20 dae gelede
Charl kan nie die vorige aand se gebeure vergeet
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met CHRISTO MEYER se nuwe verhaal “As Jy met Vuur Speel”.  Geniet die eerste hoofstuk!

CHARL Bloem, ’n 45-jarige verkoopsbestuurder by ’n bekende motorhandelaar, sit diep ingedagte by sy lessenaar. Hy staar nikssiende voor hom uit.

Sy rekenaar is aangeskakel, maar hy het nog nie by een van sy e-posse uitgekom nie.

Aan vanmiddag se vergadering met die streeksbestuurder wil Charl nie eens dink nie. Hy weet sommer hy gaan van ’n kant af uitgetrap word oor verlede maand se swak verkoopsyfers.

Die streeksbestuurder is ’n on­redelike man wat soms van hulle verwag om bloed uit ’n klip te tap.

Charl voel nie op sy beste nie en wens hy’t liewer die dag afgevat.

Hy het baie laat in die bed gekom en min geslaap. Sy kop voel boonop asof dit wil bars.

Nee wat, ’n gekuier op ’n weeksaand is nie meer vir hom nie. Dis iets wat hy liewer aan die jongelinge moet oorlaat.

Gisteraand was rof – te rof vir ’n man van sy ouderdom.

Onder geen omstandighede mag daar ’n herhaling daarvan wees nie. Anders gaan hy elke oggend soos ’n zombie voel.

Charl verwyt homself. Hy het iets verskrikliks aangevang. Iets uiters onverantwoordelik. Iets waarop hy nie trots is nie.

Hy probeer fokus, maar hy kan die vrou van gisteraand nie uit sy gedagtes kry nie. Sy het gesê sy is 26 en tog het sy gelyk soos iemand wat minstens 30 kan wees.

Haar laggende gesig verskyn kort-kort voor hom.

Hy weet dis verkeerd om heeltyd aan haar te dink, maar dis ál wat hy doen sedert hy vanoggend by die huis weg is.

Dis bitter moeilik om op sy werk te konsentreer. Wat gaan aan met hom? Hy gedra hom erger as ’n verliefde tiener.

Gisteraand was ’n fout. Die grootste fout van sy lewe. Dit mag nie weer gebeur nie.

Toe hy lank ná middernag by die huis kom, is hy nie dadelik bed toe nie.

Hy’t die deur agter hom gesluit, die alarm geaktiveer en met ’n skuldgevoel op die naaste rusbank neergesak.

Trane het oor sy wange gerol.

Hy’t gesondig. Hy’t omgang gehad met ’n vrou van die nag, ’n prostituut.

Hy moet so gou moontlik daarvan vergeet, want as sy vrou hiervan moet uitvind ...

Dit was Charl se eerste keer. Die belewenis was onbeskryflik.

Nie eens in sy wildste drome sou hy hom so ’n asemrowende ondervinding kon voorstel nie.

Die opwinding het sy stoutste verwagtinge oortref.

Sy was soos ’n wilde dier. Nee, erger. Dit was asof sy nie genoeg van hom kon kry nie.

Hy wil dit nie erken nie, maar hy het waarde vir sy geld gekry.

Hy weet ook nou wat dit beteken om jouself in die sewende hemel te bevind.

Dit was so anders as met sy eie vrou.

Charl kry ietwat warm. Hy maak sy hemp se boonste knoop los. Hy staan op, loop kombuis toe en kry ’n glas water.

Die jong vrou van gisteraand smokkel met sy kop.

Wat haar besiel het om sommer op hul heel eerste ontmoeting haar hart teenoor hom uit te stort, is iets wat hy sukkel om te verstaan.

Hy kan nie begryp waarom sy juis vir hom, ’n vreemdeling, in haar vertroue geneem het nie.

Kon sy dalk aanvoel hy is nie die tipe wat ander veroordeel nie? Of is sy maar so met alle mans?

’n Mens blaker mos nie sommer jou geheime net so uit nie – veral nie teenoor iemand wat jy van nêrens ken nie.

Dalk moet die drank die skuld vir alles kry.

Dis die enigste logiese verduideliking – miskien het sy te veel gedrink. Sommige mense se tonge is mos geneig om los te raak as hulle onder die invloed van geraaswater is.

Haar naam ... hy dink sy het gesê dis Shireen. Of was dit dalk Sharon? Dit kon so maklik Shirley ook gewees het.

Hy is nie seker nie. Sy vergeet­agtigheid kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat hy uit die veld geslaan was oor die goed wat sy kwytgeraak het.

Hy was nie ’n bekentenis van enige aard te wagte nie. Hy wou net ’n drankie geniet, pool skiet en onskuldige pret hê.

Wat hom die meeste beïndruk het van hierdie jong, aantreklike vrou, was haar eerlike en reguit manier van praat.

Sy het nie doekies omgedraai of probeer voorgee nie.

“Ek is ’n hoer,” het sy hom uit die staanspoor laat verstaan.

“Ek verkoop my lyf om kos op die tafel te sit vir my familie.

“Jy het een van twee keuses. Óf jy aanvaar my met my foute en ál, óf jy stuur my onmiddellik in my moer.”

Sy het dit so normaal laat klink dat hy vir ’n oomblik gedink het sy maak ’n grap, maar aan haar gesigsuitdrukking kon hy sien sy bedoel elke woord.

Vanselfsprekend was hy geskok. Nie oor die manier hoe sy haar brood en botter verdien nie, maar omdat sy so gemaklik, byna trots daarop was.

Gelukkig het hy nog altyd ’n goeie sin vir humor gehad. Van kleins af is dit een van sy beste eienskappe.

“Gee jy om as ek jou Blommie noem?” vra hy spottend.

Dit het die gewenste uitwerking gehad, want sy het dadelik uitgebars van die lag.

“Hoekom sal ek omgee? Blommie is dan so ’n mooi naam, al dink ek nie dit pas by my nie.

“Ek val meer in die onkruid- of doring-kategorie.”

Daar en dan het hy besluit om haar Blommie te doop.

Dis eintlik snaaks. ’n Troetelnaampie vir ’n prostituut. Hy moet sy kop laat lees.

Die maan het helder geskyn. Hulle’t in sy kar gesit en gesels.

Hulle het oomblikke tevore nog die vloer warm gedans in die club.

Toe raak dit te bedompig en sy stel voor hulle gaan skep ’n bietjie vars lug.

“Woon jy hier in Goodwood?” wou hy weet.

“My ma bly aan die ander kant van die spoorlyn in Ruyterwacht.

“Ek het ’n woonstel hier naby wat ek jou later wil gaan wys.”

Op ’n manier het hy haar bewonder. Sy het nie van haar hart ’n moordkuil gemaak nie.

“My ma het so baie drome vir my gehad.

“Toe gaan disappoint ek haar deur pregnant te raak oppie skoolbanke.”

“Moenie te hard wees op jouself nie,” het hy die gesprek positief probeer hou. “Ons almal maak foute.”

“Ja-nee, daai is die oudste verskoning innie boek.

“Mense probeer mos hul gewete daarmee sus. Maar die vraag is of ons werklik uit ons foute leer.

“Het jy ’n vrou by die huis?”

Hy wou nie vir haar lieg nie. Dit was nie nodig nie. Hoekom moes hy? Sy het dan oop kaarte met hom gespeel.

“Weet jou ma van ...?” Hy kon nie sy sin voltooi nie, maar hy kon sien sy weet wat hy bedoel.

“My ma en ek het ’n goeie understanding. Sy vra nie vrae nie.

“Solank sy nie in die neighbours se oë hoef te kyk vir ’n bietjie suiker of ’n stukkie brood nie.

“Sy ken nie ál my secrets nie, maar ek en sy is cool.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters