18 dae gelede
Charl panic oor die groot penarie waarin hy nou is
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se nuwe verhaal, “As Jy met Vuur Speel”. Geniet die derde hoofstuk!

CHARL bevind hom in ’n hoek. Hy weet nie watter kant toe nie.

Die fout wat hy gemaak het, was om dié vrou te onderskat. Hy kom nou agter sy is baie slimmer as wat hy vermoed het. Baie meer uitgeslape.

Besluiteloos staan Charl met die selfoon teen sy oor.

Hy was nog nooit in sy lewe in so ’n yslike penarie nie.

Sy volgende stap sal hy goed moet oorweeg.

Blommie is nie onnosel nie. Sy weet sy het die hef in die hand. Die seksvideo is haar troefkaart.

Daarmee kan sy maak net wat sy wil. Sy gedagtes gaan op loop.

Hy dink hy weet wat die regte ding is om te doen: Hy moet Blommie se voorstel van die hand wys.

Sy moet by die huis bly, hom uit haar kop kry en op een van haar ander kliënte konsentreer. Maar is die regte ding noodwendig die beste oplossing vir die probleem?

Hy kan mos nie vir die tweede aand agtermekaar intiem verkeer met ’n flerrie nie, ’n vrou wat duidelik net agter geld aan is.

Daar moet ’n ander manier wees hoe hy hom hieruit kan loswoel.

Sy huwelik van 12 jaar is op die spel. Hy kan dit nie sommer net so weggooi nie.

“Moet my nie te lank laat wag vir ’n antwoord nie,” ruk haar stem hom terug tot die werklikheid.

“Is dit dan so moeilik om te besluit? Gisteraand was jy dan so gewillig.” As sy net wil ophou om na gisteraand te verwys. Dit maak hom so boos.

“Ek kan dit nie doen nie, Blommie. Ek kan jou nie hier in my huis toelaat nie. Jy kan regtig nie so iets van my verwag nie.”

“Jy kán dit doen. En ek sal seker maak jy gáán dit doen. Jy het nie veel van ’n choice nie.

“As jy refuse, is die seksvideo vanaand nog in die social media.

“Ek hoef nie vir jou te sê hoe gou jou vrou daarvan te hore sal kom nie.

“Die keuse is joune.”

Charl raak paniekbevange.

Blommie is nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie.

“Jy hoef nie hiernatoe te kom nie. Gee my jou bankrekeningnommer en ek betaal sommer nou vir jou geld in.”

“Nee, Charl, ek is gewoond werk vir my geld. Ek soek nie freebies nie. Moenie maak asof ek cheap is nie.”

Charl begin moed verloor. Die hardkoppige vroumens verstaan niks.

Wat gaan hy doen om ... Hy skrik vir sy volgende gedagte.

Daar is net een uitweg. Hy moet haar doodmaak.

Dis die enigste uitweg. Solank sy daardie video het, kan sy hom afpers net wanneer sy wil.

Hy kan nie bekostig om sy vrou en kinders te verloor nie. Hy sal nou moet toneelspeel soos nog nooit tevore.

“Nou goed, kom ons doen dit. Ek sal jou kom oplaai en dan bring jy die nag hier deur.”

“Mooi. Ek wag vir jou.”

Terwyl Charl agter sy stuurwiel sit, het hy nog geen idee hoe hy van Blommie ontslae gaan raak nie. Wat hy wel weet, is dat hy haar nie na sy huis toe kan bring nie. So laag sal hy nooit daal nie.

Hy wens weer hul paaie het nooit gekruis nie.

Doen sy dit wat sy met hom doen ook met ander mans of is sy bloot opportunisties?

Hoekom is haar visier juis op hom ingestel?

As hy net kon onthou wat hy haar alles vertel het.

Hy het nooit gedink hy sou ooit moordgedagtes koester nie, maar hierdie is beslis ’n uitsondering op die reël.

Hoe anders gaan hy Blommie uit sy lewe kry?

Hy wil nie eers dink wat die toekoms inhou as sy planne sou skeefloop nie.

Die tronk sal sy voorland wees. En dan gaan Katie hom nooit vergewe nie.

Joernaliste sal soos aasvoëls op haar toesak en haar met lastige vrae peper.

Hy kan hom klaar ’n artikel in die gewilde tydskrif Tuisgenoot voorstel.

En meteens dink Charl aan verskonings wat hy sal aanvoer as ’n verslaggewer agterna ’n onderhoud met hom wil voer.

Sy vrou moes hom nooit vir drie weke alleen by die huis gelos het nie. As ’n hoogs intelligente onderwyseres met ’n graad in wiskunde agter haar naam moes sy tog kon voorsien dat ledigheid in so ’n geval die duiwel se oorkussing kon word.

’n Dag of twee op sy eie sou dalk nog aanvaarbaar gewees het, maar ’n volle 21 dae is genoeg om enige man teen die mure uit te dryf.

Hy beskou hom boonop as die warmbloedige soort wat nie nodig het om by raadgewers soos antie Fiona van die skinderkoerant Gons te gaan kla oor huiswerk wat nie op datum is nie.

Sy vrou het hom nooit rede gegee om afgeskeep te voel of hom doelbewus sy huwelikspligte ontneem nie.

Een van die vrae wat hom kwel, is of Katie so gewoond geraak het aan hom dat sy later hul huwelik net as vanselfsprekend begin aanvaar het.

Het sy werklik geglo sy oë sou nooit dwaal nie? ’n Man bly ’n man.

Met hierdie stelling probeer Charl nie sy gedrag goedpraat of Katie as die sondaar brandmerk nie. Inteendeel.

Katie se moeder was nie van daardie soort ma’s wat hul dogters al op ’n jong ouderdom teen die gevare van wolwe in skaapklere gewaarsku het nie.

Haar ma het dit nooit by haar laat insink dat sy enige iets in haar vermoë moet doen om te verseker haar man breek nooit haar hart nie.

Al is Charl in Katie se oë ’n ware gentleman wat haar in meer as 12 jaar nie een keer met ’n ander vrou bedrieg het nie, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat hy nooit in hul huwelik oor die tou sou trap nie.

Wie weet, miskien was owerspel al geruime tyd ’n vae idee in sy agterkop. Wie weet... Het hy dalk net vir die regte geleentheid gewag, vir die regte oomblik om toe te slaan?

En watter beter kans het ’n man om die kat in die donker te knyp as wanneer hy weet hy hoef hom nie te bekommer oor hoe laat hy vanaand huis toe kom nie, want daar is nie ’n vrou wat vir hom wag nie?

Dit is die eerste keer vandat hulle getroud is dat Katie sonder Charl op vakansie gegaan het.

Hy was nog altyd net goed vir haar en die kinders en sy het geen rede om hom te wantrou nie.

Maar min het Katie geweet die lewe het sy eie, unieke manier om dinge te doen.

Die lewe laat hom deur niks en niemand voorskryf nie.

Jy kan byvoorbeeld die een dag op die hoogste kruin van die golf ry, net om jou die volgende dag op die onderste trappie van die leer te bevind.

Soms gebeur dit ook dat daar iemand op jou pad kom wat jy wens jy het liewer nooit ontmoet nie.

Iemand wat jou laat wonder oor sekere goed en jou met ander oë na die wêreld laat lyk.

Iemand wat jou hele wêreld in duie kan laat stort.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters