19 dae gelede
Charl se soete herinneringe trek blitsig asynsuur
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se nuwe verhaal, “As Jy met Vuur Speel”. Geniet die tweede hoofstuk!

‘HALLO, my liefie.”

Charl skrik so groot hy laat amper die selfoon uit sy hand val.

Die laaste ding wat hy verwag het, is om weer daardie verleidelike stem van gisteraand te hoor.

Hy het gedink hy kan aangaan met sy lewe sonder om hom verder oor haar te kwel – dat hy die fout wat hy begaan het, agter hom kan skuif.

Duidelik het hy hom lelik misgis.

’n Angstige benoudheid kom sit op sy bors.

Hy trek sy asem skerp in. Waar kom die vrou aan sy nommer? Hy het dit beslis nie vir haar gegee nie.

Of het hy? Hy sou tog onthou het. Aan die ander kant, as hy dit nie vir haar gegee het nie, waar kry sy dit? Hy skud sy kop.

Dink, Charl, dink. Jy was mos nie so besope nie. Van wanneer af laat jou geheue jou so in die steek?

“Het jy jou tong ingesluk?” wil sy weet.

“Jy was dan gisteraand so talka­tive.”

Is dit nodig dat sy hom aan gisteraand herinner? Hy voel klaar soos die grootste idioot.

As dit net moontlik was om die horlosie terug te draai.

“Vergeet nou van gisteraand. Waar het jy my nommer gekry?”

“By jou natuurlik. Waar anders dan? Jy het nog gesê ek kan enige tyd bel.”

Dít lieg sy. Met watter speletjie is sy besig?

Wat soek sy van hom? Heeldag het hy niks van haar gehoor nie (nie dat hy regtig wou nie) en nou, terwyl hy voor die televisie sit en ontspan, kontak sy hom uit die bloute.

Is sy van haar sinne beroof? Wat as sy vrou nou hier was?

Hy sou omtrent moes bontstaan. En dan noem sy hom boonop haar liefie.

Sy sal haar wat verbeel.

“Ek het nie tyd vir grappe nie, vroumens. Wat wil jy hê?”

“Vroumens? Gisteraand was ek Blommie voor en Blommie agter.

Nee, man, Charl, ek is teleurgesteld in jou.Wat gaan nou aan met jou?”

“Ek wil niks van gisteraand hoor nie. Niks. Dis iets van die verlede.”

Hy wil die foon in haar oor dooddruk, maar dis asof iets hom verhoed om dit te doen.

“Jy maak verniet asof gisteraand nie gebeur het nie. Ons het dan ’n seksvideo gemaak.”

’n Wat? Nee! Dit kan nie wees nie. Hy glo haar nie. Maar as dit waar is, hoekom kan hy niks daarvan onthou nie?

Hy was tog by sy volle positiewe. Of hoe?

“Jy lieg,” vererg hy hom. “Ek sou nooit tot so iets ingestem het nie. Jy vat ’n vet kans.”

“Moenie so lelik wees met my nie, Charl.

“Jy maak asof ek iets verkeerd gedoen het. Ek het jou mos nie gedwing om saam met my na my flat te gaan nie.

“Jy het dit uit vrye wil gedoen.”

“Hou net op, asseblief, hou net op.”

“Have it your way, Charl. Onthou net, ek haat dit as mense my ’n leuenaar noem, veral as ek bewyse het.

“Hou jou selfoon dop. Jy kry die video nog deur die loop van die aand.”

Sonder ’n verdere woord beëindig sy die oproep.

Paniek gryp Charl aan die keel. Hy spring op en hardloop badkamer toe om ’n skielike koue sweet van sy voorkop af te spoel.

Hy weet nie wat om te glo nie. Wat is feite en wat is versinsels? Hoekom onthou hy niks?

Hy hoop nie gisteraand was ’n aand wat hy vir die res van sy lewe gaan berou nie.

Dit sal sy huwelik vernietig. Sy vrou sal toesig oor die tweeling kry en hy sal niks aan die saak kan doen nie. Genade, hy kan hom nie ’n lewe sonder sy kinders indink nie.

Hy droog sy gesig af en kyk in die spieël.

Het hy rede om bekommerd te wees? Hopelik nie.

Dalk trek die vrou net sy been. Of dalk probeer sy hom ’n les leer wat hy nie maklik sal vergeet nie.

Hy bel vir Katie om te hoor hoe dit met haar en die seuns gaan.

“Kuier julle nog lekker?” vra hy.

“Ja, die seuns kan nie genoeg van Johannesburg se buitelug kry nie. En hulle draai omtrent hulle ouma om hulle pinkies.”

“Jou ma moenie die kinders so bederf nie.

“Wanneer julle terug is, moet ek met hulle sukkel.”

“Ag wat, moet dit nie erger maak as wat dit is nie.

“Die kinders is 12, nie 2 jaar oud nie. Kom jy darem reg so op jou eie?”

Hy lag. “Jy laat dit klink asof ek ’n keuse het, nè. Ek cope, maar die huis is stil.”

“Ons is binnekort terug. Lief vir jou.”

“En ek vir jou. Stuur groete vir die seuns.”

Charl is al in die bed toe sy selfoon ’n biepgeluid maak.

Hy is amper te bang om na die skerm te kyk. Moet hy dit nie liewer ignoreer nie?

Hy snak na sy asem toe hy homself in ’n vulgêre video herken.

Hy en Blommie is albei poedelnaak, albei soos akteurs in ’n pornografiese fliek.

Die toneel is so stomend dat hy liewer nie verder wil kyk nie.

Hy bewe. Wat gaan hy maak as dié video aanlyn versprei word?

Aan die skokkende reaksies wil hy nie eens dink nie. Wat staan hom te doen?

Hy vergelyk die nommer waarvan die video gestuur is met die een waarvan Blommie hom gebel het en besef die twee verskil.

’n Rilling gaan deur hom.

Wat het regtig gisteraand in Blommie se woonstel gebeur?

Is hy dalk bedwelm? Was daar iemand wat haar gehelp het om hom te oorrompel?

Hoekom herroep sy brein dan net sekere gebeure?

Hy twyfel of hy vannag ’n oog gaan toemaak.

Dat ’n aand van plesier nou so lelik kon uitdraai.

Hy moes nie ag geslaan het op die duiwel se stem nie.

Terwyl Charl wonder wat volgende gaan gebeur, begin sy selfoon lui.

Dis dieselfde nommer van vroeër.

“Hallo.”

“Dit klink beter. Ek hoop jy het nou al afgekoel.”

“Los maar die onnodige geselsies, Blommie, en sê my wat jy wil hê.

“Daar is seker iéts wat jy by my soek en ek wil graag weet wat dit is.”

Sy bly ’n oomblik stil.

“Charl Bloem, jy is ’n man so na my hart. Jy kan sowaar my gedagtes lees.”

Hoe weet die vrou wat sy van is?

Het hy dít ook vir haar gesê sonder dat hy dit kan onthou?

Hy is mos nie mal in sy kop nie.

Dit neem hom nie lank om uit te vind wat sy nóg van hom weet nie.

Haar volgende woorde laat hom voel asof die aarde hom wil insluk.

“Ek het ’n voorstel. Ons het gisteraand by my plek liefde gemaak, so vanaand kan ons dit by jou plek doen.

“Ek het my tuiswerk gedoen en ek weet jou vrou en kinders is nie by die huis nie.

“So, ons het die hele aand vir onsself.

“Is daai nie ’n bright idea nie?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters