customers dink regtig hulle is altyd reg.

Verlede week het ’n vrou hier ingebars met ’n sakkie melk wat glo suur was.

Sy het aangedring om die grootbaas te sien.

Toe die grootbaas vra om haar bewys van aankope te sien, het die vrou ’n opgefrommelde papiertjie uit haar handsak gehaal.

By nader ondersoek is bevind die melk is nie by hulle winkel gekoop nie, maar by die garage verder af in die pad.

Die vrou het die winkel met ’n skaam gesig verlaat – sonder om verskoning te vra.

Cloretta was lank laas in haar lewe so verveeld.

Sy is nou eers spyt sy het toegelaat dat Charnelle haar kop ompraat.

Sy wou nie nee sê nie en om die vrede te bewaar, het sy maar ingestem.

Haar ouer suster is ’n goeie mens, maar kan soms so dramaties raak as sy nie haar sin kry nie.

“Gaan luister net wat die mense sê, Sus,” het Charnelle gesoebat.

“As ek nie nagskof gewerk het nie, sou ek beslis self daar gewees het.

“Miskien praat hulle oor behuising ook.

“Ons name is mos al lank op die waglys.”

Haar suster is ’n security guard met baie moed vir die toekoms.

Sy glo vas die winde van verandering gaan binnekort waai en hulle omstandighede gaan verbeter.

Maar sy wat Cloretta is, het nie veel hoop nie.

Politieke geselsies is nie vir haar nie.

Voor elke verkiesing is dit dieselfde storie.

Politieke leiers probeer kiesers met kospakkies beïnvloed om stemme te werf.

Sodra die stemmery agter die rug is, bly alles dieselfde. Niks kom van die beloftes nie.

Sy het wel moeite gedoen om vir die verkiesing te registreer, maar sy weet nie langs watter party sy op 8 Mei haar kruisie gaan trek en of sy net van die stembus gaan wegbly nie.

Sy kon net lag toe sy nou die dag hoor die president het drie uur lank in ’n trein vasgesit.

Hy het glo agterna in die sosiale media gesê koppe gaan waai, want dis onaanvaarbaar dat mense laat by hulle werkplek opdaag.

Heuning om die bek, dís wat dit is.

Sy wag dan nou nog om te hoor wie verantwoordelikheid gaan aanvaar vir die slagting in Marikana.

Nee wat, sy wat Cloretta Pynappel is, laat haar nie so maklik om die bos lei nie.

’n Oorgewig vrou met ’n dikraambril is laaste aan die woord.

Sy praat van planne om misdaad hok te slaan, werk te skep en nuwe huise te bou.

Cloretta voel sommer naar, asof sy stik aan die vrou se woorde.

Bring die nuwe party dan niks nuuts na die tafel nie?

Alles wat sy hier hoor, is goed wat daagliks in koerante geskryf word. Sy het eintlik net haar tyd kom mors.

As sy dít geweet het, het sy ná werk liewer reguit huis toe gegaan.

Toe die byeenkoms uiteindelik tot ’n einde kom, sug Cloretta verlig.

Die een ná die ander verlaat die besoekers die gemeenskapsaal.

Cloretta loop na buite en gaan staan in die parkeergebied.

Jackson se Polo is nêrens te sien nie. Sy kyk na haar horlosie. Dis 20:30.

Bekommerd kyk sy in die straat af. Waar draai Jackson? Hy sou ’n halfuur gelede al hier gewees het.

Sy hoop nie hy het van haar vergeet nie.

Sy haal haar selfoon uit en skakel sy nommer.

Dit lui, maar daar is geen antwoord nie.

Sy druk die oproep dood en probeer weer. Steeds geen antwoord nie.

Dit raak stil in die parkeergebied.

Kort voor lank staan Cloretta alleen daar.

Dit kook diep in haar binneste.

Hoekom daag Jackson nie op nie? Steek hy iets vir haar weg? Die bliksem!

Hy maak hom laat as hy dink sy gaan net so van vanaand se teleurstelling vergeet.

Sy besluit om nie langer vir Jackson te wag nie.

Môre is ’n groot dag en sy wil nie te laat in die bed kom nie.

Onbewus van die oë wat haar op ’n afstand beloer, begin sy loop.

Sy het geen ander keuse nie.

Sy is ontsteld en wil net by die huis kom.

Jackson het al weer ’n fool van haar gemaak.

Sy weet nie hoe lank sy dit nog met hom gaan uithou nie.

Hy moes ’n politikus geword het, want hy maak ook elke keer beloftes wat hy nie nakom nie.

Sy het regtig staatgemaak op hom.

Meteens onthou sy haar oorlede pa se woorde.

Sy was in matriek en hy het een middag uit die bloute vir haar gesê: “Kom sit, ek wil vandag met jou oor die liefde praat.”

Sy was uit die veld geslaan en het nie die moed gehad om vir haar pa te sê sy het nog nie ’n kêrel nie.

Sy weet nie waarom sy nou skielik daaraan dink nie. Is dit dalk ’n waarskuwing?

Haar pa het in haar gesig gekyk toe hy sê: “As jy ooit twyfel oor iemand se liefde vir jou, my kind, moet jy weet daar is ’n slang in die gras.

“Moenie jou tyd mors met so iemand nie.

“Dis altyd maar beter om om te draai en weg te stap terwyl jy nog kan.

“Om vas te klou aan iets hopeloos gaan jou vorentoe net pyn veroorsaak.

“Jy is spesiaal. Ek wil nie hê jy moet seerkry nie.”

Miskien is dit beter as sy hulle verhouding verbreek.

Iemand anders sal haar dalk met meer respek behandel.

Dan, meteens, hoor Cloretta ’n geluid. Sy word yskoud.

Onmiddellik is haar gedagtes by die boosdoener wat die laaste ruk in die nuus was. Die boosdoener wat jong vroue ontvoer en om die lewe bring.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters