17 dae gelede
Charl glo daar is net een manier uit dié gemors
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se nuwe verhaal “As Jy met Vuur Speel”. Geniet die vierde hoofstuk!

CHARL ry stadig in die rigting van Goodwood. Hy kan nie glo hy oorweeg dit om reg in eie hande te neem nie.

Is hy dan so desperaat om die probleem te laat verdwyn? Tog besef hy hy sal enige iets doen om sy gesin te beskerm.

Hy moet regmaak waar hy verbrou het, al beteken dit ook hy moet ’n geweldsmisdaad pleeg.

Hy dink aan die middag toe hy sy gesin op die lughawe gaan afsien het. Hy het toe geen idee gehad hoe lank die volgende drie weke sonder hulle werklik sou wees nie.

Dit was skoolvakansie en Katie het vreeslik na haar ma en pa in Johannesburg verlang. Die tweeling, Melvin en Calvin, kon ook nie wag om weer by hul ouma en oupa te gaan kuier nie.

Al wou Charl ook saamgaan, kon hy in sy hoedanigheid as verkoopsbestuurder nie hierdie keer bekostig om nie by die werk te wees nie.

Dit was doodstil in die motor op pad lughawe toe. Agter die stuurwiel was hy die ene konsentrasie.

Langs hom het Katie gesit en op die agterste sitplek was die tweeling op hul selfone doenig.

“Ek hoop nie jy mis ons te veel nie,” het Katie gesê toe sy en die kinders op die lughawe uit sy motor geklim het.

“Drie weke is darem nie so lank nie. Voor jy jou oë uitvee, is ons terug.”

Charl het nie ’n woord gesê nie. Diep in sy binneste was hy ’n ongelukkige man, maar toe Katie ’n paar uur later laat weet hulle het veilig by haar ma aangekom, was hy bly om haar stem te hoor.

Die eerste paar aande het hy verbasend maklik aan die slaap geraak, maar daarna was dit ’n perd van ’n heel ander kleur.

Hy’t begin rondrol soos iemand met ’n skuldige gewete, iemand wat iets beplan, maar nie heeltemal seker is of dit die regte ding is om te doen nie.

Dalk het die verkeerde gedagtes toe reeds in sy brein gebroei.

As hy net voor die tyd bewus was van wat laasnag vir hom sou inhou, sou hy liewer verkies het om die aand, soos al die voriges, voor die televisie deur te bring.

Ongelukkig is hy nie een van daardie persone wat met die helm gebore is nie, anders sou hy dalk die een of ander teken as waarskuwing ontvang het.

Hy beskik ook nie oor die gawe om dinge vooruit te sien nie.

Daar was nie werklik iets op die TV wat hom geïnteresseer het nie; net herhalings van vorige programme.

Dit het hom eindeloos verveel en toe die duiwel eers iets in sy oor kom fluister, het Charl stadig­aan begin kriewelrig raak.

Hy was skielik nie meer lus om alleen te wees nie.

Die huis was stil sonder sy vrou en kinders en daar was nog ’n week en ’n half oor voordat hulle sou terugkeer van die vakansie af.

As gesinsman wat jare laas in ’n sportkroeg uitgehang het, het Charl weer kans gesien om die naglewe te gaan opsoek.

Hy wou graag tussen mense wees, al was dit net vir ’n bier of twee en om te kyk of hy nog kan pool skiet soos in sy dae as WP-kampioen.

Hy het gaan stort, aangetrek en van sy duur naskeermiddel aangespuit.

Toe klim hy in sy motor en ry by die hek uit. Min het hy geweet daar wag ’n verrassing op hom.

Charl het nie vooraf beplan om oor die tou te trap nie.

Dit is iets wat op die ingewing van die oomblik gebeur het.

Hy het nie behoorlik kans gekry om daaroor te dink nie.

Hy sal nooit doelbewus die noodlot tart nie.

Daarvoor het hy te veel om te verloor.

Hy beklee ’n senior pos en as hierdie ongehoorde gedrag op die lappe kom, sal dit sy reputasie oneindige skade berokken.

Die hele idee was om ’n bietjie uit te kom vir die aand. Sy gesin was uitstedig en hy het nie kans gesien vir sy eie geselskap nie.

Sy onbeplande glipsie met ’n sedelose jong vrou kan beskryf word as ’n dwase daad deur ’n wyse man.

Of ’n simpel fout in ’n oomblik van swakheid.

Hoe dit ook al sy, daar is nie ’n manier dat hy dit wat tussen hulle gebeur het, kan goedpraat nie.

Waarom hy dit in die eerste plek gedoen het, kan hy nie verklaar nie. Hy ken immers die verskil tussen reg en verkeerd.

’n Man in sy posisie behoort van beter te weet.

Charl het altyd geglo dis net swakkelinge wat voor die sjarme van ’n sondige vrou swig en nooit gedink hy sal hom ook daaraan skuldig maak nie.

En tog het hy. En nou sukkel hy om hom uit die moeilikheid te kry.

In sy agterkop begin sy moordplan vorm aanneem.

Hy gaan die niksvermoedende Blommie oplaai en haar laat glo hy stem saam met haar belaglike idee.

Op pad na sy huis gaan hy in ’n donker straatjie stilhou. Voor sy mooi weet wat haar getref het, gaan hy sy arms om haar nek sit en haar wurg totdat daar niks meer lewe in haar is nie.

Eers as hy seker is sy is dood, sal hy haar lyk iewers gaan dump. Hy moet net seker maak niemand sien hom nie.

Niemand mag hom met die dood van ’n prostituut verbind nie.

Dit gaan nie maklik wees nie, maar hy sal maar met sy gewete moet saamleef.

As Charl Bloem ’n ou, ervare bedrieër was, sou sy gewete hom waarskynlik nie gepla het nie. Hy sou aangegaan het met sy lewe asof alles in orde is.

Nou worstel hy met ’n skuldgevoel wat hom nie wil uitlos nie. Hoe gaan hy vir Katie in die oë kyk?

Sy ken hom goed genoeg om agter te kom wanneer iets hom pla. Wat staan hom te doen?

Moet hy met die hele sak patats vorendag kom?

Nee, hy kan nie. Dit sal sy huwelik verwoes.

Katie sal hom nooit vergewe nie. Hy moet net seker maak dit gebeur nooit, ooit weer nie.

Maar vir eers het hy ’n struikelblok om uit die pad te rol.

Hy moet net normaal optree. As hy paniekbevange raak, gaan hy sy eie game weggee. Hy moet kalm bly.

Charl was juis so verlig toe die streeksbestuurder deur die loop van die dag laat weet hy gaan dit nie kan maak vir die vergadering nie. Iets het voorgeval.

Hy het nie daarvoor ook kans gesien nie.

Hy sal sy dagboek dophou en herskeduleer.

Charl dink skielik aan sy ma. Hoe sou sy ma reageer as sy moes weet van die plan wat hy in die mou voer?

Sy sou beslis nooit daarmee saamstem of haar goedkeuring daarvoor gegee het nie, want dis nie hoe sy hom grootgemaak het nie.

Sy ma is ’n godvresende vrou wat hom geleer het om altyd in vrede met ander mense te leef.

Hy moenie nou koue voete kry nie ...

Moord is die enigste oplossing vir sy probleem. Hoe anders gaan hy uit hierdie gemors kom?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters