13 dae gelede
Charl laat hom nie ’n gat in die kop praat nie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se nuwe verhaal “As Jy Met Vuur Speel”. Geniet die slothoofstuk!

TOE Blommie in Charl se motor klim, het sy sowaar die vermetelheid om oor te leun en hom ’n drukkie te gee.

Charl wil haar met geweld wegstoot, maar besluit dan op die nippertjie om saam te speel.

Die geur van haar lyfsproei is ook so prikkelend dat hy dit byna onweerstaanbaar vind. Jinne, dié vrou weet net hoe om ’n man te verlei. Dis geen wonder hy het gisteraand so maklik in haar strik getrap nie. Hy wil nie hê sy moet agterdogtig raak nie.

Sy mag nie die vaagste vermoede hê wat hy van plan is om met haar aan te vang nie.

Hy moet haar gerusstel, haar op haar gemak laat voel.

En dan, wanneer sy dit die minste verwag, moet hy hard en genadeloos toeslaan.

Miskien moet hy eers ’n gesprek met haar voer om haar vertroue te probeer wen, haar amper laat glo dat hulle vriende kan wees.

Op so ’n manier kan hy sy plan moeiteloos uitvoer.

Hy dink meteens weer aan sy ma, aan daardie laaste Vrydag­oggend.

Sy selfoon het gelui. Hy het nie die nommer op die skerm herken nie, maar tog geantwoord.

“Charl, jammer om so vroeg te pla. Ek hoop nie ek het jou wakker gebel nie. Dis suster Gwen wat praat.”

“Môre, suster Gwen. Waarmee kan ek help?”

“Kyk, ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar ek dink jy moet vandag by jou ma ’n draai gaan maak.

“Ons was gisteraand by die hospitaal en sy lyk glad nie goed nie.”

“Lyk sy soos iemand wat op haar laaste is?” het hy reguit gevra.

“Ek … dis nou nie my plek om so iets te sê nie, maar gaan besoek haar en kyk maar self. Dit mag dalk jou laaste besoek wees.”

Charl het nie op hom laat wag nie.

Hy is dadelik hospitaal toe. Aan suster Gwen se stemtoon kon hy aflei sy ma het nie meer lank oor om te lewe nie. Hy wou sy ma darem nog vir oulaas lewend sien.

Toe hy haar daar sien lê, het hy dadelik geweet haar einde is naby.

Sy het dapper probeer glimlag, maar hy kon agterkom sy verduur baie pyn.

“Ek is bly jy het gekom,” het sy gefluister.

“Daar is iets wat jy moet weet.”

“Wat is dit, Ma?” het hy nuuskierig gevra.

“Ek is nie jou biologiese ma nie,” het sy hom meegedeel.

Hy het nie mooi verstaan nie en gedink die kanker het haar laat yl.

“Ek en jou ma was saam op skool.

“Sy was van die rowwe soort wat met verkeerde vriende gemeng het. Haar lewe het later net uit drank en dwelms bestaan. Toe begin sy haar liggaam verkoop om haar gewoontes te voed.”

Charl was so geskok, hy kon nie ’n woord uitkry nie.

“Jy was ’n week oud toe sy aan my deur kom klop en vra ek moet jou grootmaak.”

“Lewe sy nog?” was al wat Charl kon uitkry. “Die vrou wat die lewe geskenk het aan my ... weet Ma of sy nog lewe?”

Maar daar was geen antwoord nie.

Die engel van die dood het kom besoek aflê.

“Hoe oud is jou kind?” vra Charl vir Blommie. Hy ry teen’n gemaklike spoed.

“Sy word 10. Ek was 16 toe ek swanger geraak het.”

“En is haar pa deel van haar lewe?” Hy het geen idee waar daardie vraag vandaan kom nie.

Uit die bloute bars Blommie in trane uit.

“Wat gaan nou aan?” vra Charl verbaas. “Het ek iets verkeerd gesê?”

Sy skud haar kop. “Jy … dis die eerste keer dat iemand my vra oor my kind se pa.”

“Ek is jammer, dit lyk my jy is nie gemaklik met die onderwerp nie.”

“Dis fine, dis tyd vir die waarheid om uit te kom.

“My kind se pa is die rede dat ek alle mans haat, dat ek die lewe vir hulle so moeilik as moontlik wil maak ... en dat ek nooit weer ’n man sal toelaat om my te gebruik sonder om my daarvoor te betaal nie.”

Charl trek sy asem skerp in.

“Wat het jou kind se pa gedoen wat so verskriklik is?”

“My kind se pa … is my eie pa. Hy molesteer my al vandat ek 13 jaar oud is. Ek was te bang om daaroor te praat omdat hy gedreig het om my dood te maak.

“Ek het ’n wrok teen alle mans. Ek sal enige iets doen om hulle te vernietig, want my lewe is deur my pa vernietig. Ek sal nooit vir my kind kan sê wie haar pa is nie.

“Sy dink hy is dood.”

Charl sien hierdie as ’n geleentheid om die vraag te vra wat hom heeltyd pla.

“Die seksvideo … het iemand jou daarmee gehelp?”

Weer skud sy haar kop. “Ek het hidden cameras in my flat. Dis my manier om ’n houvas op mans te kry en hulle te manipuleer.

“Ek gooi iets in hulle drank om hulle te drug. Ek doen dit nie net vir myself nie, maar ook vir ander vroue wie se mans hulle so skaamteloos verneuk.

“Gelukkig weet ek hoe om die video’s te edit en my gesig dof te maak.”

“En het jy al van die videos aanlyn gepost?”

“Nee, dis net my manier om die manne te convince om oor en oor business met my te doen.

“Dit gee my ’n kick. Daar is twee goed in die lewe waaraan ek addicted is, naamlik seks en geld. Sonder daai kan ek nie lewe nie. Daai twee gaan hand aan hand. En wie se donnerse skuld is dit? Alles my pa s’n.”

Charl bring die motor tot stilstand.

Hulle bevind hulle in ’n donker straat.

Hy weet hy moet nou toeslaan terwyl sy erg emosioneel is. Sy sal nie weet wat haar getref het nie.

Hy dink sy lieg vir hom. Sy sal die video op sosiale media versprei as sy nie haar sin kry nie.

Sy probeer hom net ’n gat in die kop praat, maar sy moenie dink dit gaan hom van plan laat verander nie.

’n Gevaarlike vrou soos sy moet ’n les geleer word.

Hy vou sy arms om haar nek, maar voor hy haar kan wurg, voel hy die koue loop van ’n vuurwapen teen sy slaap.

“Ek was so iets te wagte, Charl. Dis hoekom ek nowhere sonder my rewolwer gaan nie.

“Julle mans is almal stupid.

“Ek en jy kon nog vir ’n lang tyd innocent fun gehad het, maar toe kry jy mos ander idees.”

“Asseblief, Blommie, moenie ’n dom ding aanvang nie,” soebat Charl.

“Kom ons praat hieroor. Dis nie nodig om–”

Sy trek die sneller en begin hardop lag toe Charl se bloed op haar klere en in haar gesig spat.

Dan druk sy die skietding in haar mond, sluit haar oë en vuur nog ’n skoot af.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters