25 dae gelede
Catharina wil nie glo wat Francois oor Kevin vertel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan voort met die verhaal “’n Tyd om Lief te Hê” van GWENDOLINE KORDOM. Geniet gerus nou hoofstuk 3.

CATHARINA staar hulpeloos na die drie wat soos trapsuutjies by die kombuis in verdwyn het.

Sy vee ergerlik die trane weg en probeer om nie in Francois se rigting te kyk nie.

Hy steur hom blykbaar nie aan haar houding nie, want hy kies die stoel reg oorkant hare.

Nadat hy hom gemaklik gemaak het, staar hy stip na haar.

Sy weet nie hoekom nie, maar skielik wens sy daar was ’n spieël byderhand.

Geen vrou het al ooit soos ’n prinses gelyk ná so ’n tipe trane­sessie nie.

“Goeiemôre, Cat.”

Die gebruik van daardie troetelnaam laat haar maag skielik draai.

Sy knik egter styf en kyk muur se kant toe.

“Ek sien dit gaan nie ’n maklike ondervraging is nie,” hoor sy hom sê.

“Wat is dit veronderstel om te beteken?” Sy vermy egter nog steeds sy blik.

“Ek weet daar vloei nie baie liefde tussen die twee van ons nie, maar ek is hier om te help.

“So, laat ons ten minste soos twee volwassenes kommunikeer as jy nie omgee nie?”

Toe eers lig sy haar oë na hom.

Sy swart hare is in ’n netjiese snit gesny. Daar lê ’n frons tussen sy digte swart wenkbroue.

Sy kakebeen staan effens gebult. ’n Aanduiding dat haar teenwoordigheid hom tog ontstel. Hoekom die gedagte haar opgewonde laat, kan sy self nie verklaar nie.

“Daar is niks om te vertel nie,” sê sy.

“Cat, dit sal in jou beste belang wees om jou samewerking te gee.

“Die storie is dalk groter as jou klein wipstert-houding.”

Sy donker oë pen hare vas.

Die feit dat hy haar nog steeds Cat noem, verstom haar.

“Waarom was jou kêrel so vroeg in die omtrek?” vra hy.

“Moet jy nie eerder oor die booswig vra nie? Hy is immers die een wat ’n klip deur my kamervenster geslinger het? Kevin is my redder en moet liewer geprys word.”

“Kevin kon egter nog steeds nie daarin slaag om een ou plat te trek nie. Het jy hom gesien?

“Kon Kevin ’n beskrywing kry?”

Toe sy haar kop skud, gaan hy voort: “Nes ek gedink het. So nie jy of jou kêrel het ’n idee hoe die ou lyk nie?

“Volgens tant Lenie het Kevin net so ver as haar heining gekom. Daar het hy blykbaar gestaan en kyk hoe die ou van hom af weghol.”

“Hoekom ondervra jy dan nie liewer vir tant Lenie aangesien sy so ’n geloofwaardige getuie uitmaak nie?”

Hy snork hardop.

“Kom ek keer terug na my oorspronklike vraag. Om watter rede was Kevin so gerieflik naby toe die voorval plaasgevind het?”

“Ek het nie nodig om my persoonlike lewe aan jou te rapporteer nie.”

“Het Kevin dalk iets by hom gehad? Of is jy ook betrokke by sy kriminele aktiwiteite?” vra Francois.

’n Stilte daal oor hulle neer.

“Wat bedoel jy met kriminele aktiwiteite?” vra sy oplaas.

“Ek sien jy het nie ’n idee waarmee jou kêrel hom besig hou nie.

“Ons is na aan ’n deurbraak en ek hoop regtig vir jou onthalwe jy is nie daarby betrokke nie.”

Catharina staar steeds met onbegrip na hom.

“Jou kêrel is betrokke by smokkelary, Cat.”

“Smokkelary? Bedoel jy dwelms?

“Kevin sal nooit in sy lewe so iets doen nie. Hoe durf jy?”

Catharina is op haar voete.

Twee rooi kolle het op haar wangbene kom rus.

“Trap uit my huis, Meissenheimer! Jou arrogansie is duidelik besig om jou oordeel te beïnvloed.”

“Ek loop nie voor jy my nie gesê het wat hy hier kom maak het nie.

“Het hy die goedere hier kom versteek? Help jy hom?

“Ek kan voor die dag om is ’n lasbrief kry. Dan sien ons waar jou parmantigheid versteek lê.”

Hy kom self op sy voete en staan skielik vlak voor haar.

“Jy beter hoop die skurk is nie deur een van die Chinese gestuur nie. Van wat ek hoor, laat speel dié ouens nie met hulle nie.

“Vra maar vir ou Charlie, Kevin se beste pel.”

Sy staar nog steeds verward na hom.

“Ek het nie ’n idee waarop jy sinspeel nie. Charlie lê al drie weke in intensief ná ’n motorongeluk.

“Wie is die Chinese en wat het hulle met Charlie te doen?”

Toe eers sien sy die opregte verbasing in sy oë.

“Jy het duidelik nie ’n idee nie, Cat, het jy?

“Charlie het oornag met die helfte van die Chinese se stock probeer vlug. Duidelik moes hulle hom iewers ingehaal het.”

’n Trek van pyn flits oor Francois se gesig.

“As Kevin jou sonder jou medewete by hierdie gemors ingesleep het, maak ek hom persoonlik vrek nog voordat die Chinese hom in die hande kry.

“Is daar iemand by wie jy kan oornag?”

“Wat gaan aan, Francois?”

Toe hy haar aan die skouers vat, voel dit asof die heelal vir ’n oomblik tot stilstand kom.

“Dit is belangrik dat jy my nou moet vertrou. Ek sal nie toelaat dat iets met jou gebeur nie.

“Sodra ons Kevin vang, sal ek verdere inligting met jou deel.

“Maar vir nou soek ek ’n belofte van jou af. Dat jy niks aan Kevin sal noem nie,” sê Francois.

’n Vrees neem skielik van haar besit.

Sy knik stom, nie in staat om ’n woord te sê nie.

Toe hy sy hande lig, voel dit asof daar ’n koue oor haar kruip.

“Het jy my kontaknommer?” vra hy.

Sy knik.

Hoekom sy nog steeds Francois se nommer het, is ’n raaisel.

“Skakel my enige tyd indien jy dink dis nodig. Onthou om nie vannag hier te slaap nie.

“Ek moet aan die werk spring. Lekker dag, Cat.”

Toe Francois wegstap, staar sy nadenkend na sy breë skouers onder die donkerblou hemp.

Oom Frits verskyn uit die niet.

“Wat sê Francois? Kon hulle die ou vang?”

“Nee, oom Frits, hulle sal elke moontlike leidraad opvolg. Hy het voorgestel dat ek liewer vanaand ’n ander heenkome vind.”

Sy klein ogies flikker van hoek tot kant.

“My magtig, kind, jy is altyd welkom in my huis.

“Jou pa was anderdag ons steunpilaar. Moet jou oor niks bekommer nie. Stella sal mooi na jou kyk.”

Hy gee ’n breë glimlag na Stella se kant toe.

“Oor my dooie liggaam. As daar een mens is by wie Catharina sal oornag, dan sal dit ek wees.”

Catharina het byna van tant Lenie vergeet.

Dié staan nou soos ’n wafferse soldaat penorent voor oom Frits en swaai ’n krom vinger onder sy neus rond.

“Jy dink ek sien nie deur jou nie, Frits Magerman.

“Jy wil vir Catharina vir jouself toeëien. Ek sien alreeds die kind so min.

“Nou wil jy haar boonop ook van my afrokkel.”

Catharina se hart smelt en ’n hartseer oorval haar.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters