27 dae gelede
Catharina voel so eensaam ná haar pa se dood
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop hierdie week af met GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal’n Tyd Om Lief Te Hê”. Geniet gerus nou hoofstuk 1.

DIS byna middernag. ’n Donderknal weerklink in die verte.

Hier waar sy voor die venster staan, wens Catharina haar pa het nog geleef.

Sy skuif die venster oop en klouter op die breë vensterbank totdat sy ’n rusplek teen die muur vind.

Sy vou haar arms om haar opgetrekte bene.

Dis weer een van daai aande. Die slaap ontduik haar. Sy sluit haar oë en asem die soel lug in.

’n Swaelreuk hang in haar neusgate. Die donderweer het ’n paar uur gelede verby getrek. So nou en dan skiet ’n enkele straal deur die hemelruim. Die gerammel van vroeër het ook afgeneem.

Die dorp is grafstil. Dis vandag drie maande sedert haar pa se afsterwe. Die dag ná die begrafnis het elkeen weer sy eie koers ingeslaan.

Joan, haar pa se enigste suster, moes ook inderhaas vertrek.

“Ai, Catharina, ek is jammer ek los jou vingeralleen, maar dit kan nie anders nie. Ek kan ongelukkig nie my besigheid so lank sonder toesig laat nie.”

Asof haar spysenieringsplekkie oornag sou verdwyn.

Sy het die regte geluide gemaak en haar tante laat gaan. Dis nie asof daar baie liefde tussen hulle twee is nie.

Joan is ’n kinderlose vrou met meer geld as menslikheid.

Sy het nooit getrou nie en het oor die jare heen talle verhoudings met verskillende mans gehad.

Daar was selfs gerugte dat van die mans getroud is. Gewoonlik is die mans dan maar net marionette wat sy kan hiet en gebied. Oor skandes is haar tante min gespin.

“Ek bel sodra ek by die huis aangekom het, my kind. Ek wil hê jy moet ’n slag kom kuier. Ons spandeer glad nie tyd saam soos wat familie veronderstel is om te doen nie.”

Sy het gewonder of Joan se gewete haar nou uiteindelik ry. Joan is nie ’n slegte mens nie. Oor die jare het sy Catharina met baie geskenke bederf.

Dikwels moes haar pa inspring en keer, soos die keer met haar 16de verjaardag toe Joan vir Catharina ’n motor aangeskaf het.

Haar pa het die geskenk summier namens haar geweier. Hulle het toe later ’n ooreenkoms bereik.

Catharina sou dit op haar 21ste verjaardag ontvang.

Intussen kon sy leer ry en sy moes tevrede wees om in haar oorlede ma se skedonk rond te rits.

Ná haar studies in die onderwys het sy by De Heide Primêr haar beroep begin. Sy het ’n paar vriendinne en ’n kêrel wat dieselfde beroep as sy volg.

Sy weet dat sy eendag met Kevin gaan trou en haar hier sal vestig.

Laas jaar is kanker by haar pa gediagnoseer en binne ses maande was alles verby. Noudat haar pa weggeval het, voel sy onseker oor die lewe. Selfs Kevin kom dit agter.

“Ek verstaan jy het tyd nodig, maar wat van óns, Rina? Ek sien jou amper nooit meer nie,” het hy gekla toe sy weer ’n afspraak kanselleer.

Dit was nie sy woorde wat haar geïrriteer het nie. Dit was die troetelnaam – Rina.

Die kere dat sy hom wel reggehelp en gesê het sy verkies Cat, kon hy haar nie vinnig genoeg doodpraat nie. “Ek verkies Rina. Cat klink meer eksoties en dit pas nie by jou nie.”

Sy was taamlik ontsteld, maar het niks verder gesê nie.

Van daardie oomblik af het sy langer na haar spieëlbeeld gestaar.

Wanneer sy dan ook in die spieël kyk, kon sy ook nie juis iets eksoties sien nie.

Sy sien haar lang vosbruin hare wat dikwels in ’n stywe vlegsel oor haar skouer hang. Ligbruin oë in ’n ovaalvormige gesig met voskleurige wimpers. ’n Klein mond en ’n breë voorkop wat onder ’n kuif verberg word.

Sy is op ’n keer deur haar skoolkys met ’n gemmerkat vergelyk.

Joan het nie juis ooghare vir Kevin nie en Catharina moes dit elke keer hoor.

“Hy pas nie by jou nie. Ek dink nog steeds daardie ander kêreltjie was ’n beter match.”

Catharina het hardop gesnork. François was haar skoolkys en dit was jare gelede.

“Liefde kry jy nie oor ’n toonbank nie, my kind. Dit kom met ’n hand vol geduld en tyd.”

“En waar sou jý al dié wysheid oor die liefde kry?” wou Catharina sarkasties weet.

“My eie ondervinding, Kind. Dis ’n leerproses en jy moet bereid wees om daardie liefde te herken die dag as dit voor jou staan. Jou tyd om onvoorwaardelik lief te hê, is naby, Catharina.”

Sy gee ’n lang sug voordat sy van die vensterraam afspring en die venster toe druk. Daarna skuif sy tussen die lakens in.

Dit neem ’n rukkie voordat sy in ’n diep slaap verval.

DIE oggend skrik Catharina wakker met haar selfoon se luitoon in haar ore. Haar oë vlieg oop en sy strek haar hand uit na die bedkassie.

“Kevin,” lees sy op die skerm en plak die selfoon ergerlik terug op die kas. Sy loer na die elektroniese wekker. Dis 05:00 en sy is nog nie eens ordentlik wakker nie.

Watter ordentlike mens bel so vroeg? Sy trek die groen satynkussing oor haar kop toe die gelui opnuut begin.

Sy raap die foon op en skakel dit summier af. Sy hoop Kevin kry dié keer die boodskap.

Sy weet nie wat sy dié vakansie met haarself gaan doen nie.

Kevin gaan natuurlik daarop aandring dat sy Kersfees saam met hom op sy ouers se plaas moet deurbring.

Dit sal haar seker goed doen, maar sy het wragtig nie lus nie.

Sy is verbaas dat hy haar so vroeg pla. Sy oproepe het in die laaste twee weke opgedroog. Hy het wel laas week kom inloer.

Haar oë vlieg weer oop. Kevin het verander. Of ... is sy verantwoordelik vir die verandering?

Ja, sy gee hom die koue skouer, maar tog het hy haar lief en check altyd of sy oukei is. Hoekom gebeur dit dan nie meer nie? Het Kevin moeg geraak van haar?

Sy dink weer aan hul laaste gesprek. Dit was verlede Dinsdag.

Hy’t laat die middag hier aangekom. Sy’t op die stoep gesit en lees.

Kevin het haar skrams op die mond gesoen en langs haar op die ou rusbank neergeploeg. Sy onthou ook nou skielik die harde sug wat hy gegee het.

“Ek mis jou, Rina.” Hy het haar hande in haar skoot vasgegryp.

“Ek weet nie meer wat om met myself en ons situasie te doen nie. Dis asof jy in ’n robot ontaard–”

“Dis nie waar nie,” het sy hom in die rede geval.

“Sê dan wanneer laas ek en jy intiem verkeer het, Rina!” het hy vurig geëis.

Daar het ’n stilte oor hulle neergedaal. Onder die kweperboom het die voëltjies se gekwetter ál harder geword. Sy was hom ’n antwoord verskuldig.

“Jy kan nie eens onthou nie,” het hy gesê.

“Het ons verhouding dan net oor seks gegaan?” het sy sag gevra.

“Nee. Maar ek is ’n man. En ’n man het behoeftes!”

Iets tref skielik die venster met ’n harde slag.

Die geluid van glas wat breek laat Catharina versteen bly lê.

Sy korrel ná ’n paar sekondes oor die kombers.

Op die mat lê ’n groterige klip tussen al die gebreekte glas.

Haar oë vind die tyd. Dis 05:15.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters