26 dae gelede
Catharina besef haar woorde het Kevin seergemaak
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan voort met GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal "'n Tyd Om Lief te Hê."  Geniet gerus nou hoofstuk 2.

TERWYL sy angstig luister, kan sy nou die harde geklop van haar hart hoor. Wie ook al die klip deur die ruit gegooi het, behoort nou enige oomblik te verskyn.

Sy kan haarself skop oor sy nie vroeër na Kevin geluister het nie.

Hy wou hê sy moes diefwering voor die vensters aanbring ná hulle hoeveelste argument oor haar alleenblyery. Sy het gedink die idee is absurd.

Kronendal is een van die rustigste dorpe wat sy ken. Sy weet sy moet opstaan en iets doen, maar al die funksies van haar liggaam het skielik ophou werk. Sy wonder of dit ’n algemene gevoel onder slagoffers is voordat hulle sterf.

Toe dié gedagte by haar insink, kry haar bewende bene lewe en sy spring uit die bed. Sy probeer inligting onthou uit die dae toe sy die selfverdedigingsklasse by die skool bygewoon het, maar haar brein klap soos ’n oester toe.

“Catharina!” Sy vind ’n skuilplek agter die deur en kyk verskrik rond. “Catharina!”

Nou eers herken sy Kevin se stem. Sy gryp na die handvatsel en pluk die kamerdeur oop. Kevin gryp haar met een beweging teen hom vas.

“Is jy okay?” vra hy naby haar oor. Sy wil iets sê, maar die regte woorde ontbreek. Hy lei haar na die bed.

“Ek het amper die bliksem gevang, maar naby tant Lenie se heining het hy my ontglip. Ek dank die Vader ek was toevallig in die omgewing.”

Hy druk haar weer styf teen hom vas.

“Ek praat al lank oor die alleenblyery van jou, maar jy is mos hardkoppig. Jy trek vandag nog by my in.

“Hoor jy my? Ek kan nie elke dag met dié tipe onsekerheid leef nie.”

Toe eers tref sy woorde haar. Sy wriemel haar los en kom op haar voete.

“Wat soek jy vyfuur in die oggend ‘toevallig’ hier rond? Hoe weet ek dis nie jý wat die klip deur die venster gegooi het nie?”

Die verslaentheid oor sy gesig doen niks aan die storm wat nou binne-in haar losgebreek het nie.

“Ek het jou al voorheen gesê en gaan dit nou vir ’n laaste keer sê, Kevin. Los my in hemelsnaam uit!”

“Ek kan nie glo wat ek hoor nie, Rina. Dink jy werklik ek–”

“Trap uit my huis, Kevin! En jy sit jou voete nie weer naby my nie,” val sy hom in die rede.

“Nou dadelik!” gil sy.

Hy kom stadig op sy voete en kom voor haar staan. Die seer in sy oë skroei soos ’n vuur oor haar.

“Jy maak ’n baie groot fout, Catharina.

“Dit was die laaste keer dat jy my soos ’n sleg hond wegjaag. Ek het genoeg gehad van jou tantrums.

“My voete sit ek nooit weer naby jou nie. Jy is net so goed soos dood vir my.”

Toe draai hy om en stap uit die kamer.

Catharina volg hom oomblikke later en kom op die stoep tot stilstand. Hy het reeds die motor aangeskakel en gee haar ’n vernietigende kyk voordat hy met skreeuende bande wegtrek.

Teen dié tyd is die hele buurt wakker. Die gesette tant Lenie van oorkant die straat kom waggelend aangedraf.

Oom Frits van langsaan met sy jong vrou, Stella, bars byna gelyktydige deur die voorhek. Die groen krullers in tant Lenie se hare is met ’n aaklige geel doek bedek.

As dit nie vir die voorval was nie, sou sy die toneel uiters lagwekkend vind. Haar bene raak skielik hewig aan die bewe. Oom Frits is eerste by haar en kry haar aan die arm beet.

“My kind, jy is behoorlik aan die bewe. Stella, gaan jy solank vooruit en maak vir die meisiekind suikerwater aan. Ek wonder watter swernoot jaag jou so vroeg die skrik op die lyf.

“Ons het die oproerigheid gehoor. Toe ek by die venster uitloer, toe sien ek die bliksem oor Lenie se heining verdwyn.

“Dalk kon Kevin ’n goeie beskrywing kry?”

Catharina se tande klap nou onophoudelik teen mekaar. Tant Lenie het haar by hulle aangesluit en kry haar ferm aan die ander arm beet.

“My magtig, Frits, vir wat talm jy so? Laat die kind op die rusbank gaan sit.

“Catharina, is jy okay, hartjie?”

Catharina staar soos ’n zombie voor haar uit.

“Stella, waar draai jy?” gil oom Frits in die gang af. Kort voor lank verskyn die stillerige Stella met ’n wit koppie in haar hand en dwing die water tussen Catharina se stywe lippe deur. Dit neem ’n paar sekondes voordat Catharina se oë op die drie fokus.

“Sersant Meissenheimer is op pad, kind. Ek het hom ’n luitjie gegee,” sê tant Lenie trots.

Sy verwag seker ook ’n medalje ná die tyd, dink Catharina oorstuur.

Francois Meissenheimer is die laaste mens vir wie sy nou krag het. Daar heers ’n vete tussen haar familie en die Meissenheimers oor De Heide Primêr.

Vanuit toeka se dae was dit tradisie dat ’n Meissenheimer die posisie as hoof beklee. Totdat haar pa die hoof geword het ná ’n binnegeveg in die departement. En in daardie tyd het Francois haar kêrel geword.

Hulle verhouding kon egter later nie meer die mas opkom nie. Daar was te veel inmenging van albei ouerpare se kant. Hulle was albei boonop bloedjonk.

Francois se ma, Fienie, het gesorg dat die kalwerliefde vinnig verdwyn. Sy het stories oor hom en die hoofmeisie, Magriet, versprei.

Catharina het die verhouding beëindig en Francois nooit ’n kans gegee om sy kant te stel nie. Jare later sou sy uitvind dit was ’n leuen.

Hy het teen sy ouers se wense by die polisie aangesluit.

Sedertdien het hulle nie juis ooghare vir mekaar nie. Die paar keer dat sy wel met hom te doen gekry het, het hulle gewoonlik gestry.

“Dit was nie nodig nie, tant Lenie. Ek weet in elk geval nie wie die persoon is wat die klip deur die venster gegooi het nie,” probeer Catharina haar uit ’n ontmoeting met Francois wurm.

“Hoe bedoel jy nou kind?” laat oom Frits van hom hoor.

“Daardie klip is evidence. Francois sal gou agter die kap van die byl kom.

“Hy is mos die wet hier in Kronendal. Niemand kom by hom verby nie.”

Catharina kners op haar tande. Die heldeverering in die drie se oë is om van siek te word. Sy wens Kevin was hier. Haar gedagtes stol.

Arme Kevin het nie die woorde verdien wat sy hom toegesnou het nie. Sy woorde was egter nog kouer.

Daar was ook ’n finaliteit in sy stem wat haar die idee gee dinge tussen hulle is nou finaal verby.

Dis eers toe die trane op haar hand drup dat sy besef sy huil.

“Ai, kindjie, huil maar,” sê Tant Lenie.

Die snikke skeur deur haar lyf.

Sy huil oor haar pa wat nie meer daar is om haar te beskerm nie.

Sy huil oor Kevin wat sy rug op haar gekeer het. Sy huil oor Joan wat nie ’n duit omgee of sy lewe of sterf nie.

“Môre, oom Frits, tant Lenie, Stella. Kan ek ’n oomblik alleen met Catharina kry, asseblief?”

Francois se diep stem laat die rillings teen haar rug afloop.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters